Kusile-beskuldigdes weer in hof

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: NVG-OD)

Twee voormalige hoë amptenare van Eskom het Dinsdag weer vlugtig in die hof verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van onder meer geldwassery, bedrog, korrupsie, asook dat hulle ongemagtigde betalings gedoen en ontvang het.

Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende groephoof by Eskom se kapitaalafdeling, France Hlakudi, ʼn voormalige kontraktebestuurder by Eskom, Maphoko Kgomoeswana, ʼn sakeman, asook Antonio Trindade, uitvoerende hoof van Tubular Construction, word daarvan beskuldig dat hulle die misdade tussen 2014 en 2017 gepleeg het.

Sowat R745 miljoen is by die ondersoek betrokke.

Die vier is almal vroeër reeds op borgtog vrygelaat.

Die ondersoek hou verband met bedrieglike betalings wat aan subkontrakteurs by die Kusile-kragsentrale gedoen is.

Sindisiwe Twala, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, sê die Palm Ridge-landdroshof het die saak vroeër tot 1 Junie uitgestel sodat die nodige dokumente aan die verdediging voorsien kon word.

Die direktoraat het reeds formeel aansoek gedoen dat Michael Lomas, ʼn voormalige voorsitter van Tubular Construction wat tans in Brittanje woon, aan Suid-Afrika uitgelewer word en saam met sy vier medebeskuldigdes tereg staan, sê Twala.

Masango en Hlakudi word daarvan beskuldig dat hulle R30 miljoen elk van die kontrakteurs – Trindade en Lomas – ontvang het.

Kgomoeswana en sy maatskappy, Babinatlou Business Services CC, het glo die betaling van die omkoopgeld tussen die Kusile-kontrakteurs en die senior amptenare in die hand gewerk.

Verskeie ander maatskappye word ook in die ondersoek betrek.

Twala sê Hlakudi en Kgomoeswana staan ook tereg op aanklag van belastingontduiking, onderskeidelik van R30 miljoen en R5 miljoen. Kgomoeswana verskyn Donderdag in die hof op dié aanklag, terwyl die saak teen Hlakudi weer op 3 Maart in die Pretoriase streekhof hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Ek het nog altyd gewonder hoekom het krag so skielik so hoog geword , maaaaaar nou weet ek .
Ai tog EISHKOM stel tog mense wat bevoeg is om die werk reg te doen aan , groot aub .

Johan ·

Nou praat jy! Ek kwoteer greeld net om te hoor anader het dit teen 4x die prys gekry…maar, ek sal aanhou tender, eendag is eendag.

Surfer ·

Sal dit ooit ophou, NEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEE. Want hulle moet elke dag iets “neem” omdat hulle agterblewendes (of agterbaks) was.

Harry ·

Wys mens net. Liefde vir geld het nie ‘n velkleur nie. Die gereg moet sy gang loop. Daardie man in die buiteland moet kom verduidelik.

Kokerboom ·

Ek het nie woorde vir omvang van bedrog gepleeg. Lê hul die swaarste moontlike strawwe op en bevries AL hul bates..dit wat nog oor is. Plaas hul name op ‘n nasionale swartlys vir boewe

Maggies ·

Geen wonder daar word gesê “geld is ‘n euwel” nie. As die geld wortel voor die neus geswaai word is dit moeilik vir almal om “NEE” te sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.