Chrisna Botha (20) is Dinsdag in die Mediclinic Bloemfontein oorlede nadat sy oor die naweek van haar perd afgeval het.
Botha en Morné van der Westhuizen (19) was albei tweedejaar onderwysstudente aan die Universiteit van die Vrystaat. Hulle het glo vir sowat ʼn jaar uitgegaan. Hulle vriende het hulle as ʼn baie liefdevolle paartjie beskryf, en Botha het Van der Westhuizen glo as haar trouman beskou.
“Nou is hulle saam,” het talle studentevriende van die paartjie Dinsdag op sosiale media gesê.
Maroela Media het vroeër berig Van der Westhuizen het Maandag omstreeks 11:00 by die hospitaal na sy dood gespring nadat hy gehoor het Botha is breindood verklaar. Hy het aan een van hul gemeenskaplike vriende, Claudia Hanekom, gesê hy kan nie sonder haar [Chrisna] lewe nie.
Botha is Saterdag in ’n kritieke toestand met ernstige kopbeserings na die hospitaal gehaas nadat sy vroeër die dag op hul plaas naby Lady Grey van haar perd afgeval het. Sy het Dinsdag aan haar beserings beswyk.
“Ek sal jou nooit vergeet nie,” het Hanekom Dinsdag oor Botha op haar Facebook-blad geskryf. “Ek gaan jou só vreeslik mis. Ek het nie eens woorde nie. Jy was nog altyd meer as my beste vriendin. Jy was my sussie. Jy was daar toe niemand was nie. Ek is so vreeslik lief vir jou. Rus in vrede my sussie. Eendag sal ek jou weer sien. Gaan en geniet die Wyn daar Bo.”
Intussen het Amanda Appelgryn, die hospitaal se woordvoerder, gesê die hospitaal gaan alle moontlikhede ondersoek om die hospitaal te beveilig. Van der Westhuizen was tweede persoon wat sedert 18 April 2013 van die sewende verdieping na hul dood gespring het.
Lees ook:
Kovsie-student spring glo ná hy tragiese nuus hoor
Student spring na sy dood by Mediclinic Bloemfontein
Ai dis tragies! Hulle was twee pragtige jongmense in die begin van hul lewens. My hart gaan uit na hulle families vir berusting en genesing.
Die liefde… hulle moes rerag baie lief vir mekaar gewees het, baie tragies .. sterkte aan familie en naaste.
ek is nou so bly ek het Maroela ontdek- baai baai Beeld. Uitstekende artikels en sommer lekker lees styl.
Dagsê Johan
Dankie vir jou boodskap! Ons hoop jy kuier sommer nog baie lekker verder saam.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Ek ken nie hierdie kinders nie maar die trane drup terwyl ek lees! Baie sterkte vir hulle geliefdes.