Laerskoolleerders beseer toe bus se band bars

Die bus het Dinsdag op die N4 omgeslaan. (Foto: King Luan Snyders/Twitter)

Sewe leerders aan die Laerskool David Brink in Rustenburg in Noordwes is Dinsdagaand ernstig beseer nadat die bus waarin hulle gery het op die N4 omgeslaan het. Die leerders was die aand op pad huis toe ná ʼn vriendskaplike rugbywedstryd in Hartbeespoort.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die bus se linkeragterband gebars het ten tyde van die ongeluk, maar dat die bus nie die spoedgrens oorskry het nie.

Waldette Grey, ʼn prokureur wat ook in die skool se beheerliggaam dien, het Woensdag die ongeluk aan Maroela Media bevestig.

“Die ongeluk het om 20:05 op die N4 vanaf Hartbeespoort na Rustenburg plaasgevind,” sê sy.

“Die bus se band het gebars, waarna dit op sy linkersy omgekeer, getol en in die rigting van Hartbeespoort tot stilstand gekom het. Daar was geen ander voertuie by die ongeluk betrokke nie.”

Volgens Grey was daar sowat 50 leerders op die Vaal Maseru-bus. Sewe hiervan het ernstige beserings opgedoen en talle ander het met matige beserings daarvan afgekom. Geen noodlottige beserings is aangemeld nie.

“Die beseerde leerders het mediese behandeling in die hospitaal ontvang, maar ons wag nog op terugvoer oor hul prognose.”

Grey sê volgens die inligting tot hul beskikking het die busbestuurder die bus goed onder beheer gehou om enige verdere ongelukke met die aankomende verkeer te verhoed.

Die bus se opsporingstelsel wys glo dat die bus nie die spoedgrens oorskry het ten tyde van die ongeluk nie. Inteendeel, die bus het glo slegs 85 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery.

Die Vaal Maseru-busdienste wat dié bus aan die skool verhuur het, doen tans sy eie interne ondersoek om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.

“Die skool bied tans sielkundige bystand en berading aan leerders, onderwysers en ouers wat deur hierdie voorval geraak is,” sê Grey.

Die plaaslike gemeenskap in Rustenburg het intussen die beseerde leerders spoedige beterskap toegewens ná die vreesaanjaende ongeluk.

“Laerskool Proteapark hou vandag Laerskool David Brink in ons harte en gebede, ons vertrou op spoedige herstel,” het dié skool gesê.

Grey sê die skool het sedert die ongeluk verskeie oproepe van lede van die gemeenskap ontvang oor hoe hulle die leerders en die skool in hierdie tyd kan bystaan.

“Verskeie versoeke is uit die gemeenskap ontvang om die skool te ondersteun en die mediese onkoste van die leerders wat nie oor ʼn mediese fonds beskik nie, te help dek,” sê sy.

“Die skool wil ook net die gemeenskap bedank vir hul bystand en die manier waarop leerders op die toneel behandel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

So bly daar was geen noodlottige gevalle nie! Sterkte aan hulle almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.