Kolisi: ‘Ons wou SA hoop gee, toe gee SA óns hoop’

Die Bok-bus in Durban. (Foto: Twitter/ Springboks)

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het Maandag – ná die seëvierende span se vrolike vierdaagse trofeetoer – namens die nasionale span sy opregte dankbaarheid teenoor Suid-Afrika se geesdriftige rugbyondersteuners te kenne gegee.

“Ons het die laaste paar dae die voorreg gehad om ʼn verenigde nasie te aanskou,” het Kolisi gesê.

Die Springbokke het van verlede Donderdag – op ʼn toerbus met die Webb Ellis-trofee – deur Gauteng, Kaapstad, Durban en Oos-Londen se strate gepronk. Duisende mense het die Bok-helde ingewag en die rugbywêreldkampioene (vir ʼn tweede agtereenvolgende keer) verwelkom.

“As die Springbok-span wou ons graag aan die mense van Suid-Afrika hoop gee, maar dié wat ons terug verwelkom het by die OR Tambo Internasionale Lughawe, en almal wat ons op die trofeetoer langs die strate en by die lughawens toegejuig het, het vir ons hoop gegee.

“Dit het ons geïnspireer om aan te hou wys dat jy, ongeag jou opvoeding, ras, godsdiens of agtergrond, enigiets kan bereik,” het Kolisi gesê.

Hy herinner Suid-Afrikaners dat die Springbokke voor die Rugbywêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland gesê het dat hulle vir die meer as 60 miljoen mense in Suid-Afrika speel.

“Die ondersteuning wat ons die laaste paar dae op die trofeetoer eerstehands ervaar het, was asemrowend. Die verwelkoming en tonele in 2019 ná ons oorwinning was spesiaal, maar hierdie verwelkoming was net iets anders,” sê Kolisi.

Hy sê die tienduisende mense “uit alle vlakke van die samelewing” wat in al vier provinsies langs die bus gedraf het om die Springbokke toe te juig, het vir hom die prentjie “van ʼn verenigde nasie” geskep.

“Ons hoop dat ons hierop kan voortbou en dit ook al meer in ons samelewing sal sien.”

Hy meen alhoewel die Springbokke eers volgende jaar weer na die rugbyveld terugkeer, dít wat hulle die laaste paar dae beleef het, hulle as span voortdurend sal motiveer en aanmoedig.

“Ons wens ons kon elke provinsie en elke gemeenskap besoek, maar ons moet nou terugkeer na ons klubs; dit was dus ongelukkig nie moontlik nie. Ons weet egter dat ons in elke provinsie presies dieselfde ondersteuning en passie sou ervaar,” sê Kolisi.

“Dankie, Suid-Afrika. Ons is lief vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Verenigde nasie? Nee wat, droom voort.

Verlede Woensdag het Melanie Verwoerd in News24 daarop gesinspeel dat Kolisi tot die politiek mag toetree.

Hennie Biebouw ·

Wel, as Kidi Amin met sy “H” in houtwerk dit kan maak in die politiek, dan kan Kolisi seker ook?

Delia ·

En vir die eerste keer hier moet ek met jou saamstem. God gee my hoop, nie n beker.

Deon ·

Al hierdie pogings om die land te verenig en beter te maak help absoluut niks. Kyk maar ook die Comrades en ander groot sportgebeurtenisse jaar na jaar. Sodra die politici betrokke raak vernietig dit al die mooi drome. Die nagmerrie is vinnig weer terug.

Leon ·

ai tog al die negatiewe kommentaar. Wees asseblief to meer positief. Ten minste bring dit darem samesyn en blydskap.Ons moet glo en bly hoop vir n beter toekoms.

Deon ·

Mens probeer positief bly maar die moedeloosheid oorval mens al te gereeld in hierdie land.

Delia ·

Verseker Leon. Ons moet positief wees. En die rugby was lekker. Maar dis nou genoeg. Ons moet aanbeweeg en probleme aanspreek
En terugkeer na God

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.