Johannesburg raadop met kragvandale

Argieffoto bloot ter illustrasie van vandalisme. (Foto: CityPowerJhb/Twitter)

Die polisie in Gauteng is op die spoor van ’n vermeende vandaal nadat gebrande kledingstukke Maandag by ’n beskadigde substasie in Johannesburg gevind is. Dit word vermoed dat die verdagte erg gebrand het toe die minisubstasie in sy gesig ontplof het.

’n Moedelose City Power sê dié stad se minisubstasies, transformatorsubstasies, straatligte en kabels loop “op ’n weeklikse basis” onder vandale en diewe deur.

Verlede week alleen is sowat agt minisubstasies en 18 pilaarkaste beskadig, 92 stroombrekers gesteel en 82 sekerings gebuit. “Ontelbare” kabels het ook verlede week in die Goudstad voete gekry.

Nie minder nie as 11 voorvalle is vanaf die naweek tot en met Dinsdagoggend aangemeld.

Die Johannesburgse kragverskaffer doen ’n beroep op die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe om meer te doen om vandalisme en diefstal van elektrisiteitsinfrastruktuur “veral in die Roodepoort‑omgewing” te help bekamp.

“Die vandalisme wat op ’n weeklikse basis plaasvind, raak elektrisiteitsvoorsiening na inwoners wat ure se kragonderbrekings, bo en behalwe beurtkrag, moet verduur. Dit raak ook meer spesifiek ons bedryf- en kapitaalbegrotings by die depot wat uitgeput raak en dit plaas te veel druk op ons oortydrekening,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power.

Die kragvoorsiener is tans besig om sekuriteit op te skerp, maar het egter nie die nodige hulpbronne om boosdoeners in hegtenis te neem nie.

“Ons is in gesprek met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Johannesburgse metropolisie (JMPD) om ons in hierdie verband by te staan aangesien ons glo dat sommige van die dade aan ernstige misdade van sabotasie en misdade teen die staat grens.

“Ons beplan ook samewerkingsooreenkomste met private sekerheidsmaatskappye, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums om City Power te help om elektrisiteitsinfrastruktuur te beveilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

vuurvliegie ·

JHB is een stad wat moedeloos is teen kragvandale. Hoe met Eskom voel?
Dis die gebruiker wat op die ou einde die spit afbyt.

Boer ·

Ek hoop die vandale wat die stasies saboteer is so geskok dat hy 3de graadse brandwonde het. Dan moet hulle hom aan die lewe te hou totdat hy uit die hospitaal ontslaan word sodat hy vir sy maats kan vertel hoe pynlik seer dit was.

Joggie ·

Dit is wat gebeur in ‘n samelewing waar ANC meelopers nie vir misdaad vervolg word nie.

Kokerboom ·

Raak ontslae van skreeuende nuttelose kaders in raadsaal wat daar is vir eie gewin en daar is genoeg geld
Laat gemeenskappe omsien na substasies in hul gebiede
Roep hulp van Solidariteit in
Sluit onwettige kopers besighede
Lewenslange tronkstraf vir oortreders

domheks ·

Elke persoon in die land is nie bang vir die regstelsel nie! Tronkstraf = 5 Ster behandeling met REGTE!
Die man op straat het nie eers die regte wat tronkvoels het nie. Viva ANC!

marius ·

Hulle spandeer miljjarde op sekuriteit . Waarom vind dit steeds plaas ?

Manie ·

Gauteng se ellende verlosser word môre ingesweer, dan gaan alles mos hunky dory wees.

Johan ·

Wie trek voordeel uit die gesteelde goedere? Plunderaars sal dit nie verniet doen nie, hulle soek betaling vir dit. Skrootwerwe maak fortuin maar wie monitor hulle

Hennie ·

Dit is eintlik ANC kiesers wat die infrastruktuur so opneuk!

Kobus ·

Die twee opstokers Cope en ANC se nuwe aanstellings moet mos nou al met ‘n oplossing vorendag gekom het. Ek kry solank Oros, Popcorn en kerse gereed terwyl ek wag vir hulle optrede

Adriaan ·

Daar is meer as genoeg “polisie” beamptes. Kry die goed weg by kfc en laat hulle die werk doen wat hulle moet, maar nie instaat of lui.

Surfer ·

Nee los hulle liewer by KFC, dan is hulle ten minste sigbaar anders gaan le die hele spul weer en slaap op kantoor of hul selfone.

Marelize ·

Mr Cele miskien is dit tyd om jou werk te doen en meer polisie aan te stel want jou laksheid het gelei tot wetteloosheid in Suid Afrika.

Anel ·

Solank as wat die regering allerhande siek wette uit dink wat hulle wil impimenteer, sal niks gebeur nie. Want om werklike misdadigers te vang is werk.

Elize ·

Dis oral waar koalisies aan bewind is. Dis nou weer ‘n magstryd en De Ruyter staan met sy voet op die keel van die Mafia. Dieselfde gebeur by ons in Tshwane

Jakes ·

Al hierdie gemors waarmee ons elke dag sedert 1994 te doen het, gebeur omdat ons deur onbeholpe, onbevoegde narre regeer word. Die ANC hoort almal agter tralies want vsn bo tot onder is hulle vrot.

Derick ·

Gee die mense die beloofde werk ANC. Dan sal hulle nie hoef te roof en plunder nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.