Kind se liggaam by Kleinmond gevind

Argieffoto van die Palmietrivier by Kleinmond. (Foto: Facebook)

Die sewejarige meisie wat die naweek in die Palmietrivier by Kleinmond in die Wes-Kaap verdwyn het, se liggaampie is gevind.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die meisie se liggaam is Maandag vroegaand “in ’n hoek van die rivier” naby die riviermond gevind.

Lede van die polisie se duikeenheid en NSRI het sedert Sondagmiddag na die kind gesoek nadat sy onder die water verdwyn het terwyl sy saam met haar tienjarige sussie in die rivier geswem het.

“Die getye, rivierstrome en seestrome het ʼn deurslaggewende rol gespeel in groeiende vrese dat die kind moontlik uit die riviermond gevee is en in die see beland het,” sê Lambinon nou oor die grootskaalse soektog.

Die kind se liggaam is gisteraand uit die water gebring en in die sorg van die polisie en die forensiese patologiedienste gelaat.

Kleinmond en NSRI Hermanus is Sondag omstreeks 15:45 saam met die polisie en Wes-Kaapse nooddienste na die Palmietrivier ontbied. Die meisie se sussie kon uit die water kom en paramedici het haar ondersoek. Sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem.

Daar word intussen nog gesoek na ’n tienerseun wat Sondag by die Kleinmond-hoofstrand in die see verdwyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Ai man, so vroeg van haar lewe ontneem. Simpatie aan haar familie en vriende.

Casper ·

Dit is verskriklik hartseer,en my hart huil saam met die families wat kinders aan die dood afgestaan het.Mag GOD julle in sy hande neem en julle troos en julle smart op hom neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.