Konsertgangers boos ná Robbie Williams-aankondiging

Robbie Williams tree volgende jaar in Suid-Afrika op. (Foto: Big Concerts/Facebook)

Die Britse popster Robbie Williams sal vroeg in volgende jaar in Suid-Afrika te sien wees by die Calabash-musiekfees, maar soos een van sy grootste treffers lui, is sommige konsertgangers blykbaar nie almal in ʼn “Let Me Entertain You”-bui nie.

Konsertgangers is boos oor Big Concerts se besluit om die fees onverwags oor twee dae te laat loop, met sommiges wat die organiseerders as “slinks” en “geldvrate” op sosiale media uitgekryt het.

Big Concerts, organiseerders van Calabash, se Facebook-blad gons sedert die aankondiging dat Williams die dag vóór Green Day en The Offspring by onderskeidelik die FNB-stadion in Johannesburg en die DHL-stadion in Kaapstad sal optree.

Die musiekfees vind dus nie weer soos verlede jaar op een dag plaas nie, maar is oor twee aande versprei.

Aanhangers wat verlede maand inderhaas kaartjies gekoop het vir wat hulle aanvaar het die enigste konserte in beide Johannesburg of Kaapstad sou wees, sal nou ʼn tweede kaartjie moet koop as hulle vir Williams ook wil sien optree.

Williams sal op 18 Januarie in Johannesburg en 22 Januarie in Kaapstad die Calabash-fees se hoofkunstenaar wees, waarna Green Day en The Offspring onderskeidelik op 19 en 23 Januarie sal optree.

Dit is nog nie bekend watter ander kunstenaars by Williams sal aansluit nie.

Talle het daarop gewys dat kaartjies vir Green Day en The Offspring hulle reeds duisende rande uit die sak gejaag het en hulle graag vooraf die geleentheid sou wou hê om tussen die twee dae te kies.

“Big Concerts, ek dink dit is skelm van julle kant af! Julle het lank gelede geweet dit is die plan en julle kon dit vooraf so aangekondig het om mense die geleentheid te gee vir ʼn  naweekpas of ʼn gekonsolideerde kaartjie,” skryf Glen Theron op Facebook.

Big Concerts het op baie kommentaar gereageer en beweer dat dit “ʼn rukkie geneem het” om Williams as kunstenaar vir die fees te bevestig, daarom die besluit om die aankondiging later te maak.

“Die rede waarom ons die twee aande apart hou, is om ʼn verskeidenheid musiekgenres aan al ons konsertgangers te gee. Die gasoptredes vir Robbie Williams (wat nog aangekondig moet word) sal in lyn wees met dieselfde genre wat heeltemal anders sal wees as die tweede aand met Green Day,” het die organiseerders op soortgelyke kommentaar gereageer.

Ander sosialemediaverbruikers het daarop gewys dat Williams en Green Day baie uiteenlopende aanhangers het en dit juis verkies om die fees in twee dae vir verskillende gehore te verdeel.

Willams op die verhoog. (Foto: Facebook/Robbie Williams)

Kaartjies vir Williams se optrede sal vanaf Vrydag 12 April om 09:00 by Ticketmaster beskikbaar wees. Discovery Bank-klante kan egter reeds op Woensdag 10 April om 09:00 kaartjies begin aanskaf.

Die pryse van die kaartjies is nog nie bekend nie.

Die laaste keer wat Williams Suid-Afrika besoek het, was in 2006 toe hy sy grootste wêreldtoer ooit, Intensive Care na Pretoria, Kaapstad en Durban gebring het.

Hy spog met ʼn rekord van altesaam 18 Brit-musiektoekennings, ses van die Top 100- albums in die Britse geskiedenis, ʼn verbysterende 80 miljoen albumverkope wêreldwyd en altesaam 14 enkelsnitte in die no. 1-posisie.

Hy het in die vroeë negentigs bekendheid verwerf toe hy deel was van die popgroep Take That.

Take That, wat nou ʼn drietal is, tree in Oktober vanjaar in Suid-Afrika op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Dit lyk my geld is nie ‘n skaarste by mense in SA nie.Daardie kaartjies is nie goedkoop nie.Al het ek die geld gehad sou ek eerder dit spandeer aan basiese noodsaaklikhede.Ek wens een van die rykes wil my sponser sodat ek kan kos koop.

MrMagic ·

Is so dankbaar dat smaak verskil. Ek sal nie eens gratis na die vertonings gaan kyk nie.

melaney ·

Mense kla erg oor die hoë rentekoers, stygende pryse, ens., maar hulle kan sulke geleenthede bywoon. Lyk my die rykes word ryker en die armes word armer.

ronel ·

Casper meeste “rykes”wat geld op kaartjies spandeer het heel moontlik vir hulle geld gewerk en is seker geregtig om hul geld na hulle eie goed denke te spandeer, net soos jy dan ook voel jy sou die geld op ‘n ander manier spandeer het.

AREND1 ·

As ek in ʼn voorregte posisie was om ryk te wees,sou ek nie geld gemors het op kaartjies nie.Ek so die geld eerder geskenk het vir liefdadigheid.

George ·

@Casper, vir die kunstenaars wat kom, is die kaartjies glad nie duur nie. Kyk wereldwyd pryse wat Greenday kry, dan is R550 glad nie sleg nie $30 is niks.

Bolandse Nooi ·

@George, vir jou as huidig-bevoordeelde in ‘n goedbetaalde-staats “joppie”, is $30 seker niks, maar vir ons huidig-benadeeldes is R560.00 nogal baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.