Krisis dreig met oorvol hoërskole

Argieffoto (Foto: ANA)

Gauteng stuur weer eens af op ʼn krisis indien die regering nie gou ingryp en ʼn plan maak om meer plek in veral hoërskole beskikbaar te stel nie. Kenners sê die Gautengse departement van onderwys (GDO) moet dringend meer skole bou, asook swak presterende skole in die provinsie meer aanloklik maak vir ouers. Tans blyk dit egter nie ʼn prioriteit vir die departement te wees nie.

Inligting van die GDO dui daarop dat sommige distrikte soveel as 45% meer aansoeke vir gr. 8 gekry het as wat daar plek in skole is. Die DA en VF Plus waarsku duisende leerders kan weer in Januarie sonder ʼn plek in ʼn skool sit. Druk op presterende skole om meer leerders in te neem skep boonop ʼn veiligheidsrisiko weens gebrekkige infrastruktuur.

Altesaam 305 981 leerders het vanjaar aansoek gedoen vir die amper 370 000 plekke in laer- en hoërskole in die provinsie – dus lyk dit asof daar meer as genoeg plek sal wees. Sommige skole in hoëdruk gebiede het egter veel meer aansoeke gekry en in sommige gevalle het skole duisende meer aansoeke gekry as waarvoor hulle plek het.

Volgens ʼn voorlegging wat die GDO einde Augustus in die provinsiale wetgewer gelewer het, blyk die grootste tekort aan plek by hoërskole in Ekurhuleni, groot dele van Tshwane en die suide van Johannesburg te wees.

Die hele Ekurhuleni het gemiddeld 6% meer aansoeke van voornemende gr. 8-leerders gekry as waarvoor daar plek is, met die grootste tekort in die Ekurhuleni-Suid-distrik (8,1%). Die ooste van Johannesburg het verreweg die grootste probleem met 45% meer aansoeke vir gr .8 as waarvoor daar plek is. Tshwane-Suid (Centurion) het 20% meer aansoeke as plek en Tshwane-Wes het amper 9% meer aansoeke as plek.

“Hierdie is ʼn reuseprobleem,” het adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus in Gauteng, aan Maroela Media gesê. “Die departement doen geen behoeftebepaling of vooruitskattings nie en hul reaksie op die skolekrisis is dus totaal reaktief.”

Hy sê die oplossing oor die langtermyn is om meer skole te bou, maar weens begrotingstekorte het die departement geen planne om ʼn enkele skool volgende jaar te bou nie. Swak beplanning en onbevoegdheid deur die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling het boonop veroorsaak dat sowat tien infrastruktuur-projekte die afgelope vyf jaar laat vaar is. Lees meer hieroor Sondag op Maroela Media.

Nog ʼn probleem is dat ouers nie hul kinders in tientalle onderpresterende skole in Gauteng wil laat plaas nie. Daarom dat ʼn handjievol toppresterende skole jaarliks ʼn oormaat aansoeke ontvang.

Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder vir onderwys in Gauteng, sê die meeste skole in informele nedersettings word swak bestuur en oorvol klaskamers beteken gehalte onderrig kan nie hier plaasvind nie. “Ouers verkies om hul kinders by skole in te skryf waar hulle weet die gehalte van onderrig goed is, al is hierdie skole ver van die huis af. Sommige ouers is ook nie eerlik oor waar hulle woon nie, in ʼn poging om vir hul kinders plek in ʼn bepaalde skool te verseker.”

Alberts sowel as Ramulifho sê min word gedoen om sukkelende skole te verbeter en meer aanloklik vir ouers te maak. “Dit is skrikwekkend om te sien hoe die geld nie by swart skole uitkom nie. Daar is soms gate in die vloere en oop dreine waarin kinders kan val. Enkele skole staan ook heeltemal leeg,” sê Alberts.

Intussen word druk op topskole in die provinsie geplaas om al meer leerders in te neem. Maroela Media het vroeër berig verskeie topskole het “dreigbriewe” van die departement ontvang waarin hulle aangesê word om meer leerders in te neem as wat die skole aangedui het hulle plek voor het.

Die toneel nadat die loopbrug by Hoërskool Driehoek in 2019 ineengestort het.

“Dit het natuurlik ʼn impak op die veiligheid van ʼn skool as daar te veel kinders is as waarvoor die aanvanklike infrastruktuur bedoel is,” sê Alberts. “Dit kan lei tot ʼn soortgelyke voorval as wat by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gebeur het.” Drie leerders is dood toe ʼn loopbrug by dié skool in 2019 inmekaar gestort het.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, sê boonop die finansiële ondersteuning wat skole ontvang om vir die “ekstra” leerders voorsiening te maak, is heeltemal onvoldoende. “Met ‘n befondsing van slegs R277 per leerder per jaar vir ‘n kwintiel 5 skool, is dit ‘n uitdaging om gehalte onderwys te handhaaf, veral as daar druk is om meer leerders as hul toegelate kapasiteit te akkommodeer.”

Volgens Alberts is daar enkele onmiddellike oplossings tot die departement se beskikking om die krisis af te weer. “Die regering kan byvoorbeeld nou al kerke of gemeenskapsentrums identifiseer waar sale gehuur kan word om plek te maak vir kinders.”

Khume sê die regering moet nou al vir gewilde skole geld gee om bykomende klaskamers aan te bou, eerder as om tot Januarie te wag.

Alberts meen egter dit help nie hulle bou rugbyvelde vol tydelike klaskamers nie, want die basiese infrastruktuur is dan steeds onder druk.

Ten spyte van herhaaldelike versoeke vir kommentaar het die GDO sedert Maandag nie gereageer op navrae nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.