Leerders gespaar toe bus ontplof

Nie een van die insittendes is beseer nie. (Foto: Verskaf)

ʼn Private bus wat altesame 20 leerders vervoer het, moes Saterdag inderhaas aftrek en ontruim word toe daar ʼn ontploffing in die voertuig in Mmabatho naby Mahikeng was. Wonderbaarlik is nie een van die insittendes beseer nie.

Die leerders het die dag van die Letsatsing Secondary School vertrek na Mosikare Secondary School in Mantsha, Noordwes, om winterklasse by te woon. Die doel van die klasse is om leerders se prestasie in sekere vakke op skool te verbeter.

Later die dag, toe die leerders huis toe keer, was daar egter ʼn ontploffing in die bus. Die bus het heeltemal uitgebrand.

“Daar was gelukkig geen beserings weens die voorval aangemeld nie,” sê Elias Malindi, woordvoerder van die departement van onderwys in Noordwes.

Die LUR vir onderwys in die provinsie, Mmaphefo Matsemela, het kort ná die ontploffing gesê hoe dankbaar sy is dat niemand erge beserings opgedoen het nie.

“Namens die departement is ek opreg dankbaar dat al die leerders se lewens gespaar is,” het sy gesê.

Dit is nie in hierdie stadium seker wat die ontploffing veroorsaak het nie.

“Ons doen nietemin ʼn beroep op al ons busoperateurs om uiters waaksaam te wees wanneer hulle leerders vervoer. Hulle moet verseker dat hul busse padwaardig is en hulle aan die padreëls voldoen.”

Die departement het intussen berading vir al die betrokke leerders by hul skool gereël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Genade, is daar nog slegte nuus ivm die naweek! Die negatiewe/slegte nuus oorskadu positiewe opbouende nuus op hierdie staduim

mattk ·

Sjoe, baie bly niemand is beseer nie. Te oordeel aan die foto’s (2 en 3) blyk dit eerder asof die bus rommel vervoer het as kinders. Daar moet dalk ‘n forensiese ondersoek geloods word na wat die inhoud van die klomp sakke was.

Miena ·

Is dit regtig nodig dat berading vir al wat n ding deesdae gebeur, gereel word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.