Koos Malan nou by Sakeliga  

Prof. Koos Malan

Sakeliga het die stigting van sy Sentrum vir Konstitusionele Dinamika aangekondig en ook bekend gemaak dat prof. Koos Malan die eerste genoot daarvan sal word.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, is die doel van die sentrum en genootskappe om kundiges te betrek wat Sakeliga en sakelui kan help om konstitusionele verandering te verstaan  en te vorm vir ’n gunstige ekonomiese omgewing in alle gemeenskappe waar sake gedoen word.

“In die dekade wat voorlê, sal ons ’n goeie sake-omgewing moet skep in die aangesig van ongekende vlakke van staatsverval en veelvuldige pogings tot skadelike staatsinmenging. Ons sal moet litigeer soos nog nooit tevore nie, en ons sal instellings moet ontwikkel wat in staat is om onafhanklike ekonomiese aktiwiteit te onderhou. Beide hierdie ondernemings verg diepgaande en onkonvensionele konstitusionele denke.”

Ingevolge die genootskap het Sakeliga nou deurlopende toegang tot Malan se konstitusionele kundigheid en raadgewing, asook sy bystand met die ontwikkeling van die sentrum as ’n staande eenheid by Sakeliga.

Die sentrum se aktiwiteite sal onder meer insluit die evaluering van die werklike en dinamies veranderende toestand van die konstitusionele bestel in Suid-Afrika, deur teoretiese navorsing en praktiese analise sowel as die ontwikkeling en bystand van ’n netwerk van regspraktisyns, juriste en litigante om konstitusionele dinamika te verstaan ​​en gunstig te beïnvloed.

Le Roux het gesê Sakeliga sal met die hulp van die sentrum en sy genote poog om konstitusionele sake sterker te beïnvloed ten gunste van ’n gunstige sakeomgewing vir alle gemeenskappe waarin sy lede sake doen.

Malan se genootskap kom ná ’n invloedryke 15 jaar lange loopbaan as professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Malan is ’n konstitusionele juris en emeritusprofessor in publiekreg. Voordat hy in die akademie betrokke geraak het, was Malan ’n staatsaanklaer en daarna ’n landdros.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Ervare bewese akademiese oorlewingskundiges versus sluwe bose bloeddorstige ondergangsbeplanners. Is dit die toekomssenario vir SA: Dawid met sy slingervel terwyl Goliat se koeëls neerreën? Dit raak tyd om soos vasgekeerde Bloedriviertrekkers dringend te bid (biddienste in te stel of daaglikse bidtye tuis) vir Hulp en Raad van Bo. Sonder Hom is alle planne sonder positiewe uitkoms.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek dobbel nie, maar sal my geld plaas op die sluwe bose bloeddorstige ondergangsbeplanners. Hulle het die mag en gebruik ons belastinggeld om ons te sink. Sal hulle luister na goeie rede? Ek twyfel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sakeliga staar enorme uitdagings in die gesig om ‘n gunstige ekonomiese omgewing te skep in die “aangesig van ongekende vlakke van staatsverval en veelvuldige pogings tot skadelike staatsinmenging”. Dit laat my dink aan daai Spanjaard op sy perd wat op sy eie ‘n windmeul bestorm. Die regime respekteer nie die wet nie en hou die meerderheid gelukkig met korttermyn beloftes. Die meerderheid het hul eie ligas soos BMF om hul agendas na te te jaag. Die ou AHI is ook gekaap en ‘n nuwe naam gegee. Indien Sakeliga begin aandag trek sal dit ook deur die meerderheid gekaap word onder die dekmantel van inklusiewiteit. Die staatkundige bestel is eenvoudig teen ons en dit gaan nie verander nie. Nuwe oplossings moet gevind word, eerder as planne om aan te pas. Alles onder die radar. Nietemin, sterkte Koos.

Hendrik ·

Ja nee die enigste mense wat nie saamstaan nie is die mense wat gewoonlik se ‘Ons kan nie saamstaan nie’.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hendrik, pak KK op en hervestig in die Wes Kaap. Deel julle kennis met gemeenskappe hier. Saam kan ons dan vinnig vorentoe beweeg na ‘n nuwe bedeling.

Pieter J ·

Ek dink prof. Koos Malan is ń aanwins vir enige organisasie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Beslis, ons afstigters in die WK kan hom beter benut.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.