Len Cloete ‘vaar baie beter’

Len Cloete en sy vrou Chantal. (Foto: Facebook)

Niemand het verwag dat Len Cloete die skoot in sy kop by ʼn gastehuis in Muldersdrift sou oorleef nie, maar twee jaar later maak hy goeie vordering.

Cloete sit regop en glimlag, en kan boonop sy geliefdes herken en selfs ʼn woord of twee uiter.

Die ondersoek na die byna noodlottige voorval is egter steeds nie afgehandel nie.

Luke Enslin, lid van die private speurder Mike Bolhuis se ondersoekspan, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het albei ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Die SAPD ondersoek Cloete se beweerde misdrywe by die Misty Hill Lodge-gastehuis in Muldersdrift destyds. Dit sluit in bewerings dat hy een van die polisiebeamptes se vuurwapens gegryp en toe later teruggegee het.

Opod het ondersoek ingestel na die polisieman wat Cloete geskiet het.

“Albei hierdie ondersoeke is nog nie afgehandel nie,” sê Enslin.

Hy vermoed dat albei ondersoekspanne op Cloete se mediese verslae wag, aangesien hy nie in hierdie stadium kan kommunikeer nie.

“Len lyk werklik baie beter as wat hy kort ná die voorval gelyk het, maar hy het permanente skade opgedoen,” sê Enslin.

Cloete is twee jaar gelede geskiet. (Foto: Facebook)

Die skade aan sy breinweefsel het onder meer veroorsaak dat hy nie kan praat nie.

“Dit is moontlik dat hy nooit in staat sal wees om sy kant van die storie te vertel nie.”

Sou dit gebeur dat Cloete nie sy saak kan stel nie, is dit moontlik dat die saak teen hom nooit eens op die hofrol geplaas sal word nie.

Enslin sê wanneer albei ondersoeke eindelik afgehandel is, sal dit aan aanklaers oorhandig word, wat sal besluit of vervolging ingestel moet word.

“As hy nie in staat is om homself in ʼn hof te verdedig nie, kan ek net aanneem dat die saak geskrap sal word.”

In sover Opod se ondersoek, is dit nie duidelik hoe dié saak sal verloop nie. Maroela Media het ʼn navraag aan Opod gerig, maar wag nog op terugvoer.

Cloete se familie het Bolhuis en sy span kort ná die skietery aangestel om hulle by te staan in die saak. Enslin sê hy is gereeld in kontak met die SAPD en Opod se ondersoekspan, en staan hulle by met enigiets wat hulle moontlik in hul ondersoek benodig.

Cloete se vrou, Chantal, het ʼn vertrek in die egpaar se huis aangebou waarin hy voltydse versorging ontvang.

“Daar word baie goed na hom gekyk,” sê Enslin.

“Hy herstel deurlopend sedert die voorval en ons hoop dat hy eindelik ten volle sal herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Die SAPD gaan ongedeurd wegstap geen kriminele optrede en geen tugstappe.Terwyl n man se lewe verwoes is.Sou dit n omgekeerde situasie gewees het.!

Gaitsigubib ·

Danie, kommentaar gaan nou neerreen op jou skrywe ( van hoe hy getender het om geskiet te word). My waarneming was dat hy wel die dag moeilikheid gesoek het. Op die punt toe hy geskiet is was hy egter nie meer in bedreiging nie. Hy is geskied toe die SAPD man die moed gekry het om dit te doen. Toe moes hy al reeds geskiet of in boeie gewees het. Alles van daardie dag dui vir my op swak opgeleide SAPD. Dit het meer soos n teregstelling as selfverdediging gelyk. Die persoon wat geskiet het is n bedreiging vir die samelewing. Len kan bly wees hy lewe en kannie getuig nie, want die beste uitkoms vir hom sou tronkstraf wees, vir sy belaglike optrede.

Gaitsigubib ·

Ek meen hy was nie meer ‘n bedreiging nie – het nie meer n wapen ge”point” nie, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.