Inwoners brand zama-zamas se besittings

Inwoners het Maandag die strate ingevaar. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Inwoners van ʼn township wes van Johannesburg het Maandag die strate ingevaar en huise waar onwettige mynwerkers glo woonagtig is, vernietig.

Die jongste aanval op onwettige mynwerkers kom nadat agt vroue skaars ʼn week gelede in Krugersdorp aangeval, verkrag en beroof is. ʼn Groep zama-zamas was glo by dié voorval betrokke.

Meer as 300 mense het Maandag in die myndorp Mohlakeng byeengekom. Sowat 50 van hulle, gewapen met kapmesse en hamers, het die wonings van die onwettige myners binnegegaan en matrasse, matte, stoele en klerekaste uitgegooi en aan die brand gesteek.

Die oproerige inwoners het ʼn ou protesliedjie gesing wat lui “bring die brandweer uit, dit brand hier” terwyl sommige alkohol gedrink het, berig AFP‑joernaliste.

Die polisie is later die middag ontbied om gemoedere te kalmeer. Die inwoners het ná samesprekings met wetstoepassers bedaar.

Genl.maj. Fred Kekana, distrikpolisiekommissaris aan die Wes-Rand, het Maandag aan eNCA bevestig dat 28 ongedokumenteerde persone daardie selfde dag in Randfontein, digby Mohlakeng, in hegtenis geneem is.

Gemoedere is kalmeer ná samesprekings tussen die polisie en die gemeenskap. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die polisie het die afgelope week op verskeie onwettige mynbedrywighede toegeslaan en tientalle verdagtes wat hiermee verbind word, in hegtenis geneem.

Een persoon is reeds verlede week in Krugersdorp dood nadat inwoners van Kagiso koppe gestamp het met onwettige myners en buitelanders in die gebied. Duisende inwoners het chaos in die dorp veroorsaak toe hulle buitelanders die strate afgejaag het.

Inwoners aan die Wes-Rand het intussen versoek dat die weermag na die gebied ontplooi word sodat onwettige mynbedrywighede eens en vir altyd hok geslaan word.

Dié versoek sal glo oorweeg word as of wanneer die behoefte ontstaan, het Bheki Cele, minister van polisie, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

Anargie tuis in die land en die boendoe regters gaan hulle hande vol he. Hulle werk sonder betaling maar soek oplossings. Geen selle is beskikbaar vir die zamas nie.

Maritza ·

Ek blameer nie die inwoners nie. As die polisie nie ons vroue wil beskerm nie dan sal die publiek eie gereg in hande neem.

Waarnemer ·

Gee vir daardie inwoners elkeen n medalje…hulle doen die SAPD se werk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.