‘Jagersfontein kon ramp vryspring’

(Foto: Verskaf)

Dit is maar ’n week sedert die wal van ’n slikdam in Jagersfontein in die Vrystaat gebars het en daar kan in dié stadium bloot bespiegel word oor wat presies fout gegaan het. Kenners meen egter hulle hoef nie op die uitslag van ’n ondersoek te wag om met oortuiging te kan sê dat dié ramp verhoed kon gewees het nie.

“Ek is oortuig daarvan. Daar was vooraf gewaarsku. Daar was duidelike tekens. Daar was staatsbetrokkenheid. Die dam was na bewering maande lank gesluit en toe weer heropen. Iemand het duidelik nie hul werk behoorlik gedoen nie,” sê Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van strategie en volhoubaarheid by Solidariteit.

Die slikdam het jare lank gestaan en mynbedrywighede op Jagersfontein was dormant voordat Jagersfontein Developments bedrywighede hervat het.

Mardon het vandeesweek aan Maroela Media gesê daar is nou sprake daarvan dat die damwal oor die jare verswak het en na bewering na buite begin uitsit het. Mynaktiwiteite is toe in ’n stadium vir tot ses maande gestaak om dié wal te versterk.

Dit word beweer dat die regering betrokke was by die versterking van die damwal voordat die mynbedrywighede onlangs hervat is.

Toe breek die damwal en oorspoel die inwoners van Jagersfontein met slik en die departement van minerale hulpbronne was nou sy hande daarin.

Mardon vermoed daar is moontlik nie ’n behoorlike risiko-ontleding gedoen nie. Jagersfontein Developments hou egter vol die dam se infrastruktuur was onderwerp aan gereelde instandhouding en nakomingskontrole.

“Daar is geen rede dat die damwal hoef te gebreek het nie,” sê Mardon. “Ingenieurs kan bepaal hoe diep die dam is, hoe sterk die damwal is en wat die invloei van water en slik is. Hulle kan bepaal wat nodig is om te keer dat die wal breek. Dit is ’n normale praktyk by alle myne met slikdamme.”

Inwoners het vandeesweek aan Maroela Media gesê hulle het die regering menigmaal gewaarsku oor die gevaar wat die betrokke slikdam inhou. Daar is onder meer daarop gewys dat die dam oorvol was en boonop hoër as die dorp staan.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die ramp laat nou talle vrae oor die rehabilitasie van rustende of uitgewerkte myne ontstaan.

Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê daar is verskeie rehabilitasievereistes waaraan myne moet voldoen wanneer ’n myn toegemaak word. Dit kom wel teen ’n prys.

“Gevolglik word die myn eerder aan ʼn ander maatskappy verkoop en daar is ’n hele klomp institusionele kennis wat in die proses verlore gaan,” waarsku hy.

Boshoff verwys na Februarie 1994 toe die Merriespruit-slikdam in Virginia ook gebreek en groot verwoesting gesaai het.

“Dit is nou amper ʼn geslag later en dit het weer gebeur. ’n Mens kan nou net hoop dat elke myn weer hul slikdamme sal bekyk. Dit behoort eintlik nie meer algemene praktyk te wees nie.”

Op die vraag of Suid-Afrika nog rampe van die aard kan verwag, antwoord Mardon. “Ek dink nie dis onmoontlik nie.

“Baie van jou groot mynmaatskappye doen ontsaglik baie om hul slikdamme veiliger te maak, maar die kleiner myne loop daardie risiko. Ek hoop hierdie rampe laat myne sowel as munisipaliteite en gemeenskappe wat naby slikdamme woon, wakker skrik.”

Wetgewing

(Foto: Verskaf)

Julius Kleynhans, portefeuljedirekteur vir water en omgewingsake by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê die nodige wetgewing om rampe van dié aard te voorkom is beslis in plek, maar dink nie dit word behoorlik toegepas nie.

“Sou die staat as reguleerder jaarliks ordentlike oudits uitvoer, verseker dat opgraderingsprogramme betyds uitgevoer word en daar geen korrupsie plaasvind nie, kan rampe soos dié voorkom word,” glo Kleynhans.

“Maar soos dinge op die oomblik lyk, sal ek nie verbaas wees as ons meer van hierdie gevalle in die toekoms sien nie,” waarsku hy.

WaterCAN, ’n inisiatief van Outa, sê op hul beurt die ramp in Jagersfontein is ’n simptoom van die regering se voortdurende versuim om mynmaatskappye aanspreeklik te hou vir hul optrede voor, tydens en na mynbedrywighede.

“Die gebrek aan toepassing van basiese wette beteken dat myne met moord kan wegkom,” sê dr. Ferrial Adam, bestuurder by WaterCAN.

Departement kan nie hande in onskuld was

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het in die dae ná die ramp gesê ’n hooggeregshofuitspraak van 2007 dui daarop dat slikdamme nie deel van sy departement se verantwoordelikhede uitmaak nie, maar eerder die verantwoordelikheid van die departement van waterwese is.

Die myn se vorige eienaars, De Beers en Ataqua Mining, was by dié hooggeregshofuitspraak, wat Maroela Media onder oë gehad het, betrokke.

Gwede Mantashe (Argieffoto: Werner Beukes/SAPA)

Volgens die minister het sy departement ingevolge die uitspraak geen jurisdiksie om enige inspekteurs na die myn te stuur om die slikdam te inspekteer nie.

Mardon meen egter die minister “misgis homself”. Hy wys daarop dat die uitspraak gelewer is in die konteks van die uitreik van prospekteer‑ en mynregte deur die departement ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA).

Die uitspraak maak egter geen melding van die Wet op Myngesondheid en -veiligheid nie en dié twee wette se definisies van “myn” en “mineraal” verskil van mekaar.

Volgens Mardon is dit dus nie van toepassing op die slikdam by Jagersfontein nie.

“Dit is baie gekunsteld van die minister om nou te wil beweer dat die hof beslis het dat die DMRE geen jurisdiksie het om enige inspekteurs na die myn te stuur om die slikdam te inspekteer nie. Die DMRE het steeds ingevolge die MHSA die reg en die plig gehad om dit te doen.

“As dit waar is dat die DMRE nie die myn besoek en ingevolge die MHSA geïnspekteer het nie, is die DMRE, om die minste te sê, skuldig aan growwe nalatigheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Dit is hoekom dit so gaan, daar is te veel departemente betrokke, die een weet nie wat die ander een doen nie en wil nie verantwoordelikheid aanvaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.