Kommissaris moet ‘regte ding’ doen

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: ANA)

“Mnr. Zuma het volgens wet nie sy vonnis klaar uitgedien nie. Hy moet na die Estcourt- korrektiewe sentrum terugkeer om dit te doen.

“Of die tyd wat mnr. Zuma spandeer het op onregmatige mediese parool in ag geneem moet word by die bepaling van die oorblywende tydperk van sy tronkstraf, is egter nie ’n saak vir hierdie hof om te besluit nie.”

Só lui die jongste uitspraak van die appélhof in die sage van oudpres. Jacob Zuma se mediese parool.

Regter Tati Makgoka het Maandag gesê die besluit of Zuma moet teruggaan tronk toe om sy volle vonnis van 15 maande vir minagting van die hof uit te dien, berus nou by die kommissaris van korrektiewe dienste.

Die DA, ’n respondent in die saak, sê dit is van “kardinale belang” dat die kommissaris “die regte ding doen”.

“Zuma moet gedwing word om sy vonnis uit te dien soos enige gewone Suid-Afrikaner gedwing sal word om te doen,” sê John Steenhuisen, DA-leier.

Die DA het die uitspraak verwelkom, maar Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting, het kort ná die uitspraak gesê Zuma gaan allermins terug tronk toe.

Makgoka het Maandag saam met die Pretoriase hooggeregshof gestem dat Zuma se vrylating op mediese parool onregmatig en ongrondwetlik was. Die uitspraak van die appèlhof beteken dat twee howe nou reeds bevind het dat Zuma nooit op mediese parool vrygelaat moes word nie.

Makgoka het egter wel die hooggeregshof se bevinding dat die tyd wat Zuma buite die tronk op mediese parool was nié van sy vonnis afgetrek kan word nie, ter syde gestel, wat beteken dat die kommissaris van Zuma ’n vry man kan maak.

Zuma is in September 2021 op mediese parool vrygelaat nadat ʼn verslag van sy dokter aan die departement oorhandig is. Dit sou dae later aan die lig kom dat Fraser goedkeuring vir die oudpresident se vrylating op mediese parool gegee het ondanks die adviesraad vir mediese parool wat die aansoek afgekeur het.

Makgoka het egter nou in sy uitspraak gesê Fraser was as kommissaris hoegenaamd nie gemagtig om Zuma op mediese parool vry te laat nie aangesien die raad die “uiteindelike besluitnemer” is.

“Die kommissaris het geen diskresie oor die vraag of ʼn gevangene aan ʼn terminale siekte ly nie,” aldus Makgoka.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die feit dat Zuma wel mediese parool ontvang het, al het hy nie daarvoor gekwalifiseer nie, dui daarop dat prominente politici voorkeurbehandeling by korrektiewe dienste ontvang.

“Die grootste klug is egter dat Zuma, wat ’n jaar gelede nog skynbaar terminaal siek was, nou weer aktief by politiek betrokke is en poog om ’n hoë posisie in die ANC te beklee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pietertjie ·

En só stuur hulle die vrot eier (of koue patat) al in die rondte. Iewers gaan hy dalk “wegraak”.

Maritza ·

Asb nie, dink nie die besighede kan weer soveel onluste bekostig nie

Dirk ·

Hy moet tronk toe. Dit is tyd hierdie korrupte mense betaal vir wat hulle gedoen het aan die land. Wat dink jy gaan gebeur as niks gedoen word nie?

Kokerboom ·

Dis nie die kriteria! Dis sy straf. Dis ‘n toets vir veiligheidsmagte om vorige anargie in kiem te smoor of publiek gaan dit self doen!

Piet parys ·

Van Pontuis na Pilatus en almal is bang vir Zuma om die finale besluit te maak . So die hof besluit gaan tronk toe maar n ander skepsel buite die hof besluit of hy moet . Wat n klug

Nettie ·

Hierdie is nie iets wat in EEN persoon se mag en hande moes lê om te besluit nie. Hierdie moes iets wees wat deur reels en regulasies omskryf word. Dit voel bitter onregverdig dat iemand wat onregmatig vrygelaat is, met geld die howe lank genoeg besig kon hou en dan te kan sê jammer, die tyd is nou verstreke wat ek in die tronk moes wees. Dit stink.

Francois ·

Die DA het nou die uitspraak gekry waarop hulle gehoop het. Nou moet hulle asb net solank op al die voorblaaie, amptelike kanale en nuusberigte betyds vir staatsveiligheid, intelligensiedienste, minister en ander ampsdraers by die polisiediens, dié minister van verdediging en ander weermag ampsdraers, laat weet dat hulle baie naby op bystand moet wees om dalk, net per ongeluk, n herhaling van laasjaar se opstande, rooftogte, vernietiging en diefstal te kan keer of verhoed. Net sodat hulle nie weer na die tyd kan sê hulle het dit nie verwag nie, die inligting het nie by hulle uitgekom nie en die president weer verbaas kan sê – `”I am shocked”…

domheks ·

Nou wat gebeur nou met Fraser?? Onregmatig mediese parool toegestaan, dis mos bedrog! Seker ook vir Shaik onregmatig toegestaan. Darem lekker as jy sulke pelle het.

Fran ·

Niemand in hierdie patetiese regering het die balle om die suurstofdief terug te stuur tronk toe nie.

marius ·

Hy sal nie ‘n dag sit nie . Daarvoor is die regstelsel te papbroekig .

Kokerboom ·

Die tronkstraffie is net oortjies van seekoei . Vir sy hoogverraad teen land moet hy vir ewige weggebêre word!!!

Vanessa ·

Hoe op aarde kan Frazer oor so iets besluit. Geregtigheid moet geskied. Wie is Zuma dat hy nou spesiale behandeling moet kry. Enige een kan reël vir ‘n brief van ‘n dokter om tronkstraf vry te spring. Ander mense dien hul vonnis uit en sterf in die tronk (siek of nie), maar dit lyk my nou as jy kamstig siek is dan kom jy weg met moord. Nee wat dit werk nie so nie!!!!!!

My siening ·

Mzwanele Manyi is jy nou benewe die hof of is jy ook maar deel van ret bende@

Yvonne ·

So ek lei af howe het nie die laaste se nie……my kop is te klein

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.