Invloedryke senator wil Agoa verleng; SA deelname hersien

Albert Muchanga, kommissaris van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (bekend as Agoa) op die eerste dag van die beraad in Johannesburg. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

ʼn Invloedryke senator in die VSA het in ʼn konsepbesprekingsdokument oor die Agoa-ooreenkoms se hernuwingswetsontwerp voorgestel dat dit vir 16 jaar hernu word. ʼn Voorvereiste is egter dat Suid-Afrika se deelname daaraan dadelik hersien word.

Die Agoa-forum is verlede week in Johannesburg gehou, met die meeste van die gesprekke wat gewentel het om die vraag of Agoa hernu moet word wanneer dit in 2025 verstryk, vir hoe lank en of van die bepalings gewysig moet word.

Luidens die besprekingsdokument wat deur senator Chris Coons saamgestel is, sal die nuwe wetgewing rakende Agoa toelaat dat lande se deelname slegs elke drie jaar hersien word. Die Amerikaanse president behou steeds die reg voor om enige tyd die geskiktheid van lande se deelname te hersien.

Die wetsontwerp vereis dat ʼn “onmiddellike hersiening van Suid-Afrika [se deelname] onderneem [word]”.

Sou Coons se Agoa-hernuwingswet van 2023 aanvaar word, is die hersiening van Suid-Afrika se deelname aan Agoa “verpligtend” en moet dit binne 30 dae ná die aanvaarding van die wysigingswetsontwerp gedoen word.

“Agoa het vir langer as 20 jaar waardevolle geleenthede vir Amerikaanse ondernemings, werkers en verbruikers geskep terwyl dit volhoubare ekonomiese groei in Afrika-lande suid van die Sahara ondersteun het,” het Coons gesê.

“My Agoa-hernuwingswet sal hierdie program uitbrei en beleggings aanmoedig wat werk sal skep, ekonomiese ontwikkeling sal versterk en ons [die VSA se] aansien op die Afrika-vasteland versterk.”

Indien die Agoa-hernuwingswet aanvaar word, sal die ooreenkoms tot 2041 van krag wees.

“Hierdie langtermynhernuwing sal ondernemings die voorspelbaarheid gee wat nodig is om op die Afrika-vasteland te belê in ʼn tyd wanneer baie ondernemings hul voorsieningskettings wil diversifiseer en afhanklikheid van China verminder,” het hy gesê.

Tans kom 35 lande in aanmerking vir insluiting in die Agoa-ooreenkoms.

“Geskiktheid hang af van gunstige jaarlikse oorsigte van ʼn land se handels- en beleggingsbeleid, bestuur, werkersregte, menseregte en ander voorwaardes,” het Coons gesê.

Coons en ander senators het onlangs Suid-Afrika se geskiktheid vir Agoa bevraagteken oor sy bande met Rusland, wat volgens die VSA sy eie nasionale veiligheid en buitelandse beleidsbelang bedreig.

Meer onlangs was daar kommer oor Suid-Afrika se verbintenis met die terreurgroep Hamas.

Min. Naledi Pandor het kort ná die aanval op Israel op 7 Oktober vir Ismail Haniyeh, leier van Hamas, gebel. Die oproep het glo gegaan oor hoe Suid-Afrika humanitêre hulp na Palestina kan stuur.

Hoewel Pandor nié haar steun aan Hamas toegesê het nie, het die regering sy ondersteuning aan Palestina te kenne gegee.

Die VSA het verlede week aangekondig dat hy die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Gaboen, Niger en Uganda uit die Agoa-handelsooreenkoms skop te midde van kommer oor staatsgrepe, demokrasie en menseregtevergrype in die onderskeie lande.

Suid-Afrika is steeds op die lys van lande wat baat by die Agoa-ooreenkoms, ondanks die Amerikaanse kongres se kommer.

Die onlangse Agoa-beraad het afgesluit met geen duidelikheid daaroor of die ooreenkoms verleng gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tweeling ·

Ek is bly dat die hersiening gedoen. Hierdie SA regering dink die wêreld skuld hulle iets omdat hulle sogenaamde onderdruktes bevry het. Wat egter die waarheid is is sat hulle die mense wat hulke sogenaamd bevry het nou versaak in hulle ideologie. Amerika doen SA ‘n guns met belasting verligting van invoer dit is nie andersom nie. Die arrogansie van die kaders hou maar net nie op nie.

Jaco ·

Indien SA AGOA gaan verlaat, hoop ek ramaphosa gebruik AGOA om nog net 1 ding te doen:
President Biden en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi mooi oop “human rights” georiënteerde oop immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan binne die raamwerk van AGOA al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

Goldy ·

Dis ideale geleentheid vir weskaap om onafhanklikheidssteun te werf sodat as die mense stem daarvoor, en meer as 70 persent wil, dan kan hulle met sekerheid handel dryf en amerika kan weet hulle het darm nog een betroubare bondgenoot oor. Maar nee, die DA wil nie die referendum he nie en dis waaromalle respek vir hulle verlore is. Die EFF gaan hulle opposisieplek inneem en dan het die DA en ons almal als verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.