Jaco Swart vlug uit SA met vriend se paspoort

Jaco Swart (Foto: Facebook)

Die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart moes vandag in die hof verskyn het vir die beweerde aanranding van ʼn polisievrou. Hy was egter nie in die hof nie en bevind homself volgens ʼn betroubare bron in die Verenigde Koninkryk (VK), waar hy tans onwettig werk.

Dit het Maandag in die landdroshof in Kuilsrivier, Wes-Kaap, aan die lig gekom dat Swart ʼn vriend se paspoort gebruik het om Suid-Afrika deur die Lebombo-grenspos te verlaat voordat hy sy weg na die VK gevind het.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat die polisievrou in die saak verteenwoordig, het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, ’n aansoek gebring om die saak in Swart se afwesigheid uit te stel of alternatiewelik dat ʼn lasbrief vir Swart se inhegtenisneming uitgereik word omdat hy uit die land gevlug het.

“Nel het ao. Riaan Booysen geroep om aan die hof te verduidelik waarom ʼn dagvaarding nie op Swart beteken kon word nie. Booysen is die ondersoekbeampte in ʼn onverwante saak van bedrog teen Swart,” sê Bateman.

“Tydens die ondersoek het hy [Booysen] vasgestel dat Swart ʼn vriend se paspoort gebruik het om Suid-Afrika deur die Lebombo-grenspos te verlaat voordat hy sy weg na die VK gevind het.”

Booysen het aan die hof vertel dat hy met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) konsulteer het oor die moontlikheid om Swart uit te lewer, maar daar is vir hom gesê dat dit te moeilik gaan wees om te doen want dit kom neer op “te veel papierwerk”.

Nel het in die hof aangevoer dat “dit nie net ʼn duidelike voorbeeld van pligsversuim deur die NVG is nie, maar die klaer word hierin skandelik in die steek gelaat”.

“Hierdie mislukking van die NVG belas nou die burgerlike samelewing en private aanklaers met die plig om te verseker dat geregtigheid geskied, en dat skuldige mense nie vervolging kan vryspring net omdat dit te omslagtig is om hul bywoning in die hof te verseker nie,” het Nel gesê.

Volgens Nel is die versekering van ʼn uitlewering nie buite die NVG se vermoë nie. Hy het verwys na die onlangse Thabo Bester-aangeleentheid waarin senior regeringsamptenare en politici na die buiteland gereis het om die beskuldigde na die land terug te bring.

“Die enigste verskil tussen die twee sake is dat die Swart-aangeleentheid nie dieselfde media-aandag as die Bester-aangeleentheid gekry het nie.”

Die saak is tot volgende Maandag uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig die beweerde aanranding het op 13 Januarie verlede jaar in Brackenfell, Wes-Kaap, plaasgevind.

Die polisievrou se buurvrou het haar die oggend geroep om te kom help toe Swart die veiligheidshek gesluit en die buurvrou gekeer het om haar woonstel te verlaat. Swart was na bewering dronk ná ʼn aand uit en het geweier het om haar woonstel te verlaat.

Die slagoffer het haar hand deur die veiligheidshek gedruk en Swart aangesê om nie die deur toe te maak nie. Ten spyte hiervan en met die wete dat sy ʼn polisiebeampte is, het hy na bewering geweld gebruik en haar arm in die deur toegeslaan en ʼn sening beskadig.

Die slagoffer het polisiebystand ontbied en Swart het die eiendom verlaat. Sy het daarna ʼn strafregtelike klag teen Swart by die Brackenfell-polisiestasie aanhangig gemaak.

Swart het in Junie verlede jaar skuldig gepleit op die aanranding van sy vrou, Nicoleen Swart. Die streekshof in Pretoria-Noord het hom ʼn boete van R20 000 opgelê, asook drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Sommige van die aanrandings op Nicoleen is op video vasgevang, asook ʼn voorval waarin Swart een van sy werknemers, Edwin Strydom, klaarblyklik uit die bloute in sy motorhandelonderneming in Gezina se kantoor aanval terwyl hy op sy rekenaar besig is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

marius ·

Daar is sekerlik ‘n ry Afrikaners wat hom daar sal will ontmoet . In die donkerte.

SwartBees ·

Hy het almal hier ontglip, hoe gaan hulle hom bymekaar maak in die VK?

groenboer ·

Ek wonder nogal, hoewel dit dalk nie te moeilik is om op dié manier uit SA te kom nie. Maar hoe “vind hy toe sy weg” na Brittanje? Met ‘n paspoort wat nie syne is nie? Dalk is die Britse doeane nie te skerp nie…

HPJ ·

Ai die onkunde Dit is privaat vervolging nie staats vervolging nie So daar rus geen regsplig op die staat om aansoek vir uitleweri g te doen nie Verder die land waar hy is hoef hom nie uitelewer op grond van dat dit privaat vervolging is nie Laat daai land hom deporteer as hy onwettig daar is Dit gaan ook interssant wees om te sien of die Landdros wel n lasbrief vir privaat vervolging gaan uitreik DAAR WAS NOG NOOIT IN SA GESKIEDENIS N PRIVAAT VERVOLGING WAT SUKSESVOL WAS NIE

Jackie ·

HPJ: As jy van mening is dat jy beter gekwalifiseer is as Gerrie Nel, bied dan jou dienste aan om hom te help. Die gebruik van die punktuasiestelsel dui nogal daarop dat die skrywer ander lesers in ag neem, veral ouer persone, wat dit moeilik vind om die jonger geslag se IT manier van skryf te volg.
Groete van ‘n ‘ouer’ geslag.

ES ·

Stem glad nie saam met jou stelling dat daar nog nooit in SA geskiedenis privaat vervolging is wat suksesvol was nie. Gerrie Nel alleen het ‘n ry sake wat suksesvol privaat vervolg was en nogsteeds word.

Ek kan gou, as regsgeleerde, vir jou tientalle sake van SAFLII en Lexis aftrek van private vervoling wat susksesvol in die hof gedaag was.

As jy ‘n stelling maak moet jy jou bewyse kan lewer.

Juanita ·

Kan nie wag dat Mnr. Arrogansie vas getrek word nie. Hy dink hy is “untouchable”

Pieter ·

Met Mnr Nel aan die bestuur van sake is jou vrye tyd naby aan klaar jy gaan dit so geniet in die tronk want jy Kan mos appels swaai lekker man

George ·

al kry hulle hom terug, gaan hy hof toe gaan, weer, en weer net n R15 000 boete kry en vrygelaat word.

FJ ·

Ja, maar hy het ‘n opgeskorte vonnis. Dis daar waar die weghardloop vandaan kom.

Thelsa ·

Sal die Immigrasiebeampte wat hom onwettig deurgelaat het, ook nou vervolg word? Wha-ha-ha ????

Feather ·

Die vriend moet beslis toegesluit word. Hoe op dees aarde het hy gedink, is dit ‘n goeie plan om die sleg mens te help om weg te kom???!!!

Misky ·

Hy gaan nie die res van sy lewe kan hardloop of oor sy skouer loer nie. Sy tyd loop uit, stadig maar seker.

Niklaas ·

Ek sluk swaar aan hierdie storie dat hy die land verlaat het na die Britse eilande. Ek dink hy is steeds hier rond , maar lê net laag.

JohanR ·

Gemors en lafaard. Hoop ‘n paar Afrikaaner kry hom beet waar hy na toe gevlug het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.