Jaar ná Meghan Cremer-moord: ‘So sal ek haar onthou’

Meghan Cremer (Foto: Verskaf)

“Dit het weke [ná haar dood] geneem voordat ek eindelik ophou soek het na haar.”

Só het ʼn vriendin van Meghan Cremer vandeesweek aan Maroela Media vertel een jaar ná die gruwelike moord op Cremer, ʼn kranige perderuiter en bakkerybestuurder van Philippi in die Wes-Kaap.

Cremer (29) is op 3 Augustus 2019 in haar kothuis op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas waar sy gewoon het, aangerand en verwurg, waarna haar liggaam in die bagasieruim van haar wit Toyota Auris gelaai en by ’n sandmyn in Philippi gestort is.

Lize Hartley (31) het nou besluit om ter nagedagtenis van haar geliefde vriendin fondse in te samel vir jong vroue wat ook slagoffers van geslagsgebaseerde geweld is.

Hartley poog om R60 000 gedurende Vrouemaand (Augustus) vir die menseregteorganisasie Justice Desk in te samel. Dié fondse sal deur die organisasie se Mbokodo Klub gebruik word om 30 jong vroue te bemagtig deur middel van ʼn jaar lange program wat fokus op bemagtiging van vroue, leierskap en selfverdediging.

Hartley vertel dat sy nog altyd betrokke was in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. “Maar wanneer só iets naby aan jou gebeur, wil jy net harder daarvoor baklei.

“Dit is pynlik om oor geslagsgebaseerde geweld te praat, maar dit is belangrik dat ons dit by elke geleentheid doen en aanhou veg. As ek die lewe van een vrou kan verbeter en iemand kan help om die pyn wat ons almal ervaar het toe ons Meghan verloor het te voorkom, sal dit genoeg wees.

“Daar is ’n ma, dogter, suster en vriend agter elke statistiek.”

Lize Hartley en Meghan Cremer (Foto: Verskaf)

Hartley en Cremer was sedert 2016 goeie vriendinne aangesien hulle albei perdgery het en byna dieselfde ouderdom was. Hul perdestalle was ook reg langs mekaar op die perdeplaas waar Meghan gewoon het en só het ’n band tussen die twee ontwikkel.

“Sy was baie snaaks. Sarkasties met ’n droë sin vir humor. Sy het ook altyd iets saamgebring om te eet en ons vet gevoer. ’n Mens onthou die klein dingetjies,” verduidelik sy.

Volgens Hartley maak die manier waarop Cremer dood is, asook die aandag van die media ná die voorval, dit veral moeilik om die verlies van haar vriendin te verwerk. “Dit is só moeilik, want dit is anders as ’n siekte of ’n motorongeluk. Nie dat dít maklik is nie, maar die manier [waarop Meghan dood is] is só sinneloos en geweldadig. Jy kán dit nie verstaan nie.”

Hartley verduidelik dat sy gereeld saam met verskeie ander buite die hof betoog wanneer die verdagtes in Cremer se moord in die hof verskyn.

“ʼn Hof is só klinies. Jy wil net opstaan en sê ‘Ek kort meer. Hierdie lewe is soveel meer werd as papierwerk’.

“Dit is ook baie moeilik om daardie mans te sien,” erken sy.

Maroela Media het vroeër berig Jeremy Sias is tans die enigste verdagte in die moord. Hy was ʼn werknemer op die plaas waar Cremer ten tyde van haar moord gewoon het.

Die saak teen Sias is onlangs na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas. Hy staan nou tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en dwarsboming van die gereg.

Polisiebeamptes tydens die soektog na Cremer. Foto: Tracey Adams/African News Agency (ANA)

Volgens die staat het Sias vir Cremer die betrokke dag in Augustus verlede jaar ná 17:00 in haar kothuis met ’n blou lint verwurg, waarna hy met haar in die bagasieruim van haar motor rondgery het op soek na ’n plek om haar liggaam te stort. Cremer se liggaam is dae later met die blou lint om haar nek aangetref.

Die staat voer verder aan dat Sias bankkaarte, selfone, ’n iPhone en ’n handsak by Cremer gesteel en oor die volgende twee dae kontant uit haar bankrekening onttrek het. Hy het ook Charles Daniels se hulp ingespan om die oorledene se motor te verkoop.

Luidens die opsomming het Daniels die motor se nommerplate verwyder, waarna hy Shiraaz Jaftha gebruik het om ’n potensiële koper vir die motor te vind. Die motor is toe aan ’n potensiële koper gewys, hoewel hulle nie die registrasiedokumente vir die motor kon toon nie.

Daniels en Jaftha is kort daarna in besit van die motor in verband met die moord in hegtenis geneem. Albei se sake is intussen van dié van Sias geskei en hulle staan nou tereg op aanklag van motordiefstal. Dié saak sal voortaan in die streekhof aangehoor word.

Klik hier om ʼn bydrae tot Hartley se projek te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Al wat ek kan se aan meisies en vroue in Suid Afrika moenie “nice” wees nie. Dink altyd of daai man die potentiaal het om jou seer, of dood te maak. As Uyinene Mrwetyana daai dag ‘n vriend saam gevat het na Claremont Poskantoor sou sy moontlik vandag nog gelewe het. Ek weet is nie altyd moontlik om iemand ander saam te vat, of twee te wees as jy iewers moet gaan of wees nie. Maar weereens dit is die ANC Suid Afrika waar die doodstraf nie meer onstaan nie, en misdaad is lekker! Uyinene Mrwetyana se moordenaar en vergragter sal na 25 jaar in aansoek kom vir parool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.