‘Lesse geleer’ uit taxi-staking

(Foto: Hansie Linde)

Die leierskap van die Wes-Kaapse regering, die Stad Kaapstad en die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco), het Vrydagoggend gesê duur lesse is geleer uit die taxi-staking wat Kaapstad agt dae lank in chaos gedompel het.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, en Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, het tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad gesê daar is opnuut besef dat geweld nie die antwoord op enige probleem is nie.

Volgens Winde moet die leiers nou besin oor die foute, aanbeweeg en verbeter sodat ʼn soortgelyke situasie nie weer kop uitsteek nie.

“Die staking was verwoestend. Die enigste uitweg is om om ʼn tafel te sit en die kwessie deur middel van onderhandelings op te los,” het Mackenzie gesê.

Hy sê die provinsiale departement verwelkom die deelname van die nasionale departement van vervoer om opsies te bespreek waarop die taxi-bedryf geformaliseer kan word.

“Hierdie was ʼn leerkurwe. Besprekings en onderhandelings is die hoeksteen van die oplossing van die probleme,” sê Nceba Enge, Santaco se eerste ondervoorsitter.

Die nodige prosesse en meganismes is nou ingestel om te verhoed dat ʼn staking soos dié weer gebeur, sê Winde.

“Santaco het ingestem dat hy nooit weer in die middel van ’n werksdag ’n staking sal uitroep nie, en dat hy altyd minstens 36 uur kennis sal gee voor beplande stakingsoptrede. Dit sal help dat die situasie nie weer so handuit ruk nie,” sê Winde.

“Die feit dat die taxi-taakspan nou ’n dispuut-eskalasie-en-oplossing-klousule sal hê om dispute regstreeks na die premier en burgemeester te eskaleer, voordat ʼn stakingsaksie uitgeroep word, is ook ʼn goeie stap in die regte rigting.”

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die regering het sy dankbaarheid te kenne gegee oor die ooreenkoms wat Donderdagaand met Santaco bereik is. Dit het die staking met onmiddellike inwerkingtreding beëindig.

Winde sê die totale omvang van die koste wat die staking vir die stad veroorsaak het, kon nog nie bepaal word nie.

“Die werklike verlies is die lewens wat tydens die staking verloor is; die vernietigende gevolge aan inwoners se inkomste en onderrigtyd wat verlore gegaan het. Die stad se beeld is ook skade berokken met die reiswaarskuwings wat die VSA en die Verenigde Koninkryk (VK) uitgereik het.”

Die provinsiale kabinet het Vrydagoggend vergader en die voedseltekort in die provinsie, met kosverspreiding en -prosesse wat deur die staking geraak is, bespreek. Volgens Winde sal daar die volgende paar dae na verwagting steeds tekorte ondervind word, met die nodige prosesse reeds ingestel om die situasie so gou moontlik op te los.

Die staking het reuseontwrigting veroorsaak. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Winde het ook vir Bheki Cele, polisieminister, gevra om diegene verantwoordelik vir die vyf sterftes tydens die staking, vas te trek.

“Daar moet gevolge vir hul optrede wees. Dit geld ook vir diegene wat reeds vir ander oortredings wat met die staking verband hou, in hegtenis geneem is.”

Alle leerders en personeel sal teen Maandag weer terugkeer skool toe, sê die premier. Die maatskaplike kantore en klinieke wat weens die staking gesluit is, sal Vrydag weer bedrywighede hervat. Bus‑ en taxi-dienste is reeds weer aan die gang.

Na raming het die taxi-bedryf sowat R120 miljoen in inkomste tydens die staking verloor, sê Enge.

Volgens Hill-Lewis is daar na raming ʼn duisend taxi’s in hierdie tyd geskut, met sommige wat reeds vrygestel is.

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Hill-Lewis meen die staking is onnodig uitgerek, met Santaco was Donderdag dieselfde voorstel aanvaar het wat die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering oorspronklik verlede Vrydag voorgelê het.

“Dit is tragies dat al die geweld, die betreurenswaardige lewensverlies en die skade aan eiendom en ons plaaslike ekonomie, alles verniet was. Santaco het absoluut niks uit die geweld gekry nie, want hy het [Donderdag] dieselfde ooreenkoms aanvaar wat hy agt dae gelede verwerp het,” het die burgemeester gesê.

Hill-Lewis het ook die stad se wetstoepassingsbeamptes geloof vir hul harde werk om wet en orde te herstel. “Die beamptes het busse vergesel en seker gemaak die dienste word nie deur stakers ontwrig nie.”

