Leerders van private skole agter in tou

Omdat ouers deeglik besef hoe beperk plek in Gautengse skole is, veroorsaak die aansoek- en plasingsproses groot trauma. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Leerders van private skole, asook leerders van ander provinsies wat vanjaar aansoek gedoen het om plek in ʼn Gautengse skool vir volgende jaar, word dalk nou laaste geplaas.

“Een van die groot probleme wat ons tans met die stelsel ervaar, is dat leerders wat vantevore in private of onafhanklike skole was (of van buite die provinsie kom) en nou aansoek om plasing doen, klaarblyklik tot heel onder op die departement se hopie aansoeke geskuif word,” sê ʼn administrasiebeampte van ʼn Gautengse hoërskool.

Die Gautengse departement van onderwys het ouers van voornemende gr. 1‑ en gr. 8-leerders hierdie week per SMS begin in kennis stel in watter skole hul kinders plek gekry het.

Die administrasiebeampte sê hoewel daar kwansuis nie amptelik twee aansoekfases – soos verlede jaar – was nie, is dit veral leerders uit private skole of van ander provinsies wat nog op plasingsaanbiedinge wag. Verlede jaar is die aansoekproses in twee fases opgedeel, maar dit het hewige teenkanting van ouers gekry wat dit as diskriminerend bestempel het.

“Daar was nie vanjaar amptelik twee fases nie,” sê die beampte, “maar my ondervinding is dat die plasingstelsel beslis in twee gedeeltes geskied, met leerders van openbare skole wat oënskynlik voorkeur kry. Dit is definitief diskriminasie,” sê sy.

Riaan van der Bergh, adjunkhoof‑ uitvoerende beampte by die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), sê hulle ondervinding tot dusver is ook dat leerders van onafhanklike skole uitgesluit word van plasing. In praktyk beteken dit ʼn kind wat vantevore in ʼn private skool was en nou byvoorbeeld ʼn hoërskool digby sy huis wil bywoon, word oënskynlik laaste vir plasing oorweeg.

“Dit is blatante diskriminasie, dis ongrondwetlik en dit is verkeerd,” sê hy.

“Die benadeling lê by die ouers en hulle moet appèl aanteken en klagtes indien.”

Albei kenners is dit tog eens dat vanjaar se aansoekproses tot dusver veel gladder as in die verlede verloop het.

Tydens die aansoekproses het groot hoeveelhede aanlyn verkeer aanvanklik frustrasie veroorsaak en het aansoekers onder meer gesukkel om ʼn skool te vind of probleme met ID-nommers gehad. Dit is egter gou uitgesorteer en aansoeke kon grootliks sonder probleme ingedien word.

Die plasingsproses sal egter fyn dopgehou moet word.

Die plasingsproses duur van 3 Oktober tot 30 November en plasing-SMS’e sal nog tot dan gestuur word.

Bou nog skole

Van den Bergh en die administratiewe beampte sê ook albei dat die provinsie dringend nog skole benodig.

“Woonstelblokke en komplekse word links en regs gebou, maar daar is nie genoeg grond vir onderwys nie. Ons verf onsself in ʼn hoek en die departement se oplossing is om vol skole nog voller te maak. Ons het ʼn tekort aan honderde skole in Gauteng.

“Ons moes al jare terug baie meer skole gebou het as wat ons doen. Skole kan ook nie net gebou word nie, maar moet op die regte plekke gebou word,” sê Van den Bergh.

Hy sê daar moet ook groter bewustheid wees van die digtheidsgroei – nie die demografie nie – in die provinsie en dat gehalteonderwys die hooffokus moet wees.

“Almal wil by goeie skole wees. Maak die sogenaamde slegte skole ook goed sodat mense hul kinders daarheen stuur. Almal wil die beste vir hul kinders hê.”

Die administrasiebeampte sê ook omdat ouers deeglik besef hoe beperk plek in Gautengse skole is, veroorsaak die aansoek- en plasingsproses groot trauma.

“Die oplossing is doodeenvoudig: Bou nog skole.

“Jy kan nie vir ʼn ouer sê om net rustig te wees nie; jy sal mos nie rustig wees tot jou kind geplaas is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan ·

Dis eenvoudige wiskunde dierbare departement van onderwys. Hoe meer kinders daar in ‘n omgewing is, hoe meer skole benodig die omgewing. Daar is persone in posisies wat na hierdie “wiskunde” moet kyk, maak hulle bietjie werk vir hul geld. Of vertel vir ons wat het geword van die geld wat gebruik moes word vir die oprig van skole?

Pierre ·

Hul oplossing is sit net meer tafels en stoeltjies in klasse en stoot die syfers op per klas

Annelie ·

Skole vol van buurlande se kinders – wat nie eers die landstale magtig is nie. Wettige Suid Afrikaanse inwoners se kinders onder op lysie……..

Miskruier ·

Gegewe die voortplantings koers moet daar duisende skole gebou word.

Frank ·

En dan wil Lepoefie nogal Gauteng premier word en sy rassistiese diskriminasie wyer afdwing

KatjieDeKat ·

Dis omdat al die moordenaars, verkragters, kindermolesteerders, plaasmoordenaars, armed robbers+ hijackers wat so lekker op hul boude sit heeldag in hul selle, behoort te Werk. They need to be put on chain gangs and start building essential infrastructure like hospitals, schools and more power stations, under strict supervision of course. Instead of being just another massive drain on the taxpayer they should actually Contribute something to society aside from death and destruction!!

ES ·

Dis net jammer hulle “menseregte” word dan geskend, want dwangarbeid sal teen die Konstitusie wees…

Skadu ·

Hulle “oppassers” word so hul bevryders.

R200 in die sak is mos vir hulle meer werd as ons lewens.

Andrè ·

Waar val die ou uit…… bou nog skole en dit moes al jare terug gebou gewees het,is die ou onder ñ klip of iets,hoeveel is al gebou en dan gebrand of geplunder direk daarna, moenie jou onkunde so verkondig nie mnr.

Pannies ·

Hulle teer nog net op die infrastruktuur wat dekades gelede deur die vorige regime opgerig is.
Die ANC regering weet nog nie wat die oorspronklike doel van belasting is nie.
Hulle dink nog dit is bedoel om die regerende party se sakke vol te maak.

ES ·

Daar is baie kleiner privaatskole waar ouers hul kinders eerder kan vat vir onderrig. Ons skolestelsel het in ‘n absolute klug verander.

Fanie ·

Die enigste probleem is dat privaat hoerskole so heluit duur is – en ek praat van persoonlike ervaring met ons kind wat moet hoerskool toe van ‘n privaatskool af – dat mens of na goeie staatsskool – Garsfontein Waterkloof Oos-Moot ens. moet kyk, OF Cambridge homeschooling. Ons het privaat Hoerskool BY ons- ~4km – Koste is ~ R80000 per jaar minimum. basiese koste – net skoolgeld. Die hoerskool, wat ons gekies het R22000 basies. ons moet 9km verder ry, maar dit is nou maar so – ons ry in allegeval daagliks by skool verby

VaalDonkie ·

Fanie, Curro bv het twee tipe skole: ‘n fancy ene, en ‘n minder fancy ene wat minder kos. Seker maar R1000pm meer as staatskole (ten minste in my omgewing).

Fanie ·

Ongelukkig is daar nie een van Curro se skole sinvol naby ons nie – ek sal tussen 25 en 35 km moet ry – eenrigting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.