Kommissie waarsku teen dié meubelmaatskappy

Milo Designs sê hul maatskappy is nie ‘n slenter nie en dat dié hul eie meubels is. (Foto: Verskaf / MC Wood)

Die Nasionale Verbruikerskommissie waarsku Suid-Afrikaners om waaksaam te wees wanneer hulle sake met ʼn maatskappy genaamd Milo Designs doen, aangesien dié meubelmaatskappy glo net ʼn rookskerm vir ʼn aanlyn slenter is.

Die kommissie sê hy het verskeie klagtes van verbruikers ontvang wat beweer hulle is deur Milo Designs ingedoen nadat hulle vir goedere betaal het wat op die maatskappy se Facebook- en Instagram-blad geadverteer is.

Die verbruikers het glo tussen R10 000 en R1,2 miljoen per transaksie betaal.

MC Wood, eienaar van Milo Designs, het egter aan Maroela Media gesê al die bewerings wat die kommissie maak is vals en dat die maatskappy bloot logistieke en vervaardigingsuitdagings ondervind.

Milo Designs se Facebook-blad. Die eienaar sê hulle gebruik wel internetfoto’s vir hul advertensies.

Milo Designs se Facebook-blad beskryf die maatskappy as ʼn verskaffer wat “unieke meubels vervaardig van wêreldklasstandaarde wat die meeste mense se behoeftes sal bevredig”.

Die Facebook-blad is in 2014 geskep en het reeds meer as 264 000 volgelinge.

“Ja, ons het verskeie uitdagings gehad met aflewering, maar as jy met verskeie kliënte kommunikeer wat vir hul bestelling gewag het of selfs versamelings van my vervaardigers bestel het, sal hulle duidelik bevestig dat ons wel bestaan ​​en dat hulle hul bestellings ontvang het,” het Wood gesê.

Milo Designs se Facebook-blad. Die eienaar sê hulle gebruik wel internetfoto’s vir hul advertensies.

Hy sê Milo Designs gebruik verskeie vervaardigers in KwaZulu-Natal.

“Dit is nie ʼn slenter nie. Dit is ʼn klein onderneming wat ek bestuur. Ek het my bestellings na vier tot vyf per maand verminder en probeer om by my aflewerings te hou. Wanneer daar logistieke of vervaardigingsprobleme is, probeer ek soveel as moontlik met my kliënte kommunikeer om vertragings te verduidelik.”

Volgens Thezi Mabuza, die waarnemende nasionale verbruikerskommissaris, het Milo Designs egter geen bedoeling om enige goedere aan verbruikers te lewer nie en is die maatskappy ook nie van plan om mense se geld terug te betaal nie.

Mabuza sê Wood en LM Kotze, ook verbonde aan Milo Designs, gee boonop nie hul samewerking in die ondersoek nie.

Milo Designs sê hul maatskappy is nie ‘n slenter nie en dat dié hul eie meubels is. (Foto: Verskaf / MC Wood)

“Die kommissie het verskeie reëlings getref om hulle [Kotze en Wood] te ontmoet en ʼn ondersoeksertifikaat op hulle te beteken, maar dit was vergeefs.

“In die meeste gevalle kanselleer hulle vergaderings op die nippertjie, wat dit moeilik maak om die ondersoek af te handel. Addresse wat vir hierdie mense verskaf is, is boonop net vervalle geboue,” het Mabuza gesê.

Wood sê die kommissie het egter nog net een keer aangedui hulle wil hom besoek, en dat hy dié afspraak moes kanselleer omdat iets anders voorgeval het. Daarna het hy glo nie weer van hulle gehoor nie.

Die kommissie sê voorts dat die foto’s van die meubels wat Milo Designs in hul bemarking gebruik, nie eers van Suid-Afrika afkom nie, maar van verskaffers in lande soos Colombië en Kanada.

Milo Designs sê hul maatskappy is nie ‘n slenter nie en dat dié hul eie meubels is. (Foto: Verskaf / MC Wood)

“Die kommissie kon bevestig dat die foto’s van ander webwerwe soos Pinterest, Instagram en Facebook gesteel is.”

Wood betwis ook dié stellings van die kommissie en het verskeie foto’s van hul eie produkte aan Maroela Media gestuur.

“Ek kan duisende foto’s vir jou stuur. Ja, ek gebruik internetfoto’s vir advertensies. Ek sal egter niks publiseer as ek nie seker is dat ek ʼn presiese weergawe daarvan kan maak nie. Ek verseker altyd dat my goedere 100% dieselfde is as wat geadverteer word.”

Die kommissie sê verder dit is ’n verskaffer se verantwoordelikheid om goedere by die ooreengekome plek op die ooreengekome datum af te lewer. Verbruikers word ook versoek om waaksaam te wees wanneer hulle enige transaksies aanlyn doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Klein onderneming om mense in te doen. Hoop iemand dagvaar die rook uit jou uit en maak jou deure toe.

SwartBees ·

Soos daai Louis Liebenberg skelm wat die mense ook so melk met sy kamstige goud en diamant slenter vir geld om sy luukse lewe te sponsor. Mog hulle eendag hull dag kry vir rekenskap.

Swerwer ·

Mag almal wat ingedoen is, saamspan en die die “Eienaar” dagvaar . Sulke diens is onaanvaarbaar. Waar is die Anti Korrupsie eenheid. Kan hul nie ingryp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.