Kommer oor ondersoek na Mia se moord

Mia Botha (Foto via Facebook)

Byna drie weke ná die moord op die vierjarige Mia Botha van die Paarl, Wes-Kaap, is gemeenskapslede besorg oor die polisie se stilswye oor die saak.

Die status van inhegtenisnemings is boonop ook in hierdie stadium nog onduidelik.

Volgens Kaylynn Palm, aksiesentrum-koördineerder by Action Society, het die party verneem dat die twee verdagtes wat ná Botha se moord in hegtenis geneem is, vrygelaat is. Action Society het ʼn mandaat van die Botha-familie ontvang om namens die familie toesig te hou oor die vervolging en om as ʼn toesigopdrag op te tree.

Maroela Media het navraag hieroor aan die provinsiale polisie gerig, en volgens AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, kan die polisie geen inligting oor die omstandighede rakende die ondersoek bekendmaak nie, omdat die ondersoek in ʼn sensitiewe stadium is.

“Die polisie sal geen inligting bekendmaak wat die sukses van die ondersoek in gevaar kan stel nie. Ons pleidooi in hierdie stadium is bloot dat ons die ondersoekbeampte toelaat om die ondersoek ongehinderd af te handel,” sê Swartbooi.

Volgens Palm respekteer hulle die polisie se besluit om nie al die inligting rakende die ondersoek beskikbaar te maak nie, maar voel hulle moet die gemeenskap op die hoogte hou van wat hulle wel doen om Mia se moordenaar op te spoor.

“Ons vrees dat hierdie saak dieselfde roete as dié van klein Chantelle Makwena sal volg, waar geregtigheid tot vandag nog nie geskied het nie.”

Chantelle is in 2019 in Rocklands naby Gqeberha (Port Elizabeth) vermoor.

Mia se liggaam is Maandagmiddag (26 September) agter die Nederburg Primêre Skool in Paarl-Oos gevind, nadat sy die vorige middag omstreeks 16:00 as vermis aangemeld is. Volgens inligting was daar krapmerke oor haar hele lyf.

Kort ná Mia se liggaam gevind is, het die polisie twee verdagtes in hegtenis geneem, maar hulle het nooit hul verskyning in die hof gemaak nie. Dit het tot gevolg gehad dat gemeenskapslede voor die hof oproerig raak.

“Die enigste ding wat die polisie skynbaar tot dusver gedoen het, was om polisiebeamptes te stuur om die gemeenskap te beheer nadat hulle kwaad geword het oor nog ʼn sinnelose moord op ʼn kind,” sê Palm. “Ons eis antwoorde oor hoe die ondersoek vorder en dring daarop aan dat hierdie saak die hoogste prioriteit geniet ten einde Mia se moordenaars te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Die kinder moorde in die kaap blyk n sinnelose siek gemeenskap te wees.Weereens faal die gemeenskap en polisie in hulle verantwoordelikhede.

E ·

Nie net die kaap nie, die hele land vol. In Benoni hierdie week is ‘n kind grusaam vermoor.

Lillian ·

Die regering hou aan geld mors op die “sixteen days of activism against women and child abuse” want vir jare gaan dit al so en hulle kon nog geen hond haar afmaak nie.

Melanie ·

Enige siek mens wat enige iets aan so klein lyfie doen, moet nooit weer n dag gelukkig wees in sy of haar lewe nie!! kyk daai kinderlike onskuldigheid wat so seer gemaak is. watse vrees moes deur daai klein lyfie gegaan het. mag God jul regsien, siek gemors!! rus sak poppie. Ek is so jammer jy moes seer kry. my hart huil vir jou en al die ander onskuldige klein lyfies

Swerwer ·

Die gemeenskap moet maar hande vat en self voortgaan met die ondersoek en die verdagtes self inhegtenis neem en dan in die openbaar voor die hof aan die lamsakkige SAP oorhandig. Sorg net dat die hopelose Cele ook teenwoordig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.