Jake White sterk tuis aan

Jake White. Foto: Twitter.

Jake White is uit die hospitaal ontslaan en sal verder by die huis aansterk. Die Bulls se direkteur van rugby het onlangs ʼn suksesvolle noodoperasie aan sy buik ondergaan.

Die positiewe nuus is deur Willem Strauss, Bulls-president, op sosiale media bevestig.

“Ons afrigter is uit die hospitaal ontslaan en hy word stadig maar seker beter,” het Strauss getwiet.

Die 59-jarige Wêreldbeker-wenafrigter het kort nadat die Bulls van hul Dragons-avontuur in Newport teruggekeer het, van erge maagkrampe gekla. Hy is na ʼn hospitaal gehaas waar daar op ʼn noodoperasie besluit is.

“Die suksesvolle operasie van twee uur het in ʼn Pretoria-hospitaal plaasgevind en die dokters is tevrede dat alles goed verloop het. Die mediese span is vol vertroue dat Jake ten volle sal herstel en binnekort na sy pos sal terugkeer,” het die Bulls verlede week in ʼn amptelike verklaring gesê.

White sal weer op 8 Februarie terug op sy pos wees. Intussen het Chris Rossouw (agterlynafrigter) die leisels tydens die Pretorianers se wedstryd teen die Exeter Chiefs vasgevat.

Die Pretorianers het die afgelope naweek op Loftus Versfeld die bordjies verhang nadat hulle vroeër weg van die huis teen die sterk Engelse span verloor het.

Wandisile Simelane het twee drieë gedruk, terwyl die Bulls-voorspelers ook glad nie vir hul teenstanders teruggestaan het nie.

Die span beklee tans die sesde plek op die Heineken Kampioenebeker-punteleer en hulle speel Vrydag om 22:00 teen Lyon in Frankryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie sterkte Jake White,mag jy vinnig en ten volle herstel.Dit kan beslis nie maklik wees om rugby spelers af te rig en te bestuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.