Krugerwildtuin: Werker geskors, nog stappe ná luiperd-skokvideo

‘n Skermskoot uit die video

SANParke het een van sy werknemers in die Krugerwildtuin geskors en oorweeg stappe teen nog werknemers in verband met ʼn voorval waar ʼn luiperd wat van kant gemaak is, geslaan word.

Die voorval, wat op ʼn video vasgelê is en wyd op sosiale media versprei word, het plaasgevind nadat die luiperd Sondag van kant gemaak is en die karkas verwyder moes word vir ʼn nadoodse ondersoek. In die video kan gesien word hoe ʼn man langs die luiperd buk en die dier herhaaldelik deur die gesig slaan.

Volgens SANParke het die nadoodse ondersoek bevestig dat die luiperd aan ʼn skietwond dood is en nie weens enige ander dade nie.

SANParke het gesê vier van die mense wat by die voorval betrek word, is sy werknemers. Drie ander is veldwagters, nog drie werk vir konsessies wat in die wildtuin bedrywighede het, terwyl nog iemand wat as omgewingsmonitor werk ook betrek word.

“Die luiperdslaner het die wildtuin besoek en is nie ʼn werknemer van SANParke nie. SANParke weet egter wie hy is en kry regsadvies oor sanksies wat aan hom opgelê moet word.”

Een van SANParke se werknemers is intussen voorlopig geskors hangende dissiplinêre stappe in verband met die voorval. Daar word nog besluit watter stappe teen die ander betrokke mense gedoen sal word.

SANParke het die gedrag wat op die video vasgevang is ten sterkste veroordeel. “Dié soort optrede is teenstrydig met die etos van die organisasie se primêre doel om biodiversiteit te bewaar en as die bewaarder van ons natuurlewe op te tree.”

ʼn Finale verslag oor die voorval sal teen Woensdag klaar wees waarna aanbevelings aan SANParke se raad gemaak sal word om te verseker dié soort voorval vind nie weer plaas nie.

Die luiperd is geskiet nadat ʼn werker in die Kruger Shalati-konsessie Sondagoggend deur ʼn luiperd aangeval is. Dit was die tweede voorval in dié gebied die afgelope paar weke.

Die werker kon die luiperd afweer en het om hulp geskree waarna die dier in die omliggende bosse verdwyn het. Die beseerde werker is vir behandeling na ʼn dokter gehaas.

ʼn Soektog na die dier is onmiddellik van stapel gestuur. Die luiperd is sowat 30 m van waar die voorval plaasgevind het, opgespoor en van kant gemaak.

ʼn Personeellid van die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin is op 26 Junie buite sy woning by die park se personeelwoonkwartiere deur ʼn luiperd aangeval. Hy het onder meer beserings aan sy kop opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

piet ·

Interessante ene. Waarvan kan hy aangekla word? Die dier was reeds dood so kan nie dieremishandeling wees nie. Daar is ook nie iets soos lykskending by diere soos by mense nie. ‘n Ethos-ding ja maar weet nie so mooi van kriminele oortreding nie.

Anonymouse ·

Ek verstaan ook nie mooi nie. Klink of mense besig is om ‘n berg van ‘n molshoop te maak.

Christelle ·

So sal al ons wild uitgeroei word, dan is toerisme ook in sy maai.

Nommer 7 ·

Op ‘n tyd was ons hele land vol wilde diere wat vrylik rondgeloop het. Dit is alles uitgeroei, en die toeriste kom nog steeds.

Maritza ·

Verstaan hoe jy gekant kan wees om ‘n dier wat ‘n mens aangeval het van kant te maak nie?

Andries ·

Die luiperd het 2 mense aangeval en het sy vrees vir mense verloor.

Di ·

DIS dalk hoekom die luiperd die man aangeval het, selfde geld met honde. Moenie die diere terg of mishandel en agterna KLA as jy aangeval word nie. Hierdie tipe skermunkels hoort nie in daar nie, raak ontslae van die skuim.

Charlotta ·

Hoekom moet n dier altyd doodgemaak word wanneer so iets gebeur

Papsak ·

Daar moet meer sulke luiperds wees net jammer hy is van kant gemaak

Swerwer ·

Hardverskeurend! Waarom moet alles in ons lewe vernietig word!

Hennie ·

Is die gholfbaan nie binne in die Kruger Wildtuin? Dan is dit mos die dier se “natuurlike” habitat en kan beweeg van plek tot plek soos dit goed dink. Maar nou ja, skiet net dood.

Pietertjie ·

Dit wys wat in hulle diepste binneste aangaan. Barbarisme.

Tania ·

Die Kruger wildtuin soos alles in ons land word gestroop en het SO agteruit gegaan dit is sleg, die badkamers by die hekke is verstop en mense bly dit net gebruik dit is die hartseerste ding, hierdie voorval is seker een van baie waarvan ons nie eers weet nie

Hennie ·

Niks minder verwag van mense wat geen empatie met lewende wesens het nie. Sies man

Toy ·

Gemors, hy verdien nooit weer om te werk met diere nie. Dis wreed!!

philippus ·

Wanneer barabare met geen empatie in die stuur van sake is…. Kan mens nie meer verwag nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.