Klagte kom teen De Vos oor ‘kinderporno op Twitter’  

Prof. Pierre de Vos. Foto: Twitter

Daar sal niks van kom nie en hy sal voortgaan om AfriForum te kritiseer wanneer hy meen dit is gepas om dit te doen.

Só het die Grondwetkenner prof. Pierre de Vos gereageer nadat AfriForum Jeug aangedui het dat hy besig is om ’n strafregtelike klag teen De Vos voor te berei nadat daar kinderpornografie op sy Twitter-profiel gedeel is.

De Vos voer egter aan dat sy profiel verlede week gekaap is en dat die pornografiese materiaal toe gedeel is.

ʼn Skermskoot word intussen wyd op sosiale media versprei wat wys dat ʼn pornografiese video, waarin ʼn jong seun glo te sien is, deur De Vos se profiel gedeel is.

“Ek het die twiets uitgevee en my wagwoord verander. Maar AfriForum Jeug sê nou hy gaan ʼn kriminele klag teen my indien. Nie verbasend nie, gegewe die kritiek wat ek teen hul haatspraaksaak teen mnr. [Juluis] Malema gelewer het.”

Die jeugorganisasie het gesê hy gaan klagte teen De Vos by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) indien in ooreenstemming met afdeling 19A(4) van die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) Wysigingswet (32 van 2007), asook die bepaling teen die verspreiding van kinderpornografie in die Wet op Rolprente en Publikasies (65 van 1996, soos gewysig).

“Dit gaan my verstand te bowe dat iemand hulself skuldig kan maak aan sulke gruweldade,” het René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, gesê. “Wat nog meer is: dat dit op ’n openbare platform gedeel word, die skande probeer uitvee en skotvry daarmee wegkom. Dít terwyl mensehandel, wat direk verband hou met hierdie tipe seksuele misdryf, juis in Suid-Afrika ’n dreigende kwessie is.”

AfriForum Jeug het ook ’n brief aan die Universiteit van Kaapstad (UK) gestuur om te eis dat daar dissiplinêre stappe teen De Vos, wat deel van die bestuur van die UK is, gedoen moet word. Die jeugorganisasie is van mening dat ’n persoon wat hom skuldig maak aan só ’n wandaad nie ’n posisie as ’n mentor van jong mense kan inneem nie. Die instelling behoort sterk op te tree teen sulke skandelike optrede deur een van sy verteenwoordigers.

Die jeugorganisasie het De Vos by Twitter aangemeld vir die onvanpaste inhoud wat gedeel is.

“Die feit dat die oorspronklike plasing op 9 Desember 2021 gemaak is dui daarop dat De Vos vir hierdie tipe inhoud moes gesoek het voordat hy die fout gemaak het om dit op sy profiel te deel. Ons kan nie toelaat dat hierdie voorval ongesiens verbygaan en die presedent skep dat dit aanvaarbaar is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ian ·

Sou darem maar dom wees van hom om so iets op Twitter te deel…

Kobus ·

Ek ken hom nie gaan dus nie ‘n mening lug nie. My profiel was ook gekloon en pornografiese materiaal gepubliseer. Ook is sulke foto’s aan my dominee gestuur. Dit gebeur. Maak maar eers seker van die feite.

VaalDonkie ·

Gekloon is anders as wanneer iemand jou regte profiel oorneem. Ek kan binne vyf minute jou profiel kloon want ek het net jou profiel foto nodig en dan kan ek ‘n nuwe een skep met dieselfde naam. Maar dis BAIE moeiliker vir my om jou wagwoord te raai en jou ware profiel oor te neem.

Vexed ·

Kyk ek hou nie van die vent nie, maar, hy sal besliks nie dom genoeg wees om so iets op Twitter te sit nie. Maak geen sin nie.

ES ·

Dis vir my baie toevallig dat sy Twitter profiel al baie lank gebruik word vir politieke en persoonlike kommentaar / opinies en dan skielik kinder pornografie op het. Ek hou nie van die man nie, maar ek dink nie dat hy dit sommer sou doen nie en Afriforum Jeug weet dit ook, maar dis nou die gilde geleentheid om hom te skop terwyl hy le. Dit is heel moontlik opsetlik aan hom gedoen.

Van wanneer af verlaag julle julself na daardie vlak van boelietaktiek? In daardie geval is julle is dan niks beter as die mannetjies wat die rooi berette dra nie.

Net een woord – integriteit. Jy het dit of jy het dit nie.

Oros Soros ·

Kinderpornografie is ‘n afskuwelike verskynsel. Jy kan nie net jou hande wil was hieroor nie. ‘n Ondersoek is dus noodsaaklik.

Arno ·

As hy niks het om weg te steek nie en hy dink hy is werklik onskuldig, dan het hy mos niks om oor bekommerd te wees nie. Hy is op die oomblik baie verdedigend oor die hele saak.

Janice ·

‘n Indiepte forensiese ondersoek moet gedoen word voor sulke bewerings openbaar gemaak word, maak nie saak wie die persoon is nie. Ons almal weet laat kapers los is op sosiale media en chaos saai op onskuldige mense se profiele, maar as dit die waarheid is, meneer, moet jy die gevolge van jou aksies dra. Teveel kinders ly onder pornografie en mensehandel in in die wereld om so i’n insident te ignoreer.

Danny ·

Dankie Afriforum Jeug! So sal die wiel draai en die blinde sambok sy gang gaan..

Ansie ·

Sjoe, ek weet darem nie. Ek is nie ‘n “fan” van Pierre de Vos nie, maar ek sluk swaar daaraan dat hy hom aan soiets skuldig sal maak. Hy is nie onnosel nie. Ek sou Afriforum Jeug baie sterk aanraai om hul huiswerk en navorsing baie deeglik te doen voordat hulle met so ‘n saak voortgaan. Het hulle onomstootlike bewyse dat sy profiel nie gekaap was nie? Daar is baie mense wat sal wil wraak neem teen enigiemand wat vir “Juluis” opkom.

Johan ·

AFRIFORM moet nou nie soos die EFF word nie die man is nie so dom nie al hou julle nie van hom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.