Jantjies sê jammer, maar ontken verhouding

Elton Jantjies. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Die Springbok-losskakel Elton Jantjies het Vrydag om verskoning gevra vir sy gedrag, maar ontken dat hy ʼn buite-egtelike verhouding aangeknoop het met die span se dieetkundige.

“Ek is bewus van koerantberigte dat my onlangse gedrag baie teleurstelling, kommer en woede veroorsaak het, en ek vra onvoorwaardelik om verskoning vir almal wie ek seergemaak of teleurgestel het, my spanmaats, die Springbok-bestuurspan en SA Rugby,” het hy in ʼn verklaring gesê. Hy het ook om verskoning gevra vir die bestuur en span van sy klub in Japan, NTT Docomo Red Hurricanes.

Die 32-jarige Jantjies sê “hy het die Springboktrui onteer – ʼn trui waarvoor hy al sedert ʼn klein seuntjie ontsag het”. “Ek het ongelukkig myself, my familie en die rugbyliefhebbers van die land in die steek gelaat. Ek is baie jammer oor my gedrag.”

Hy het volle verantwoordelik aanvaar vir sy optrede. “Ek is ernstig dat ek alles in my vermoë sal doen om my gedrag te verander,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Jantjies is teruggestuur Suid-Afrika toe in aanloop tot die Springbokke se toets teen Argentinië. Jantjies en Zeenat Simjee, die Springbokke se dieetkundige, is teruggestuur ná bewerings van ʼn verhouding tussen die twee. Volgens berigte het Jantjies, wat getroud is met drie kinders, en Simjee verlede maand tyd saam by ʼn gastehuis deurgebring toe die Springbokke in Mbombela was om teen Nieu-Seeland te speel.

“Simjee was nooit saam met my by enige van die twee gastehuise waar ek gebly het nie. Sy is ʼn goeie vriendin en niks meer nie,” het hy gesê. “Dit is ʼn skande dat haar goeie naam nou deur die modder gesleep word.”

Simjee het in ʼn afsonderlike verklaring gesê sy was tydens die naweek wat die span vir die toets teen Argentinië voorberei het, by haar ouers ná ʼn sterfte in die familie.

“Bewerings dat ek tyd saam met Elton Jantjies by ʼn gastehuis deurgebring het, is van alle waarheid ontneem,” het sy gesê. Sy voeg by sy is “geskok” en “platgeslaan” dat ʼn plaaslike koerant “sulke verdoemende bewerings kan publiseer gebaseer op valse en ongegronde hoorsê. Dit is teleurstellend”.

Die Springbokke speel Saterdag teen Argentinië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Jammer vir vat. As storie vals is verplig media om verskoning te vra deur die ombutsman. So maklik soos dit

Sonblom ·

Ek HAAT dit om mense by ‘n storie te betrek wat niks met hulle te doen het nie, maar nou moet ek. “Fan” van Steve Hofmeyr of nie, daar is 1 ding wat mens kan sê: as hy uitgevang is dat hy aangejaag het, het hy dit dadelik erken. Elton, leer by hom! Jy sê mos maklik “do you know who I am”. So nou… Wees ‘n man en erken jy is skuldig. En nou Elton, wil ek vir jou vra: Do you know who you are?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.