Kyk: Russiese atleet smaak Comrades-glorie

Alexandra Morozova is die vroue-wenner van die Comrades-marathon. Foto: Twitter.

Die Russiese langafstand-atleet Alexandra Morozova is die vrouewenner van die 95ste Comrades-marathon tussen Pietermaritzburg en Durban.

Sy het die wedloop van 89,885 km in ’n tyd van 06:12:42 voltooi nadat sy in 2019 tweede viool teen Suid-Afrika se Gerda Steyn gespeel het.

Die oorwinning moet selfs soeter vir die Rus smaak nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg op die vooraand van die wedloop in haar guns beslis het.

Dit het vroeër gelyk of Morozova kwalik by die wegspringpunt sou kon aantree. Wêreldatletiek vereis onder meer dat elite Russiese atlete wat prysgeld kan wen toegang tot sy geaffilieerde wedlope geweier moet word.

Volgens die Comrades-organiseerders het hulle ’n brief van die internasionale atletiekbeheerliggaam in dié verband ontvang.  Daar is later aangevoer dat Morozova wél kan deelneem, maar dat sy nie saam met die voorste groep elite drawwers mag wegspring nie.

“Diskriminasie op grond van my nasionaliteit is hoegenaamd nie meer aanvaarbaar as diskriminasie teen ’n persoon van ’n spesifieke etnisiteit nie,” het Morozova in haar verweer gesê.

Regter Rob Mossop het egter nie net bevind dat sy wel mag deelneem nie, maar dat sy ook tussen die voorste deelnemers kan begin.

Pole se Dominika Stelmach was tweede, terwyl Adele Broodryk die beste onder die Suid-Afrikaanse atlete was.

Sy het derde met haar tyd van 06:26:35 klaargemaak.

Steyn, die verdedigende kampioen, was vanjaar nie deel van die aksie nie.

  • Vroue-uitslae:
  1. Alexandra Morozova 06:12:42
  2. Dominika Stelmach 06:25:09
  3. Adele Broodryk 06:26:35
  4. Jenna Challenor 06:42:14
  5. Galaletsang Mekgoe 06:42:53
  6. Camille Herron 06:44:29
  7. Helena Joubert 06:55:36
  8. Janie Grundlingh 06:59:44
  9. Annerie Wooding 06:59:55
  10. Yolande MaClean 07:00:19

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Realis Thailand ·

Veels geluk aan die dame
Sy het dit verdien en waarom moet sy verguis word agv van die optrede van haar land
Dieselfde het met my gebeur in die sogenaamde “apartheid” dae dat ek nie Rusland, Noorwee en ander lande kon besoek nie hoewel die toergidse gese het hulle het geen probleem maar my paspoort was gestempel dat ek nie sekere lande mag besoek nie
Ek hoop sy kom weer volgende jaar en neem weer deel

Kobus ·

Stem 100% saam. Atlete wil net deelneem. Politici veg altyd oor wie reg is en nie wat reg is nie. Well done

Andre ·

Waarom lyk dit of alle organisasies wat “Wereld” verbintenis het net moeilikheid beteken.

Chris ·

Enige een die “Caduceus Vintage Doctor Medical Snakes Symbol” opgemerk in die trofee – Hierdie is ‘n simbool van Hermes – Hermes, a conductor of souls into the underworld, also known as the netherworld. Mmm…, interesant!

Andre ·

Die slange in kentekens, veral medies, laat my lankal wonder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.