Inwoners verwyder in afwagting op Vaal-vloedwater

Dié foto is op 9 Januarie op Plek vanni Visarend in Bloemhof se Facebook-blad gedeel. Dié lodge en restaurant is langs die Vaalrivier by Die Hoek geleë. (Foto: Deur Buks Crawford geplaas)

Sowat 63 huise wat langs die Vaalrivier by Die Hoek in Bloemhof, Noordwes, geleë is, is tussen Maandag en Dinsdag as ʼn voorsorgmaatreël ontruim in afwagting op moontlike oorstromings.

Dít volg nadat sluise by die Vaaldam oopgemaak is en nou ʼn verhoogde risiko vir oorstromings in dié gebied inhou.

Intussen het die regering ook gebeurlikheidsplanne in verskeie provinsies ingestel waar oorstromings reeds grootskaalse verwoesting aangerig het. Maroela Media het vroeër berig dat meer as 40 mense reeds die afgelope ruk weens oorstromings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap dood is, terwyl talle ander mense dakloos gelaat is. Daar is ook enorme skade aan infrastruktuur aangerig.

Sias Meyer, eienaar van Plek vanni Visarend, ʼn lodge en restaurant in Bloemhof, sê die ontruiming van huise langs die Vaalrivier raak sowat 25 mense net op sy perseel, onder wie werkers en familielede.

Onlangse oorstromings in Ladysmith, KwaZulu-Natal. (Foto: Mahandra Sukhnandan/Facebook)

“Die huise hier vorm die hartklop van Bloemhof se gasvryheidsbedryf. Benewens die eienaars word sowat 150 werkers deur die ontruiming geraak.

“Mense het nou maar elders in die dorp verblyf gesoek, maar moes tot by Schweizer-Reneke gaan soek aangesien blyplek in Bloemhof self vol is.”

Meyer sê daar is nie in dié stadium baie skade aan eiendom aangerig nie, maar dat rivierhuiseienaars nie weet wat tussen vandag en môre gaan gebeur en hoeveel water nog deur die sluise vrygelaat gaan word nie.

“Ons is almal deel van verskeie WhatsApp-groepe en word deur die departement van waterwese op die hoogte gehou.

“Daar was in 2010 en 2011 ook soortgelyke oorstromings. Dit was so erg dat net die dak van ons huis uitgesteek het,” het Meyer gesê.

Video’s van oorstroomde gebiede in Ladysmith, KwaZulu-Natal, is intussen op sosiale media gedeel.

Die laer gebiede van Ladysmith se middedorp het oorstroom nadat die walle van die Kliprivierdam Sondagaand gebars het.

Op sommige plekke is die water so hoog dat byna net die dakke van geboue en huise uitsteek. Die plaaslike Ladysmith Herald het video’s op YouTube geplaas waar gesien kan word hoe reddingswerkers met rubberbootjies deur die strate beweeg om inwoners te help.

Op een video kan gesien word hoe ʼn vrou en ʼn huilende baba uit ʼn erg oorstroomde huis begelei en in ʼn reddingsboot gelaai word. The Witness in KwaZulu-Natal berig dat 35 mense teen Maandagoggend uit dié gebied verwyder is.

“Wees waaksaam”

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat alle strukture en reaksieplanne nou in oorleg met nasionale, provinsiale en munisipale rampbestuursentrums en ander belanghebbendes in werking gestel is. Dit word ook in ooreenstemming met die 2021-’2022-somerseisoen-gebeurlikheidsplanne op nasionale en provinsiale vlakke gedoen.

“Rampbestuurspanne is na verskeie dele van die land gestuur en werk die hele dag om gemeenskappe by te staan.

“Ons sal saam met alle belanghebbendes werk om gemeenskappe by te staan wat deur die huidige reën geraak word. Relevante owerhede sal die situasie beoordeel en die nodige ondersteuning aan die betrokke gemeenskappe verskaf,” het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van dié departement, gesê.

Oostromings in die Oos-Kaap vroeër vandeesmaand. (Foto: Buffalo City-metro)

Die regering doen verder ʼn beroep op gemeenskappe om waaksaam te wees en nie wonings in laagliggende gebiede of gebiede wat ʼn risiko vir oorstromings inhou, op te rig nie. Dié wat wel in laagliggende gebiede woon, word versoek om hulle op hoër gebiede te vestig.

Inwoners word versoek om na waarskuwings deur die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) te luister, asook die media dop te hou.

“Waar moontlik moet inwoners binnenshuis bly wanneer reënbuie uitsak en dit vermy om in oorstroomde gebiede te loop. Inwoners moet dit ook vermy om oorstroomde riviere en strome oor te steek of daarin te swem of oorstroomde brûe en paaie oor te steek,” het die departement in ʼn verklaring gewaarsku.

Enigiemand wat noodbystand verlang of noodgevalle wil aanmeld, kan die nasionale noodoproepsentrum by 112 nader.

“Ons betuig ons meegevoel met diegene wat geliefdes weens die huidige stortreën verloor het. Ons deel ook in die pyn van diegene wat eiendom verloor het.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

knolle ·

Ek vra uit onkunde maar is die gastehuis en res langs die Vaal rivier dan op die vloed lyn gebou?

Vonnie ·

die babatjie word met soveel deernis hanteer. dis wonderlik om te sien hoe mense saamstaan in die tye

tweeling ·

Die walle van die kliprivierdam het nie gebars nie, die rivier het sy walle oorstroom.

Kobus ·

Dis ‘n swak vertaling – the river burst its banks. Ai toggie.

SjN ·

Kon daar nie invloei gemonitor word oor verskillende gebiede en die sluise vroeer oopgemaak word om die stroom te beheer nie?

Pablo ·

En die belasting betalers moet vir alles op dop. Mense maak net kinders ongeag of daar enige werk vir hulle voorentoe gaan wees.

Colombo ·

Ek hoop nie die belastingbetalers betaal vir die dop (drank) nie en dok ook nie op nie.

Andries ·

Jip, bou jul huise onder die 50 jaar vloedlyn. Dit is mos vir ander mense bedoel wat die wet gehoorsaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.