Konvooi met 133 ongedokumenteerdes voorgekeer

(Foto: Verskaf)

Die polisie in Limpopo het Donderdagaand ʼn konvooi voertuie met meer as 100 buitelandse burgers sonder die vereiste dokumentasie buite Polokwane voorgekeer.

Die voertuie was van Zimbabwe na Polokwane op pad toe die konvooi omstreeks 18:30 op die N1 buite Polokwane voorgekeer is.

Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê toe die konvooi van 11 voertuie voorgekeer is, is daar nie minder nie as 133 kinders, vroue en mans sonder die nodige dokumentasie aangetref.

Dit sluit in 73 minderjarige kinders tussen ses maande en 17 jaar oud én 60 volwassenes in agt Toyota Quantums, twee Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkies met kappies en een Toyota Fortuner.

Mashaba sê die konvooi is gisteraand op ʼn taktiese wyse genader, gestop en deursoek.

Die passasiers van die voertuie kon nie geldige dokumente verskaf vir hul aanwesigheid in die land nie en is op die plek in hegtenis geneem.

“Die meeste van die passasiers kon ook nie aandui waarheen hulle op pad is nie en is vermoedelik slagoffers van mensehandel.”

(Foto: Verskaf)

Die polisie het op die voertuie beslag gelê en die hulp van belanghebbendes waaronder die departement van binnelandse sake en die departement van maatskaplike ontwikkeling ingeroep om aandag te gee aan die buitelandse burgers en vermeende slagoffers van mensehandel.

Die polisie se ondersoek duur intussen voort.

Die voorval volg kort nadat ʼn man en ʼn vrou van Zimbabwe vandeesweek met 14 kinders tussen ses en 14 jaar oud en sonder dokumentasie in Kimberley in die Noord-Kaap voorgekeer is.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig ʼn oplettende passasier het in Gauteng onraad vermoed toe die twee Zimbabwiese burgers met agt jong seuns en ses jong meisies op ʼn bus in Midrand geklim het. Die bus was op pad van Johannesburg na Kaapstad.

Die kinders het vuil en honger gelyk en het geen bagasie by hulle gehad nie.

Die passasier het ʼn polisiebeampte gekontak wat op sy beurt nog polisiebeamptes in kennis gestel het.

Die twee Zimbabwiërs is eindelik voorgekeer en in boeie geslaan toe die bus in Kimberley stilgehou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Loun ·

Mensehandel? Ek begin wonder daaroor … as daar 60 volwassenes is in 11 voertuie en hulle kan hulle nie verdedig teen 11 bestuurders nie dan weet ek nie so mooi nie….. klink maar eerder soos n vrywillige invoer van stemme solank…..

hpven ·

Hoeveel word nie per toeval voorgekeer en glip deur! Duisende waarvoor die krimpende aantal belastingbetalers alreeds moet pa staan, en nog duisende om te kom. Ons tel voort tot belasting geld te min word, dan begin die probleme. Leer uit die probleme wat Frankryk alreeds ondervind waaronder toestroming van terroriste!

Hendrik ·

Weet nie presies hoe die regering hier konkel nie. Hulle is efter tot alles instaat. Stemme met die nodige beloftes,,,,,vergoeding ens??

sam ·

Nou hoeveel buitelanders is reeds klaar in ons land onwettig al wys jou net sapd Kan nie hul werk doen nie minders die grensposte

ilse ·

Hoe het hulle oor die grens gekom. Waar was die sg nuwe beamptes? Klaar gekorrupteer?

Andre ·

…alles in Limpopo; ek wonder of onse Julius nie weer met streke besig is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.