Kolleges skuld SA ‘die waarheid’ – Blade Nzimande

(Foto: Facebook / Damelin)

Educor het net homself te blameer vir die kansellasie van vier private hoër onderriginstellings se registrasie, het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, Dinsdag gesê.

Die lot van duisende studente is tans in die weegskaal nadat die departement Damelin, Lyceum College, CityVarsity en Icesa City Campus as hoër onderriginstellings gederegistreer het. Dit beteken dat studente nie hul studies daar sal kan voortsit of voltooi nie.

Volgens Nzimande het die instellings versuim om aan wetgewing en verwante regulasies te voldoen, onder meer die indien en bekendmaking van finansiële state (vir die 2021- en 2022-boekjaar) en belastingvrystellingsertifikate.

Die minister sê die instellings het meer as genoeg tyd gehad om probleme uit te stryk. ʼn Kennisgewing oor die direkteur-generaal van hoër onderwys se voorneme om hul registrasies op te skort, is immers al op 19 Augustus 2022 uitgereik en in die Staatskoerant gepubliseer.

Nzimande sê die instellings is wetlik verplig om te bewys dat hulle finansieel lewensvatbaar is, maar dat hulle herhaaldelik versuim het om dit te doen.

Verdere kennisgewings is in November aan die instellings uitgereik, maar weer het daar niks van gekom nie, sê die minister.

“Hulle het seker gedink ek is ʼn baie gawe minister, want hulle het keer op keer vir uitstel gevra. Uitstel is verlede jaar versoek, en nou weer.”

Damelin, CityVarsity, Lyceum en Pietermaritzburg-gebaseerde Icesa het tot Oktober om te appelleer teen deregistrasie, terwyl die instellings beveel word om bedrywighede onmiddellik uit te faseer tot die sperdatum.

Gedurende die uitfaseringstydperk word daar van die instellings verwag om hul jaarlikse finansiële sertifikate vir 2020 en 2021, jaarverslae en belastingklaringsertifikate wat hulle versuim het om te verskaf, en wat dus tot hul deregistrasie gelei het, in te dien.

Hierdie dokumente word wetlik vereis en moet die instelling se finansiële status, ʼn lys van bates, personeelvlakke, prestasies, diensbillikheidsplanne, langtermyndoelwitte, besonderhede van kursusse en studentegetalle, en hoe studenterekords geberg word, insluit.

Magdom probleme

Dít is egter net die oortjies van die seekoei.

Volgens Nzimande is verskeie ander ernstige probleme die afgelope ruk onder sy aandag gebring, insluitend dat Educor oneerlik oor sy studentegetalle is.

“Educor voer aan daar is 50 000 studente op sy stelsel. Dit is verkeerd. Jaarverslae van 2022 dui op ʼn aansienlike afname in studentegetalle. CityVarsity het 540 studente, Damelin het 4 012 studente, Icesa City Campus het 145 studente en Lyceum College het 8 399 studente. Dit is 13 096 studente. Nie 50 000 nie.”

Studente het glo ook punte ontvang van vraestelle wat nooit nagesien of afgelê is nie – glo omdat dosente nie by die werk was nie oor hulle nie salaris ontvang het nie.

“Hulle kan nie so jok nie,” het Nzimande gesê.

Volgens die minister het die gehaltekomitee van hoër onderwys ook die akkreditasie van verskeie akademiese programme by hierdie instellings herroep.

Hy het nog beweerde probleme gelys: swak onderriggehalte; power administratiewe ondersteuning; ondergekwalifiseerde personeel; bewerings van korrupsie en omkopery (waarop die instellings glo nooit gereageer het nie); geen terugvoer op versoeke vir terugbetalings nie; die uitbuiting van arm studente; ʼn gebrek aan professionaliteit en wanbetaling van salarisse.

Nzimande sê studente en personeel is weens hierdie probleme al verskeie kere gestrand gelaat.

CityVarsity se Braamfontein-kampus moes al noodgedwonge sluit omdat personeel se salarisse nie betaal is nie. Damelin se kampusse in Braamfontein, Gqeberha, Kaapstad en Oos-Londen moes ook skielik sluit weens agterstallige munisipale rekeninge. Lyceum College moes sy deure toemaak weens ʼn uitsettingsbevel omdat sy huur nie betaal is nie.

Die groot vraag is egter nou: Waar laat dit studente?

Nzimande sê die instellings het ʼn verantwoordelikheid om studente na ander toepaslike instellings te verwys waar hulle hul studies kan voltooi.

Educor sal ook ʼn uitfaseringsperiode kry. CityVarsity is met onmiddellike inwerkingstelling gesluit, terwyl die ander instellings tot die einde van die akademiese jaar tyd het om studente uit te faseer. Geen nuwe studente mag aanvaar word nie.

Studente moet ook terugbetalings ontvang waar dit van toepassing is.

Een van die uitdagings wat studente in die gesig kan staar, is die oordrag van krediet wat die erkenning van onderrig behels, asook akademiese krediete wat opgebou is.

Nzimande sê die departement is egter bereid om die instellings te help om ander toepaslike instellings te identifiseer waar studente hul huidige studies kan voortsit en voltooi.

“Ons is net so bekommerd oor die lot van studente – hetsy in die openbare of private sektor.

“Ons gaan dit egter nie vir hulle doen nie, maar ons sal help.”

Die instellings moet ook binne twee weke ʼn plan oor hoe die studies voltooi kan word, aan die departement verskaf. Studente se akademiese rekords moet ook aan hulle beskikbaar gestel word.

Nzimande het ook sy kommer oor die bestuurstruktuur – of gebrek daaraan – by Educor te kenne gegee.

“Daar is geen geloofwaardige bewyse wat daarop dui dat die bestuur van Educor besig is om sommige van die ernstige bestuurs- en voldoeningsmislukkings te verbeter of reg te stel nie.”

Hy het personeel aangeraai om hul vakbonde te nader en sake na die arbeidshof te neem.

“Educor skuld die land die waarheid.”

Maroela Media het ʼn navraag aan Educor gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Totale gebrek aan toewyding en standaard gepaart met finansiele misbruik en korrupsie. Onmoontlik tot regestelling. Deel van hul d n s. Ewebeeld van die anc.

Frank ·

“Ek het nie Graad 2 nie, nou sal niemand verdere opleiding kry nie….”

Ore ·

Maar agbare minister, help my asb . Is u verantwoordelik vir tersiêre instellings se doen en late? Indien wel het u u taak versuim want dit is nou al 2024 en wat het u gedoen om die instellings aan te spreek? Of argumenteer u ook soos u kollega Gordhan dat u die minister is en nie nodig het om op lae vlak betrokke te raak nie ?

Amelia ·

En skole loop oor en wat van die wat onder boom skool gaan wat se klaskamers so te se inmekaar val nee die minister sal nie daarvan praat nie

Christine ·

Glo my, om akkreditasie te kry en te behou is nie maklik nie, en met onopgeleide, swak kwaliteit personeel, weet maar dit gaan nie gebeur nie. As ek net dink hoe ons by die privaatinstellings ons agterente vir weke afgewerk het om te verseker elke dokument is korrek en volledig, als word gecheck en weer gecheck. Waar kom hulle daaraan dat onopgeleides onderrig-instellings kan hardloop? Als gaan vou, want die volk kan nie werk nie, en weet niks! Dink net 30 jaar terug wat se goeie instelling was Damelin, voordat hul baas die plek verkoop het en na Australië verhuis het. Nou lê als in sak en as, en die personeel sê seker dis apartheid se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.