Kubaanse medisyne: Weermag het oortree, bevind OB

Kubaanse medisyne vir Covid-19 is destyds in ’n inloop-yskas gestoor. (Foto: Verskaf)

Die waarnemende Openbare Beskermer (OB), adv. Kholeka Gcaleka, het ná ʼn ondersoek bevind dat die weermag hom aan wanadministrasie en onbehoorlike gedrag skuldig gemaak het toe ʼn besending Kubaanse medisyne in April 2020 na Suid-Afrika ingevoer is.

Die DA het in Februarie verlede jaar ʼn klagte by die kantoor van die OB ingedien om ondersoek in te stel na beweerde ongerymdhede met die militêre bevelsraad se aankoop van die Kubaanse middel Heberon Interferon alfa-2B sonder vooraf goedkeuring van of registrasie by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra). Sowat ʼn miljoen dosisse van dié medikasie, wat deur sommige as ʼn “wondermiddel” teen Covid-19 voorgehou is, is teen ʼn bedrag van sowat R33 miljoen ingevoer. Die weermag sou aanvanklik meer as R200 miljoen se voorraad aankoop.

Kobus Marais, DA-LP en woordvoerder oor verdediging en militêre sake, sê die OB se verslag staaf sy hoofbewering dat die middel verkry is sonder om die regte verkrygingsprosesse te volg.

“Die verslag bevestig wat die DA nog heeltyd sê, naamlik dat as daar ooit ʼn rogue‑eenheid in die departement van verdediging was, is dit hierdie groep militêre bevelsraadamptenare in die departement en die weermag, vir wie Kuba en enigiets Kubaans ʼn oordrewe aantrekkingskrag het,” het Marais Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Die verslag het verder bevind dat die departement van verdediging bilaterale ooreenkomste (Operasie Thusano) tussen Suid-Afrika en Kuba oortree het – waarop hulle na bewering staatgemaak het om die middel aan te koop.

Die departement het ook sekere dele van die Grondwet, tesourie-regulasies en departementele beleid oortree, sê die verslag.

Die middel was ook nie geregistreer om Covid-19 in Suid-Afrika te behandel nie, maar senior amptenare van die departement het in elk geval voortgegaan om dit op 27 April 2020 die land in te bring – voordat ʼn aansoek om registrasie by Sahpra ingedien is.

Sahpra het die departement op 3 November 2021 opdrag gegee om die middel na Kuba terug te stuur.

Dit is ook bevind dat die departement R33 miljoen bestee het om die middel te bekom. Dié bedrag is steeds nie verhaal nie.

“Dit kan met redelike sekerheid uit die verslag afgelei word dat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, destydse minister van verdediging en tans die speaker van die parlement, haar uitvoerende kollegas op die koronavirus-bevelsraad meegedeel het dat daar geen steun vir hierdie invoer was nie. Tog het sy skynbaar niks gedoen om hierdie onreëlmatige, onwettige en verkwistende optrede en uitgawes te voorkom nie,” het Marais gesê.

“Die absolute verontagsaming van ons wette en regulasies is bevestig toe sy en haar ANC-kollegas tydens die inperking op ʼn lugmagstraler na Zimbabwe, waarvoor pres. Ramaphosa haar gestraf het, gevlieg het.

“Dit lyk of daar ’n algehele gebrek aan politieke wil onder die ANC-bestuur is om die Grondwet en wette van ons land te handhaaf. Dit is duidelik dat die ANC-regering min agting het vir Suid-Afrikaanse wette en regulasies soos dit van toepassing op alle ander Suid-Afrikaners is.”

Die OB het onder meer aanbeveel dat die weermag binne 60 dae met ʼn ondersoek teen die oortreders begin.

Marais sê die verslag sal nou aan die ouditeur-generaal en nasionale vervolgingsgesag oorhandig word, wat reeds strafregtelike klagtes ondersoek wat Marais vroeër oor die aangeleentheid ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.