Kragplan kan ‘keerpunt’ vir SA wees

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Die regering se plan om die kragkrisis wat Suid-Afrika al 15 jaar lank aan ʼn beurtkragstelsel onderwerp te pak, is uit verskeie oorde verwelkom, maar die DA waarsku daar kan nie toegelaat word dat ministers soos Gwede Mantashe en Pravin Gordhan dit pootjie nie.

Die party sê Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, en Gordhan, sy eweknie by openbare ondernemings, het vantevore herhaaldelik in die pad van onafhanklike kragprodusente (IPP’s) en privaatsektorbelegging in die energiebedryf gestaan. Suid-Afrika kan nie bekostig dat hulle aan die stuur staan van ʼn plan om die kragkrisis om te keer nie.

Ramaphosa het Maandagaand verskeie stappe en planne aangekondig om meer krag beskikbaar te stel.

Die DA het die plan verwelkom, maar is nietemin veral bekommerd oor die skep van ʼn sogenaamde nasionale energiekrisiskomitee (NECOM), bestaande uit verskeie ministers, wat die inwerkingstelling van die plan moet bestuur.

Kevin Mileham en Ghaleb Cachalia van die DA sê hulle gaan die speaker van die parlement vra om aan te beveel dat ʼn ad hoc-komitee op die been gebring word om ʼn oorsigrol oor NECOM te speel, aangesien geen portefeuljekomitee dit aanspreeklik kan hou nie.

Die DA sê ook die nasionale regering is die groot oorsaak van ʼn gebrek aan opwekkingskapasiteit en dat die regering uit die pad moet kom van diegene wat krag kan en wil opwek. Hy sê dit is onaanvaarbaar dat die regering so lank gesloer het om stappe te doen.

“Die DA is gereed en bereid om by te dra tot enige werklike nasionale poging wat daarop gemik is om die energiekrisis op te los en Suid-Afrika weer aan die werk te kry. Die president het ons steun vir die inwerkingstelling van die plan, solank as wat hy verbind bly tot deursigtige en aanspreeklike inwerkingstelling daarvan met die dringendheid wat dit verdien.”

Die DA gaan ook ʼn moniteringstelsel bekend stel om Ramaphosa en sy regering “eerlik oor projekinstelling” en die vermindering van rompslomp te hou.

Prof. Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê die president se aankondiging het die omvang erken van die skade wat beurtkrag en ʼn gebrek aan kragsekerheid aan die ekonomie aangerig het.

Parsons sê indien die plan behoorlik en vinnig ingestel word, kan dit ʼn keerpunt wees in die land se vermoë om aan energiebehoeftes te voldoen.

Die plan om burokratiese rompslomp uit die weg te ruim en besluitneming te versnel, die aanstel van vaardige werkers en die mobilisering van die private sektor is belangrike stappe, maar dit moet omgeskakel word in doeltreffende samewerking op alle vlakke, sê Parsons.

“Dit sou gehelp het as daar meer spesifieke tydraamwerke vir sekere projekte en uitkomste in die jongste plan was,” sê Parsons.

ʼn Stabiele Eskom bly ʼn sleutelrolspeler in die plaaslike energiemark, maar om die elektrisiteitsgaping te vul moet die ekonomie sy afhanklikheid van die nasionale kragvoorsiener verminder.

“Die deelname van die sakesektor en individuele pogings op ʼn veel groter skaal stem ooreen met wêreldwye beste bestuurspraktyke. Dit lyk of die huidige planne steeds tekort skiet van die vorige verbintenis dat 30% van elektrisiteit op die netwerk uiteindelik in die private sektor moet wees,” sê Parsons.

Dit is wel goeie nuus dat die regering nou sy Geïntegreerde Hulpbronplan gaan bywerk en aanvul om nuwe verwikkelinge in te sluit.

“As daar binnekort tasbare uitkomste uit die jongste elektrisiteitsplan vloei, kan dit beleggersvertroue ʼn hupstoot gee op maniere wat private vastekapitaalvorming beduidend as ʼn persentasie van BBP in die komende jare kan verhoog,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Mantashe en Gordan weet dalk dat Ramaphosa en sy clan se plan is om die krag lords te word.

JohanR ·

28 jaar en nou skrik hulle wakker! Dankie Soldaritet vir die 1000 manne wat weet. Waar is Cosatu se 1000 manne al die jare, of vir Cosatu is dit net oor die volgende verhooging in hulle salaris?

Mariana ·

Stem saam met DA. Die regering is nie te vertrou nie. Hulle doen niks as hul families en kaders nie voordeel uit iets trek nie. Landsbelang was nog nooit voorop in hul beplannings nie. En die ministers is almal onbetroubaar. So ons sal moet sien hoe ver die planne kom en met watter mense daar gaan gekommumikeer word. Gaan daar skielik ‘n menigte swart privaat opwekker maatskappye verskyn of is hulle reeds in plek om te skep.

Jacobus ·

Hulle die NUWE Eskom is reeds daar, die maatskapy se naam is AFRICAN RAINBOW ENERGY en sy CEO is PATRICE MOTSEPE, Ramaphosa se swaer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ene mnr Dames wat sowat 10 jaar gelede Eskom se baas was werk nou vir Motsepe. Die wiele is al lankal aan die rol. En dit het die aftakeling van Eskom ingesluit.

Piet ·

Neewat, die verandering moes al gebeur het. Enige pogings nou is om staatskaping aan die gang te hou. ‘n Hele nuwe regering is nodig, dis al hoe probleme nou opgelos gaan word. Om net die “sous te verander met die ete” beteken nie dis ‘n nuwe “ete” nie. Ons word nogsteeds bollie gevoer….

sopbeen ·

Ons almal kan net baat uit die skep van gesonde kompetiesie vir Eskom. Eskom moet nou leer hoe om te onderhandel vir die beste prys en diens soos in die verlede voor die ANC sy voet in hul deur gekry het.

Blikkies ·

Kom ons kyk maar eers of daar iets gaan gebeur of wanneer. Alles klink skielik so maklik en vinnig. Onthou net die Meneer moet nou baie mooi praatjies maak om homself skoon te kry en sy volk weer aan sy kant so voor die verkiesings kom. Ek vertou hulle niks.

Swerwer ·

Daar moet geensins toegelaat word dat enige lid van die ANC of EFF betrokke moet wees nie. Die probleem lê nie net by sekere wesens nie maar in die geheel by alle ANC en EFF lede. Stukkie vir stukkie kom al die bedrog uit en hang die klomp mekaar aan die galg soos daar op tone getrap word.

Dries ·

Moenie te vinnig juig nie. Daar was al menige planne deur Ramas wat net slegte gevolge gehad het

Di ·

Ek probeer positief wees hieroor, maar o wee, ek weet nie so mooi nie. Vertrou die spul net so ver ek hulle kan sien! TE GELDGIERIG om SO maklik in te stem vir iets anders as die ANC skelms se normale norms en standaarde!

Jack ·

Geen staatsamptenaar moet selfs indiens wees by die nuwe eskom nie. Die korrupsieketting moet verbreek word en daar is net een manier raak ontslae van die slang met die bange koppe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.