Jong vrou dalk verlam ná Chapmanspiek-ongeluk

Lucy Thomas (25) is tans in die Groote Schuur-hospitaal nadat haar motor by Chapmanspiek in die Wes-Kaap afgetuimel het. (Foto: Verskaf)

’n 25-jarige Kaapse vrou kan moontlik vir die res van haar lewe verlam wees nadat haar Volkswagen Polo sowat 75 m ver by Chapmanspiek tussen Houtbaai en Noordhoek in die Wes-Kaap afgetuimel het. Die ongeluk het op 17 Februarie plaasgevind.

Lucy Thomas, ʼn kranige fotograaf, is tans in die Groote Schuur-hospitaal waar sy Maandag ʼn 7 uur lange rugoperasie ondergaan het. Sy het onder meer ernstige beserings aan haar ruggraat en ‑werwels opgedoen.

Maroela Media het vroeër berig amper 50 reddingswerkers en vrywilligers het die betrokke dag gehelp om Thomas uit die wrak te bevry, voordat die motor aan die brand geslaan het.

Haar pa, David, sê sy dogter sal na verwagting nog ʼn maand in die hospitaal deurbring waarna sy met rehabilitasie sal begin. Die kans bestaan egter dat Thomas voortaan in haar onderlyf verlam sal wees.

“Die operasie het goed afgeloop. Dokters het bereik wat hulle wou en nou vat ons dit maar dag vir dag. Ons weet wonderwerke gebeur, maar ons is ook realisties oor haar beserings. Ons weet daar is ʼn kans dat sy dalk vir die res van haar lewe in ʼn rolstoel sal wees.” David is nog nie seker of sy dogter enige verdere operasies sal moet ontvang nie.

Lucy Thomas en haar pa, David. (Foto: Verskaf)

“Dis baie swaar. Sy is maar 25 jaar oud. Daar lê nog ʼn lang pad vir haar voor.”

Hy sê Thomas lyk eintlik goed, maar is in dié stadium baie emosioneel.

“Sy het nou baie ondersteuning nodig om hierdeur te kom. Sy moet daaraan herinner word dat sy uiters geliefd is.

“Ek probeer haar nou bemoedig en vra dat die publiek dieselfde sal doen. Mense is welkom om vir haar bemoedigende kaartjies na die hospitaal te stuur, of na my e-posadres by [email protected].”

David sê hy sal in ʼn latere stadium ook ʼn geldinsamelingsinsiatief van stapel stuur wat moontlik kan help om vir sy dogter die beste moontlike sorg en toerusting te verseker om vir haar ʼn goeie, waardige lewe te bied.

Lucy Thomas (25) is tans in die Grootte Schuur-hospitaal nadat haar motor by Chapmanspiek in die Wes-Kaap afgetuimel het. (Foto: Verskaf)

Hy hoop om ook haar kameratoerusting te vervang wat tydens die ongeluk in die kattebak van haar motor was.

‘Reddingswerkers is helde’

David het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy is oneindige dankbaarheid verskuldig aan al die reddingswerkers wat op die ongeluk reageer het en vir die behandeling wat Thomas tans in die hospitaal ontvang.

“Ek sal nooit genoeg kan dankie sê aan almal wat by haar redding betrokke was nie, asook die mediese personeel wat haar nou behandel. Hulle is almal my helde.”

Organisasies soos Hout Bay Volunteer Emergency Medical Service (HBVEMS) en Working on Fire was by Thomas se redding betrokke.

Lucy Thomas is per ambulans hospitaal toe geneem. (Foto: Hout Bay Volunteer Emergency Medical Service, Facebook)

Haar motor en die omliggende plantegroei het ook ná die voorval aan die brand geslaan, maar sy is betyds uit die wrak bevry voordat sy enige brandwonde opgedoen het. ʼn Video van die brand is kort ná die ongeluk op Facebook gedeel.

HBVEMS het ook foto’s van die reddingstog op sy Facebook-blad geplaas en dit as ʼn “ongelooflike multidissiplinêre poging” beskryf.

“Nooddiens-, redding- en brandweerspanne het tot in die nag saamgewerk om ’n pasiënt teen ’n steil helling te red, terwyl ’n brand in die omliggende bebosde gebied bestry is. Dankie aan almal wat betrokke was, ons wens die beseerde pasiënt ’n goeie herstel toe,” lui die inskrywing op 18 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Althes ·

Ek weet nie wat om te sê nie, sterkte aan Lucy en hul gesin. Ek hoop hul vind vrede en aanvaarding. Dalk sal ñ ondersteuningsgroep hul kan help na die traumatiese voorval.
Dat sy betyds gered was, is op sigself ñ wonderwerk. Mag jul geseēn wees met ñ wonderwerk.

Skappie ·

Lucy, sterkte vir die pad vorentoe. Mag onse Liewe Jesus laat jy volkome herstel. Sterkte ook aan jou gesin, met die pad vorentor.

Chantel ·

So bitter hartseer. Sterkte aan jou meisiekind, soos jou pa sê ” you are loved”

Riaan ·

Baie geluk – Ek het die bier drink kompetisie by Maders gewen na my nier oorplanting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.