Instandhouding van SA infrastruktuur moet beter – Ramaphosa

Die Darvill-afvalwatersuiweringsaanleg buite Pietermaritzburg. (Foto: Umgeni Water)

“Ons het goeie gehalte infrastruktuur, maar in veels te veel gevalle word dit nie behoorlik in stand gehou of opgegradeer nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê Suid-Afrika het infrastruktuur van “wêreldgehalte” wat bloot benut moet word om die land se ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

Om ontwikkeling te laat plaasvind sal infrastruktuur egter behoorlik en doeltreffend onderhou moet word.

“Hoewel baie dele van die land steeds swak dienslewering ondervind, het Suid-Afrika ʼn goeie kernnetwerk van openbare infrastruktuur wat die lewe van ons burgers kan verbeter,” sê Ramaphosa.

Volgens die president word die land deurgaans hoog op indekse geplaas wat die status van vervoer-, elektrisiteit-, water- en sanitasie-infrastruktuur evalueer.

“Suid-Afrika is in die topvyf lande in Afrika met die beste openbare infrastruktuur.”

Dít volgens die jongste peiling van die Afrika-ontwikkelingsbank.

Infrastruktuur ‘onder druk’

Volgens Ramaphosa faal die bestaande infrastruktuur egter omdat dit probeer byhou met ʼn groter vraag as waarvoor dit oorspronklik ontwerp is. Dit lei tot onklaarrakings wat noodlottig kan wees.

“Ons sien steeds die nadelige uitwerking wanneer openbare infrastruktuur nie in stand gehou word nie. Ons sien hoe ongelukke, uitbrekings en ander tragedies weens vervalle infrastruktuur plaasvind,” sê hy.

Verlede jaar het die Suid-Afrikaanse Instituut van Siviele Ingenieurs die land se maatskaplike infrastruktuur ʼn D-gradering gee. ʼn E-gradering is wanneer die infrastruktuur geheel en al vervalle is en die passasierspoorlyn is juis dié gradering gegee.

Ramaphosa sê daar is wel hoop om die land se infrastruktuur weer reg te ruk.

Hy het verlede week besoek afgelê by die Vulindlela-watervoorsieningskema in KwaZulu-Natal wat grotendeels water aan die uMgungundlovu- en Umsunduzi-munisipaliteit verskaf.

Toe die skema 25 jaar gelede op die been gebring is, het dit slegs 100 000 mense bedien. Nou bedien dit byna drie keer soveel mense en dit het erge druk op die infrastruktuur geplaas.

ʼn Nuwe fase opgraderings sal eersdaags by die skema begin en moet verseker dat sowat 350 000 inwoners skoon water ontvang.

Die Darvill-afvalwatersuiweringsaanleg buite Pietermaritzburg is ook opgeknap en sal nou tot 100 miljoen liter water per dag kan behandel om huishoudings, sakeondernemings en nywerhede in dié munisipaliteit te bedien.

Fout lê by munisipaliteite

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die verantwoordelikheid om openbare infrastruktuur in stand te hou berus by plaaslike regerings, maar volgens Ramaphosa versuim baie van die munisipaliteite steeds om die toelaes te gebruik wat aan hulle toegewys is om infrastruktuur in stand te hou en op te gradeer.

Die nasionale tesourie het onlangs gesê net meer as die helfte van die munisipale infrastruktuurtoelaes wat toegewys, word deur munisipaliteite bestee.

ʼn Deel van die probleem is egter dat munisipaliteite, veral kleiner plaaslike owerhede, nie genoeg inwerkingstellingskapasiteit het nie en dus nie die volle toelae behoorlik benut nie. Ramaphosa sê dié munisipaliteite wat nie hul toelaes gebruik nie, moet voor stok gekry word.

Daar is wel munisipaliteite wat hul toelaes reg en betyds bestee. Altesame 91% van die geld wat aan munisipaliteite in die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal toegewys is ná die onlangse oorstromings is reeds deur die onderskeie munisipaliteite bestee om infrastruktuur te help herbou.

“Dit is ʼn bewys dat munisipaliteite die probleem met onderbesteding aan infrastruktuur met die nodige ondersteuning, tegniese bystand, beplanning en koördinering te bowe kan kom,” sê Ramaphosa.

Die departement van samewerkende regering, asook die nasionale tesourie, het reeds saam met die nasionale en provinsiale regerings onderneem om munisipaliteite te ondersteun om hul begrotings doeltreffend te gebruik en “hul verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrikaners na te kom”.

“Die regering gaan ook voort om infrastruktuur landwyd te prioritiseer,” sê Ramaphosa.

“Konstruksie is reeds by verskeie grootmaatwater-, behuising-, energie- en padprojekte aan die gang. Saam met beter instandhouding van infrastruktuur is ons vasbeslote dat hierdie beleggings ʼn groot verskil in mense se lewe sal maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Maak nie sin om aan iets te werk wat nog nie stukkend is nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ervare kundigheid ontbreek. Die oues tree af en die jonges is lankal landuit.

miche ·

Hul kan dalk eerder begin om sekere Parlements-lede ” op te gradeer”.

Chris dupreez ·

Dit help nie om dit te begin doen as dit klaar stukkend is nie, dit is iets wat mens doen om dit te voorkom . Maar ai.

JohanR ·

Al weer ‘n Maandag blah blah blah deur onse uit voeling president. Begin by jouself en die ANC om reg te maak Cyril.

marius ·

Julle kan nie want julle wil nie en sal ooit nooit nie. Dis die waarheid.

Pieter ·

Die wat wil is weg en nie goed genoeg. die wat nou moet, wil nie en kan nie… die houdings is groot om te werk

Sê maar net ·

R…skrik jy nou eers wakker? Praat, praat, praat…maar niks word gedoen nie! Jy kan maar ophou om ons te probeer paai vir 2024 verkiesing. Suid- Afrikaners is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie! Put your money where your mouth is.
So keelvol vir die regering!

Mieke ·

Ek dink CR moet maar huistoe gaan… Hy benadeel alles en stel nie daarin belang om SA op te bou nie.

Lyon ·

Julle enigste sukses storie so ver is Pit-toilets. Baie geluk – normale persepsie van SA sal selfs n klip laat besef daar is n oorheersende faktor van onbevoegdheid en arrogansie wat als vernietig.

annie ·

Cyril kan gerus ons president in die hande probeer kry ná sy slim bevinding en hom asseblief verwittig. Dalk kan sy hom daarop wys dat infrastruktuur gereeld onderhoud benodig. Hy kan gerus na Eskom verwys en vir die president vertel van al die probleme wat ons ondervind omdat dit so afgeskeep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.