Krag plek-plek herstel ná Pta-substasiebrand

Die brand het Vrydag by die Koedoespoort-substasie in East Lynne ontstaan. (Foto: City of Tshwane/Twitter)

Kragtoevoer word stelselmatig herstel na woonbuurte in Pretoria wat skielik Vrydag in duisternis gedompel is weens ʼn brand by die Koedoespoort-substasie in East Lynne.

Die Tshwane-metro sê sy departement van energie en elektrisiteit het reeds reusevordering gemaak in die herstelwerk by dié substasie.

Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, sê die integriteit van sommige kraglyne is bevestig wat daartoe gelei het dat ʼn transformator by Koedoespoort, drie by die Watloo-substasie en een by die Pumulani-substasie weer aangeskakel is.

“Om kragtoevoer te herstel moes spanne die Njala-Waltloo-lyn parallel maak met die Njala-Hailand-lyn om die nodige las te dra,” sê hy.

Tans word werk daarvan gemaak om die helfte van die inwoners wat van die Koedoespoort-substasie afhanklik is se kragtoevoer weer te herstel, asook die helfte van Kilnerpark en Blesbok.

“Krag word geleidelik herstel sodat die betrokke spanne die las op die netwerk kan monitor.”

(Foto: City of Tshwane/Twitter)

ʼn Brand het Vrydagmiddag by die Koedoespoort-substasie ontstaan wat veroorsaak het dat ʼn naburige transformator ontplof het.

Tegnici was besig met herstelwerk aan die substasie ten tyde die brand. Daar was die afgelope twee weke verskeie kabeldiefstalgevalle wat uitgebreide herstelwerk geverg het.

Sedertdien was die inwoners van onder meer Queenswood, Môregloed, Kilnerpark, East Lynne, Waverley, Montana en die omliggende gebiede sonder krag.

ʼn Aantal sekondêre substasies soos die Pumulani-, Montana- en Hartbeesfontein-substasie is ook deur die kragonderbreking geraak.

Die metro het onderneem om inwoners van al die geaffekteerde gebiede gereeld op die hoogte te hou van die stand van sake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.