Lemoene beleef skitterende uitvoerseisoen

Suid-Afrikaanse lemoene bly immergewild in die buiteland. (Foto: Susbany, Pixabay)

ʼn Rekord van 27,2 miljoen kartonne nawels is die afgelope seisoen vir uitvoere verpak. Dit is 3% meer as die oesskatting in Maart en loshande meer as die vorige rekord van 26,7 miljoen kartonne in 2018.

Hierdie seisoen was die vruggrootte kleiner, maar groter volumes is geoes.

Net meer as 55 miljoen kartonne valencia-lemoene is vir uitvoere verpak. Volgens die Maart-vooruitskattings sou dit 57,9 miljoen kartonne gewees het, maar die syfer is weldra met 5% verlaag. Vanjaar se potensiële valencia-uitvoere raak-raak wel aan die 2020-rekord van 55,1 miljoen kartonne.

Paul Hardman, bestuurder van bedryfsake by die Sitruskwekersvereniging (CGA), het aan Maroela Media gesê dat die meeste lemoene reeds verskeep is en dat feitlik al die vrugte wat vir uitvoere verpak is, wel die hawens sal verlaat.

“Hoewel effense hoër suurvlakke in sommige van die valencia-streke waargeneem is, was die vruggehalte vir dié seisoen goed gewees. Dit is wel effens beïnvloed deur die langer staantyd in die hawens weens die [Julie-]onrus en die Transnet-kuberaanval, wat tot aan die einde van die seisoen voortgeduur het,” sê Portia Magwaza, navorsingsekonoom by CGA

Valencias is die meeste hierdeur geraak, nadat die bedryf ʼn beroep op boere gedoen het om hul verpakking te vertraag sodat die hawens die agterstand kon inhaal.

Maroela Media het onlangs berig dat mandaryne ook hul uitvoerrekord gebreek het.

Die pakvolumes uit die verskillende valencia-streke lyk soos volg:

Letsitele bly die grootste streek met 13,2 miljoen kartonne, wat 9% onder die oorspronklike skatting was. Die Senwes-streek, wat van Brits tot in Groblersdal strek, is die tweede grootste, met 7,2 miljoen kartonne, wat 6% oor die skatting is. Die Sondagsriviervallei staan op 6,2 miljoen kartonne, wat 4% onder die skatting was. Limpoporivier staan op 5,8 miljoen, 15% onder skatting, terwyl Hoedspruit met 5,4 miljoen kartonne, 13% onder skatting was.

Week 33 tot 37 was die besigste, met ʼn uitpaktempo van 4,7 miljoen kartonne per week. In week 35 is ʼn rekord gebreek toe 5,1 miljoen kartonne valencias gepak is.

Uit die nawel-streke lyk sake so:

Senwes bly die grootste streek met 7,6 m kartonne wat 8% oor die skatting was. Die Wes-Kaap is die tweede grootste met 7,2 m kartonne, 5% hoër as geskat. Die Sondagsriviervallei het op ses miljoen kartonne geëindig, 3% onder die skatting, Patensie was 17% oorskat en staan op 3 miljoen, terwyl Nelspruit 7% onder skatting was en op 1,1 miljoen kartonne geëindig het.

Tussen week 22 en 25 is ʼn paktempo van twee miljoen kartonne per week gehandhaaf en volgens Magwasa was die verpakkingspatroon soortgelyk aan verlede jaar s’n.

Vir beide variëteite is daar sedert verlede jaar ʼn afname in bestellings vanuit Europa, wat deur die Midde-Ooste opgeneem is. Suid-Oos Asië het hulle nawels verhoog en minder valencias bestel, terwyl Rusland ʼn omgekeerde patroon gevolg het. Asië se valencia-bestellings het verhoog en hul nawel-bestellings het feitlik dieselfde gebly. Noord-Amerika het hul bestellings vir beide variëteite verhoog en die Verenigde Koninkryk se bestellings het marginaal verander.

Die afname in die volumes wat na Europa verskeep is, kan toegeskryf word aan Egipte wat sy vrugte tot in die Suidelike Halfrond se verskepingstydperk vasgehou het en strenger fitosanitêre regulasies wat die Europeërs ingestel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Dit is die bewys dat al ons boere ‘n reuse inset in ons ekonomie lewer. Dalk moet ons hulle meer waardeer en oppas…

quartus ·

NOU WEET EK HOEKOM EK SO SUKKEL OM ORDENTLIKE LEMOENE IN DIE HANDE TE KRY

Harley Davidson ·

Ek kan nie onthou wanneer laas ek so ordentlike lemoene gesien het nie wat nog van gekoop,die wat ons kry is die wat onder die bome opgetel word.

Johan ·

Jammer as dit jou persepsie is. Die lemoene wat in sakkies verkoop word is klas 2 of 3. Suid-Afrikaners het ‘n weerstand teen die prys wat klas 1 en Super klas kos. Maar daar is ‘n voordeel aan. Almal in die bedryf weet dat die vrugte met die meeste letsels die hoogste persentasies suiker in het. Omdat dit gewoonlik die vrugte is wat aan die buitekant van die boom hang en meer sonlig kry. Lokale mark vrugte eet lekkerder.

Jaco ·

Wat dan nou van die wet dat die uitvoerboere aan BEE gekoppel moet wees om te mag uitvoer?

Marthinus ·

Die uitvoere is baie die jaar, maar die pryse is swak die jaar.Die hawens het gesukkel met logistiek, containers was nie beskikbaar nie, sitrus inkomste is met miljoene minder die seisoen.Hulle kon nie sitrusvrugte vinnig genoeg uitvoer nie, grootgetalle het op eenslag in markte aangekom.Regtig nie maklike jaar nie.

Kokerboom ·

Dit is uitstekende nuus. Vraag is net hoekom word plaaslike mark so afgeskeep met laer kwaliteit en groottes beskikbaar? Die appelbedryf is ‘n sprekende voorbeeld. Die bulk van appels beskikbaar by supermarkte is so groot soos albasters en lae kwaliteit..iets wat vroeer jare as dierevoeding gebruik is. Ons ondervind dit op platteland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.