Koster, Swartruggens: Magalies Water nou aan stuur van sake

Argieffoto ter illustrasie van die watersituasie in Koster en Swartruggens. (Foto: Facebook)

Die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit het sy riool- en waterwerke in Swartruggens en Koster aan Magalies Water oorhandig om vir die volgende drie jaar te bedryf en te onderhou.

Dít nadat die Mafikeng-hooggeregshof in Noordwes in Desember die saakwaarneming van dié wanfunksionele munisipaliteit se riool- en waterwerke aan die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners, kortweg KDS, oorhandig het.

Die KDS het aanvanklik die onmoontlike reggekry deur die bestuur van dié riool- en waterwerke in Swartruggens en Koster oor te neem. Die KDS het egter nou vroeër vandeesweek met die munisipaliteit ooreengekom om dit in Magalies Water se hande oor te laat.

Pinky Mokoto, voorsitter van Magalies Water, sê nou die waterraad sien kans daarvoor om saam met die sukkelende munisipaliteit te werk hoewel Magalies Water al voorheen nie deur die munisipaliteit betaal is nie.

Mokoto het toegegee dat Magalies Water bekommerd is oor die uitdagings wat die Kgetleng-gebied se voorland is.

“Hierdie proses gaan egter nie net oor vure doodslaan nie. Ons is hier om op te bou en die munisipaliteit te bemagtig. Ons wil die munisipaliteit en die gemeenskap verseker van ons gereedheid en ons verbintenis as Magalies Water om die werk te doen en watervoorsiening en sanitasiedienste te herstel.”

Die LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, Mmoloki Cwaile, sê hy het volle vertroue in Magalies Water.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Lekker lag ek nou vir die spul…as jy nie betaal vir dienste nie , gaan daar nie dienste wees nie. Dis al waaroor dit gaan…gemeenskappe wat nie kan betaal nie moet tevrede wees met n put-toilet. Hardseer maar dis hoe dit is “back to the trees”.

annie ·

… moedverlore se vlakte. En met wie se geld gaan die wonderwerk in Putsonderwater gedoen word? Mens ruik die hoop dat Maarskalk Max die Grote sy septer sal swaai en AfriForania opkommandeer (plus beursie) om die vyand te kom verslaan… onthou tog net die no 95-gasmasker (not made in Africa).

Dis my mening ·

Hahahahaha!!! Met nog n ha daarby! Moenie dink jul gaan beter af wees met magalies water nie, ons hier in Cullinan sit ook met malies water, en het sover nog net meer probleme!! Dit hou nie op nie! Beter om te privatiseer!

Elsabe ·

Moenie die mense oorlaai met admin en werk, dit werp nie vrugte af.

Andrew ·

Eksponensieel vermeerder die gebruikers , al minder word die betaalers. Siedaar.

Andrew ·

Dan moet ons ook noem. Dankie vir paar wat uit eie sak die werk gedoen het. Hoop maar die storie is n jaar van nou af nog aan die gang. Nie seker of ek my geld vir n tweede keer so wil weg gee nie.

Annalize ·

Dis als goed en wel dat iemand nou moes intree en oorvat MAAR wat word gedoen in terme van volhoubare water alternatiewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.