Jeugdag: ‘Verskuif fokus na vroeë kinderontwikkeling’

(Argieffoto: Maroela Media)

“Sosio-ekonomiese sukses vir die jeug van Suid-Afrika is slegs moontlik indien die fokus verskuif vanaf tersiêre opleiding en indiensneming na vroeë kinderontwikkeling.”

Só het Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus-LP en nasionale jeugleier, Vrydag op Jeugdag gesê.

“Die land kan nie hoop op ʼn beter uitkoms in kinders se tienerjare as daar nie vanaf geboorte aandag aan hul ontwikkeling gegee word nie.

“Die huidige syfers is skrikwekkend: Slegs 1,6 miljoen of 72% van kinders jonger as ses jaar is ingeskryf by ʼn vroeë leerprogram om hulle vir skool voor te berei. Dié getal was voor die Covid-19-pandemie nader aan twee miljoen.”

Breedt sê van die bestaande voorskoolse ontwikkelingsentrums is slegs 40% geregistreer, terwyl ʼn skrale 52% van personeel die nodige kwalifikasies het.

Sy meen die swak gehalte van skoolopleiding laat die land se jeug verder in die steek en verminder hul kanse op sosio-ekonomiese vooruitgang.

“Dit is veral kommerwekkend dat daar tydens die ANC-bewind ʼn netto verlies aan skole was. Skole wat moedertaalonderrig bied, het ook verminder.

(Foto: Gautam Arora/pixabay)

“Slegs 40% van leerlinge wat met gr. 1 begin, slaag uiteindelik matriek. Wat geletterdheid betref, is die prentjie donker. Volgens internasionale navorsing wat in 2016 gedoen is, kon sowat 78% van gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika nie met begrip lees nie, vergeleke met 4% internasionaal.”

Breedt sê die vlak van onderrig in wiskunde en wetenskap is net so beroerd.

“Die Internasionale Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling het in 2015 die gehalte van hierdie twee vakke in 76 lande beoordeel en hoërskoolleerlinge in Suid-Afrika was 75ste, een plek voor Ghana wat laaste was.

“Terwyl die land ʼn kritieke tekort aan vaardighede het, moedig die regering steeds nie die jeug aan om hulle daarvoor te bekwaam nie en word slegs gefokus op universiteitsgrade as ʼn naskoolse kwalifikasie.”

Volgens Breedt skep hierdie “skewe prioriteite en wetgewing rakende regstellende aksie” ʼn misplaasde verwagting by die jeug dat jy nie hoef te werk vir wat jy wil hê nie.

Verder ontmoedig die ANC ondernemings om werk te verskaf soos met die jongste wetgewing se onmoontlike rassevoorskrifte vir indiensneming.

“Die jeug kan net uit armoede gelig word deur te verseker dat hulle werk het. Om dit te doen moet ʼn omgewing geskep word wat bevorderlik is vir werkskepping. Tans bestaan dit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.