Kommissie soek ‘straf, nie verskyning’ vir Zuma

Oudpres. Jacob Zuma vroeër vandeesmaand. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrika se hoogste hof het Donderdag ʼn dringende aansoek aangehoor waarin gevra word om oudpres. Jacob Zuma twee jaar lank tronk toe te stuur vir sy versuim om gehoor te gee aan ʼn bevel om voor die Zondo-kommissie te getuig.

Zuma, wat in 2018 weens korrupsiebewerings gedwing is om sy amp neer te lê, het sy neus opgetrek vir die kommissie wat aangestel is om bewerings van staatskaping tydens sy termyn te ondersoek en voer aan Raymond Zondo, die kommissievoorsitter, is bevooroordeeld teenoor hom.

Die oudpresident het een keer in Julie 2019 getuig voordat hy uit die kommissie gestap het.

Die Konstitusionele Hof het hom in Januarie vanjaar beveel om voor die kommissie te verskyn – ʼn bevel wat hy verontagsaam het.

Tembeka Ngcukaitobi, die Zondo-kommissie se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê Zuma se versuim om aan die bevel te voldoen was “doelbewus en sinies” en ʼn “aanval” op die oppergesag van die reg.

“Sy gedrag moet beskou word vir wat dit is. Ons het hier te doen met ʼn siniese poging om aanspreeklikheid te ontduik.

“In sy versuim om gehoor te gee het hy ook ʼn strydlustige en uitdagende houding aangeneem,” het Ngcukaitobi aan die hof gesê.

Hy voer aan die 78-jarige Zuma moet tronkstraf opgelê word vir sy minagting van die hof en dat sy “status as oudpresident hom nie teen die wet beskerm nie”.

Ngcukaitobi voer voorts aan Zuma beledig die land se hoogste hof.

Die oudpresident het vroeër vanjaar in ʼn verklaring die hof met die apartheidsera-regbank vergelyk.

“Dié hof het self die teiken van mnr. Zuma se woedende, dreigende en uitlokkende tirades geword,” het Ngcukaitobi aan die hof gesê.

“Ons vra nie vir sy verskyning nie. Ons vra vir sy straf.”

Zuma word daarvan beskuldig dat hy ongebreidelde korrupsie tydens sy ampstermyn moontlik gemaak het. Hy het in 2018 die tuig neergelê oor skandale wat hoofsaaklik met die omstrede Gupta-familie verband gehou het. Die Guptas het winsgewende staatskontrakte bekom en was glo selfs in die posisie om oor kabinetsposte te besluit.

Ngcukaitobi sê indien die bewerings bewys word, gaan dit ʼn groot bedreiging vir die demokrasie inhou.

Nóg Zuma nóg enige lede van sy regspan het Donderdag se hofverrigtinge in die Konstitusionele Hof bygewoon.

Uitspraak is onbepaald voorbehou.

James Grant, ʼn grondwetkenner in private praktyk, sê Zuma het nie veel opsies as hy kies om nie die aansoek teen te staan nie.

“In die algemeen word minagting van die hof nie as ʼn besonder ernstige oortreding beskou nie,” sê Grant.

Die minister van justisie, Ronald Lamola, het gister gewaarsku dat ʼn uitdaging van die oppergesag van die reg kan “ontaard in anargie”.

ʼn Handvol van Zuma se ondersteuners het buite die hof betoog en slagspreuke ter ondersteuning van die oudpresident gedreunsing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Wonderlik as minagting v d hof nie ernstig is nie kan ons almal nou maar maak wat ons wil.Die polisie weermag val uit mekaar misdadigers sit in die parlement.Weet nie hoekom swoeg en sweet ons om ligaam en siel aanmekaar te hou nie ons almal kan nou net vat wat ons wil he.

Aikie ·

Indien Zuma met die truuk wegkom kan die Zondo komissie maar sy deure toemaak. Dan het hulle GEEN outoriteit nie. Ewenwel, dan gaan die ongure kwosient die selfde truuk gebruik en absolute anargie in ons pragtige land veroorsaak. Apartheid kan dan maar gaan kers opsteek by die nuwe Suid Afrika oor hoe om ‘n land vinnig die grond in te dryf. Apartheid kan dan amper’ n mooi ding wees. Ten minste was daar dissipline en orde.

Pieter ·

En so word ons belasting betalers se geld gemors. Die land se regstel is n grap nes die ANC. Ek is bly om te hoor minagting is nie ernstig nie. So in die toekoms as jy gedagvaar word om hof toe te gaan kan jy maar self besluit of het jy lus of nie.

Dup ·

Dreunsing,dans,bande brand,vullisblikke omgooi en infrastruktuur vernietig is AL wat hulle kan doen.Bewys my verkeerd…

Rentia ·

Dit is kommerwekkend dat dieselfde hof wat hom verplig het om te verskyn, nou uitspraak onbepaald voorbehou, Hulle het in der waarheid gesê: “ons dink daar is meriete aan die saak, dus moet jy verskyn” maar nou kan hulle na weereens amper twee maande nie sê ja sluit hom toe nie? Kan nie help om te wonder, JZ was vir baie jare die hoof van intelligensie. Hy weet letterlik al die skandes en vuil wasgoed van almal. Polisie, weermag, wat oor is van die lugmag en vloot en die hele regering. Hoe werklik skoon is die regters? Het nie een van hulle die posisie gekry met hulp van velkleur of iets wat nie moes gebeur het nie?
En nee ek het absoluut niks teen kleur. As jy jou werk kan doen, verdien jy om ‘n regter te wees. Vandag se gebeure laat egter meer vrae as antwoorde…

Strandloper ·

Knap saam gevat! Rompie slompie is te veel van n lafaard om te piep anders word sy vuil wasgoed gewas!

Debbie ·

Kan nie verstaan hoe niks gedoen word teen hom as hy nie opdaag vir hof nie. Doen die algemene ou dit word jy gearresteer vir minagting van die hof. Die probleem is hy weet niks sal aan hom gedoen word nie

Dries ·

MINAGTING VAN HOF NIE N ERNSTIGE OORTREDING NIE ?????? Maar wel ernstig genoeg om n boelie kind wat die hof geminag het summier tronk toe te stuur. Wie is hierdie Zuma dat hy die hof nie net minag nie maar sommer die hof sleg te se sowel as die adjunk regter van SA

Mariana ·

En elke keer wat hierdie saak sloer en uitgestel word maak dit Zuma se minagting van die land en sy mense groter. Hy weet hy gaan vry uitstap uit als want hy word beskerm. So waarvoor verder tyd en geld mord as hulle hom nie gaab tronk toe stuur nie. Ongelukkig is dit hoe dit is…….SA is reeds in sy peetjie.

marius ·

Hierdie spul kan maar net sowel die see probeer leeg skep met ‘n tee siffie .

Nie Verbaas ·

Hy sal nie toegesluit word nie. JZ weet van almal in die regering se korrupsie. Dit sal neusie verby wees vir ANC indien hulle besluit om hom toe te sluit. ANC sal dit nie toelaat nie.

pompies ·

As ons gelukkig is om hom te sien tronk toe gaan moet sy pensioen en voordele onmiddelik opgeskort word want dan is hy mos n gas van die staat en het ie geld nodig nie. Alles word dan mos vir hom betaal, kos,klere, medies, blyplek alles kry hy verniet.

Inkpot ·

Was dit ‘n gewone landsburger sou die persoon sonder versuim toegesluit word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.