Katgriep eis weer talle hondelewens by SAPD

Bimbo is verlede jaar van katgriep dood (Foto: Verskaf)

Die polisie se veeartsenyhospitaal werk onverpoosd om die verspreiding van die parvovirus wat by die polisie se honde-eenheid uitgebreek het, te bekamp. Die parvovirus, beter bekend as katgriep, het op 15 Junie by die polisie se honde-eenheid in Roodeplaat in die noorde van Pretoria uitgebreek en 45 honde het reeds gevrek. Dit is boonop die tweede keer in een jaar wat die virus hier uitbreek.

Kol. Brenda Muridilli, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê die veeartsenyhospitaal, wat deel vorm van die honde-eenheid, het teen die middel van Junie begin agterkom van die honde wat na die hospitaal vir ’n konsultasie gebring word, lyk olik.

“Dit het kommerwekkend begin raak toe die honde nie op die behandeling gereageer het nie. Die bestuur van die hospitaal is toe versoek om bloedmonsters van die honde by ’n onafhanklike laboratorium te laat toets,” sê Muridili. Die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal in Pretoria het ʼn nekropsie uitgevoer en bevind die honde het wel katgriep onder lede gehad.

Soveel as 45 honde het reeds weens die virus gevrek, waarvan 37 van kant gemaak moes word.

Maroela Media het vroeër berig dit is die tweede keer in een jaar dat die dodelike virus by dié eenheid kop uitsteek. “Hoewel die veeartsenyhospitaal hondjies van onderskeidelik ses, agt en 12 weke ingeënt het, het dit virus die eenheid ongelukkig weer getref,” sê Muridili.

Renate Barnard, voormalige luitenant-kolonel in die polisie en tans sektorkoördineerder by Solidariteit, het gesê hoewel die honde hierdie keer wel ingeënt was, entstof nie noodwendig die virus heeltemal stuit nie. Sy het vroeër aan Maroela Media gesê die honde se hokke moet gereeld ontsmet en skoongehou word en die polisie het versuim om juis dit te doen.

Muridili sê die honde-eenheid het kwarantynmaatreëls ingestel om die verspreiding van die virus te bekamp. Sy sê ook die eenheid se bestuur monitor die honde-eenheid noukeurig.

Brig. Letshuti Phele, die hoof van die veeartsenyhospitaal by die polisie se honde-eenheid, sê egter hy is positief dat hulle die uitbraak onder beheer het.

“Hoewel daar nie ’n spesifieke behandeling teen die virus is nie, fokus ons hoofsaaklik daarop om na die siek honde om te sien met ondersteunende behandeling en algemene verpleegsorg. Met streng isolasie probeer ons die honde se immuunstelsels ’n hupstoot te gee en om die verspreiding van die virus te bekamp,” sê Phele.

Phele sê die honde se hokke word daagliks ontsmet. Hy sê personeel wat met die honde werk, word ook aangemoedig om streng higiëne te handhaaf.

Die polisie se menslikehulpbronontwikkeling (HRD) en sigbare polisiëringsafdelings, wat verantwoordelik is vir onderskeidelik die honde-eenheid en die veeartsenyhospitaal, gaan voort om volhoubare oplossings te soek vir die algemene voorkoms van aansteeklike siektes by honde by teeleenhede.

Katgriep het verlede September ook in die honde-eenheid uitgebreek en sowat 120 honde het die virus opgedoen. Teen Oktober het 75 honde reeds gevrek. Die eenheid het in daardie stadium sowat 200 honde gehad.

Kobus Hoffman, ʼn VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, sê die party is na afloop van sy oorsigbesoek aan die honde-eenheid oortuig dat die eenheid onderwerp moet word aan ’n volskaalse ondersoek, en dat die bevelvoerder en die aankoper sowel as die hoof van die veeartseny hospitaal geskors moet word ten einde ’n sinvolle ondersoek te kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Agge nee ·

Hierdie is pleinweg slegteheid. Hulle weet dat hulle terrein en hokke besmet is met katgriep, maar hulle laat slaplê met hulle inentings. Basiese higiëne by hulle hokke blyk ook ‘n probleem te wees, veral oor naweke. Te veel ‘chiefs” en te min ‘Indians”, niemand wil die werk doen. En waar is die tannies van die SPCA nou?

Anel ·

Vir wie wil jy dit gee?. Die privaatsektor is nog erger. Die hond is net daar om vir hulle geld te verdien. Party plekke word die honde 24 uur gebruik. Word oor gegee van die een na die ander hanteerder en hulle is nie op gelei nie, nie die hanteerder of die hond nie. Ek dra kennis van die privaat sektor en die polisie se honde. Ek was daar.
Probleem is, die mense wat dit vir die geld doen het nie idee wat hulle doen nie en die wat dit uit liefde doen word weggejaag. En onthou, die Amerikaaners weet glo alles. Man, ons was die beste in die wêreld! Hoeveel ander lande se polisiehondegeleiers is nie deur ons opgelei nie? Dis nou daardie tyd! Alles gaan net agter uit en geld praat!!!

DieKriek ·

Parvo bly vir jare lank in die omgewing. Daar is n baie effektiewe entstof; hoekom word die honde nie ingeënt nie?

Spyker ·

Skors sonder salarisen voordele tot onskuldig bevind word. So het dit in my tyd (1960 – 1985) in die SAP gewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.