Kapenaars trap saam in Piet Retief se eerste spore

As deel van die herdenkingstaptog het die groep Sondag hul eie spore op Retief se geskiedkundige plaas getrap. (Foto: Verskaf)

Sowat 70 Kapenaars het Sondag 5 Februarie op die Welvanpas-wynlandgoed naby Wellington in die Wes-Kaap bymekaargekom om die 185ste herdenking van die Groot Trek-leier, Piet Retief, se dood te herdenk.

Dié groep, bestaande uit lede van die FAK-kultuurnetwerke in die Kaap en hul vriende, het vroegoggend stapgereed byeengekom om op Retief se spore te stap ter herdenking van sy moord sowat 185 jaar gelede.

Dié historiese wynlandgoed is al 318 jaar oud en was die geboorteplek van Pieter Mauritz Retief in 1780. Hier het hy gewoon en gewerk tot hy 27 jaar oud was. Dié plaas is al vir meer as tien geslagte die eiendom van die Retief-familie.

Retief was ook die skrywer van die manifes waarin die redes vir die Groot Trek uiteengesit is. Hierdie dokument is op 2 Februarie 1837 in die Graham’s Town Journal gepubliseer.

Hy is op 6 Februarie in 1838 saam met sy manskappe by Umgungundlovu vermoor toe hulle met Koning Dingaan ’n koopkontrak vir grond onderteken het.

As deel van die herdenkingstaptog het die groep Sondag hul eie spore op Retief se geskiedkundige plaas getrap, waarna Dan Retief, wat tans op die plaas boer, verder oor sy voorvader en die plaas gesels het.

Een staaltjie wat hy gedeel het, is dat die plaas se oorspronklike naam De Krakeelhoek was. Dit kom van die Hollandse woord “Krakelen” wat “bekgeveg” beteken. Weens die negatiewe konnotasie het die familie die naam na Welvanpas verander.

Juanine Kok, kultuurorganiseerder van die FAK in die Wes-Kaap, sê die belangstelling in hierdie stap was oorweldigend.

“Vir ons by die FAK is dit belangrik dat ons kultuurstorie oorgedra word aan ons jeug, dat hulle daardeur ʼn liefde en passie ontwikkel vir die bewaring en behoud van ons erfenis en trots sal wees daarop. Dit was spesiaal om in die 185-herdenkingsjaar van die Groot Trek, op dieselfde plaas te stap waar Piet Retief se spore lê,” het Kok vertel.

“Dit is ʼn baie mooi roete en sluit verskillende tipes terreine in. Welvanpas, met sy eie Retief-kultuurstorie wat strek tot in die tiende geslag vandag, is voorwaar ʼn juweeltjie wat besoek moet word.”

Personeel en besoekers aan die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria het Maandag ook ’n oomblik van stilte gehou ter nagedagtenis aan Retief en sy manne, en kransleggings gehou by die senotaaf, Piet Retief se friespaneel asook aan die voet van die Retief-hoekfiguur by die monument.

Jandré du Plessis, ʼn nasaat van Jan du Plessis, een van die mans wat deelgeneem het aan die Slag van Bloedrivier, het ook dié geleentheid bygewoon en vertel dat hierdie geskiedenis vir hom baie belangrik is.

“Toe ek as jong seun uitgevind het Retief is vermoor op dieselfde dag as wat ek verjaar, was ek as kind diep geraak,” het hy vertel.

“Vandag kyk ek terug en besef ek dit is omdat ons almal, jonk en oud, op ’n manier verbind is aan mense soos Retief; hulle is iemand se oupagrootjie of verlangse oom, maar meer as dit is dit die mense wat hul lewens op die spel geplaas het om vir ons ’n toekoms te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

kyk weer na die geskiedenis ,Kwa Matiwane is die plek waar hulle vermoor is

Althes ·

Ons het onsself ontwortel, dis goed dat ons figuurlik teruggaan vandaar ons voorouers voor gestaan het. Hulle het enorme opofferings gemaak, en ons waardeer dit nie genoeg nie.

Harley Davidson ·

Ek wonder of hierdie mense besef hoe belangrik dit is vir hulle om eerder ‘n veldtog te begin om die Wes Kaap afgestig te kry van Suid-Afrika, daarna kan hulle ‘n vry en rooskleurige toekoms hê.

trotsNAMSA ·

My voorsaat GENL MANIE MARITZ en ander dapperes het probeer. Toe was die Kaapkolonie die Britte se kroonjuweel en tans het is die Wes-Kaap nogsteeds in die selfde posisie. Leier het politiek bo hul mense verkies.

Nico ·

Dit is hoekom die Voortrekkers onder leiding van JJ Uys besluit het om te trek na die binneland op soek na eie regering, eie skole, eie kerke eie wonings en plase, hy ook die Hollandse Bybel ontvang van die burgermeester van Grahamstad. Die groot rede was nadat die Britse Settelaars in 1820 aan wal gestap het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.