Klousule oor taal, toelating steeds in Bela-wet vervat

(Argieffoto: ANA)

Hoewel enkele wysigings aan die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (Bela) gemaak is, wil die departement van basiese onderwys steeds aan skole voorsê oor hul taal en toelatingsbeleid.

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys het Dinsdag bespreking van al die voorgestelde wysigings aan die wetsontwerp afgehandel. “Terwyl belangrike wysigings gemaak is, het die VF Plus steeds wesenlike besware daarteen,” het dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor onderwys, aan Maroela Media gesê.

Een hiervan is ʼn klousule wat die mag oor taal en toelatings by openbare skole in die provinsiale regering se hande plaas, wat steeds in die konsepwetgewing vervat word. Volgens Boshoff steek daar geen waarheid in berigte dat die departement van onderwys hieroor ʼn U-draai gemaak het nie.

“Die betrokke senior amptenaar James Ndlebe, het wel gesê dat die doel van hierdie klousule glad nie is om taal- en toelatingsbeleid op skole af te dwing nie. Hy sê die hoof van die provinsiale onderwysdepartement is ook nie die een wat daardie beleide opstel nie en die regering sal net ná ‘n proses ingryp,” het Boshoff gesê. Hy meen egter dié is net alles mooipraatjies. “Die wetsontwerp is in hierdie opsig glad nie aangepas nie en, soos ons weet, geld die letter van die wet uiteindelik.”

Volgens Boshoff maak die jongste wysigings aan die wetsontwerp dit wel nou makliker vir tuisskole om te registreer en sal tuisbesoeke deur die departement nie meer nodig wees nie. “Daar sal ook nie meer van tuisskole verwag word om aan die einde van elke jaar assesserings in te dien nie, maar eerder aan die einde van elke fase.”

Weens hewige teenkanting teen ʼn klousule in die wetsontwerp wat skole sal toelaat om drank tydens skoolfunksies te verkoop, is dié klousule verwyder.

Die wetsontwerp moet nou eers deur die nasionale vergadering bespreek word, voordat dit aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê word. Al nege provinsiale wetgewers sal daaroor moet stem alvorens die president dit bekragtig. Dit alles moet egter voor volgende jaar se nasionale verkiesing gebeur. “Indien die proses nie voor die verkiesing afgehandel word nie, sal die wetsontwerp verval en sal die regering van voor af met die hele proses moet begin,” sê Boshoff.

“Die ANC druk vir al wat dit werd is om hierdie wysigings voor die verkiesing deur te voer, maar ek sal verbaas wees as dit betyds afgehandel kan word.”

Intussen het Solidariteit weer benadruk dat hulle bereid is om die klousule oor taal en toelating in die hof te toets. “Indien die planne sou deurgaan, sal dit ʼn totale breuk met die Afrikaanse gemeenskap veroorsaak. Dit is ʼn doelmatige plan teen Afrikaanse skole,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Gebruik OB taktiek, vertraag en vertraag dit met hofsake en enigiets tot na die verkiesing

annie ·

Afrikaners sit in ‘n vreemde kopklem vasgevang. Die VP en PP, voorvaders van vandag se DA, was totaal anti-Afrikaans. Sedert die grondlegging onder die Britse bewind is Engels ingevoer. Afrikaners het die wildernis ingetrek. Die probleem is steeds met ons. Afrikaners word steeds geminag hoewel die DA nou die tweede grootste party, so-so belangstel in die oorlewing van ons taal bloot daarom draai om stemme te werf en fondse te in. Afrikaans sal uiteindelik in net private skole of naskools oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.