Koelkop boer fnuik veediewe

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Boer van Fochville het laat Woensdagaand behoorlik koelkop gebly toe vermeende veediewe 75 van sy koeie en kalwers probeer steel het. Dit boonop terwyl die skote op hom neergereën het.

“Ek het dadelik besef wat aangaan toe die skote begin klap, en ek het net kopgehou,” sê Frans de Bruyn.

Die 53-jarige veeboer sê hy was alleen in sy plaashuis toe alarms by sy kraal om 22:40 afgegaan het.

“Ek kon hoor hoe die beeste bulk en die skape blêr en van die perde het ook onrustig rondbeweeg,” sê hy.

“Daar was die afgelope tyd verskeie veediefstalpogings in die gebied, so ek moes dadelik optree.”

Op pad kraal toe, in die stikdonker, het die skote begin klap.

ʼn Onbekende aantal verdagtes het sowat 50 m van De Bruyn af gestaan en skiet, maar hy kon nie eens sien waar die skote vandaan kom nie.

Hy sê sy jare in die weermag het hom voorberei vir ʼn situasie soos dié, want toe het sy “instink dadelik ingeskop”.

“Ek het platgeval en ook skote in hul rigting begin skiet. Ek kon op ʼn veilig plek agter ʼn muur skuil en hulp ontbied.”

De Bruyn het in ʼn kort stemboodskap hulp op die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-groep ontbied.  In die boodskap kan gehoor word hoe die skote in die agtergrond afgaan.

Hy sê dit was nie eers tien minute nie toe stop die eerste boere op sy plaas. Altesaam 20 boere en polisiebeamptes in vyf voertuie het op sy noodroep gereageer.

“Die reaksie van boere en die polisie was uitstekend, hulle was vinnig by my,” sê De Bruyn.

Ongelukkig kon die groep nie betyds die verdagtes opspoor nadat hulle van die toneel af gevlug het nie. De Bruyn sê hy weet nie eens hoeveel verdagtes daar was, of hoe hulle gelyk het nie. Dit was bloot net te donker gewees.

Hy kon wel al sy vee terugkry, wat te midde die skietery verbouereerd geraak en uit die verdagtes se greep ontsnap het.

“Dit het drie uur gevat om eindelik al die beeste weer in die kraal te kry,” sê hy. “Ek het glad nie geslaap nie.”

Hoewel speurders op die toneel was, is dit onbekend of die polisie die saak ondersoek. De Bruyn was nog nie by die polisiestasie nie, en Maroela Media wag nog op terugvoer van die polisie.

De Bruyn sê dit is nie die eerste keer wat sy plaas deur veediewe geteiken is nie, maar wel die eerste keer wat daar op hom geskiet is.

“Die Vader se hand was oor my want ek het niks oorgekom nie,” sê hy.

“Dankie is nie naastenby genoeg om te beskryf hoe ek voel nie. Ek is net so onbeskryflik dankbaar vir almal se hulp.”

De Bruyn is reeds besig om “boereplanne” te maak om sy vee nog meer te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

vuurvliegie ·

Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-groepe en boere moet geld belê in drones met nagsig en hitte sensors. Dis al manier om die skelm in die nag te vang.

Althes ·

Sterkte, ek is so dankbaar hy het niks oorgekom nie. Dis nie maklik om te boer in SA nie, maar met die Vader se genade sql hier ñ draaipunt kom.

Sandra ·

Dis wonderlik hoe die boere saamstaan en ook die polisie reageer het. Mag dit oral so wees, dan sal die diewe weet hulle sal hulle moses teekom.

FM ·

Super trots op ‘n boer met murg in sy pype.
Jip, ek stem vir daai LMG.
Weerstaan die duiwels en hulle vlug !!!!

Delia ·

Kan jy nie ook v koeelvaste baadjie dra as jy moet uitgaan in die nag nie.is dit verkrygbaar vir publiek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.