Ooreenkoms

Daar is op die volgende ooreengekom:

  • Die skut van voertuie ingevolge die Nasionale Landvervoerwet (NLTA) sal voortduur indien die voertuie nie oor ’n bedryfslisensie beskik nie, of op die verkeerde roete bedryf word, of sonder ’n bestuurslisensie ry, of die voertuig nie padwaardig is nie. Daar is ooreengekom dat die taxi-taakspan binne 14 dae ʼn verdere lys sal opstel van bykomende groot oortredings ingevolge waarvan voertuie geskut sal word. Dit sal die vorm aanneem van ’n standaard-bedryfsprosedure (SOP) oor die uitoefening van die diskresionêre bevoegdheid waarvoor die NLTA voorsiening maak en sal soortgelyk wees aan ander SOP’s wat personeel leiding gee ten opsigte van die toepassing van ander wette en prosedures.
  • Die provinsiale regering se fokus sal wees om te verseker dat alle verkeersoortredings wat ’n impak op pendelaars se veiligheid het, as groot oortredings beskou sal word – padveiligheid vir pendelaars en ander padgebruikers is ononderhandelbaar.
  • Die taxi-taakspan sal terselfdertyd ’n ooreengekome lys saamstel van geringe oortredings, wat nie implikasies vir pendelaars se veiligheid inhou nie, en waar voertuie nie geskut sal word nie. Die stad glo steeds hy sal aan Santaco kan bewys dat hierdie onderskeid reeds geruime tyd toegepas word.

Enge het gesê Santaco hoop die taxi-taakspansessies sal vrugbaar wees, maar meen 14 dae is nie genoeg om “sommige van die kwessies op die tafel” op te los nie.

Rob Quintas, die stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê die stad sien die minibustaxibedryf as ʼn belangrike vennoot in die geïntegreerde vervoerstelsel.

“Die stad sal met ʼn oop gemoed samesprekings voer om te onderhandel oor watter oortredings in die toekoms beboet sal word en watter oortredings tot die skut van taxi’s sal lei,” sê Quintas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

domheks ·

cANCer wil maar net die DA ‘n punt bewys. Jaloers omdat DA so goed doen in Wes Kaap. En die res onder cANCer vaar BAIE SLEGTER.

Danie ·

Kry net die voertuie padwaardig en die handels lisensies inplek, dit is mos die reels, maar hulle wil net maak wat hulle wil, julle het goed gedoen Stad Kaapstad om vas te staan

Jacobus ·

Wie gaan verantwoordelik gehou word en wie gaan betaal viir alles wat vernietig en geplunder is? Kaapstad glo al hierdie mooipraadtjies tot die volgende staking. Dit is reeds hulle wat die lokale treine vernietig en die stasies geplunder het om die enigste publieke vervoer te wees. Taxis hou hierdie land se pendelvervoer gyselaar en die tegering keur dit goed.

Linda ·

Hulle weet hulle kan doen net wat hulle wil en daar is nie nagevolge vir hulle nie.

Charles ·

Niks was geleer nie. Die feit dat daar n ooreenkoms en nie ‘n afskaffing van Santaco met arrestasies van die organisasie se top-vlak persone nie. Aanklagte van terrorisme, moord en saakbeskadiging ens nie. Ons het basies net geleer dat niks word gedoen aan n gevaarlike situasie en mense nie.

capie ·

Die treurige is dat die taxi bedryf dit voorhou dat die staking uitgerek is tot daar aan hulle eise voldoen is en “our people ” glo dit. So sal die anc dit ook propageer dat hulle die Weskaap tot die ooreenkoms oorreed het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Met ‘n slaagsyfer van 30% sal die lesse suksesvol wees.

Pietertjie ·

Volgende keer word dieselfde lesse weer geleer. En die jaar daarop wéér…

Jacobus ·

Jy is 100% reg en so sal dit aangaan tot die Weskaap gedaal het tot op die vlak van die res van die land.

Anel ·

Wat se lesse? Dat as jy nie maak soos die taxis sê nie, dan brand ons die land af? Gee nie ‘n duit om hoeveel hulle kwansuis verloor het nie, hoeveel belasting is hulle agterstallig? En wie gaan opruim en daarvoir betaal?

Schalk ·

Ai tog, hierdie nasionale sport(Strikes) is met ons om te bly, al les wat ons behoort te leer is elke keer wanneer daar gestrike word, dit meer gewelddadig is, elke keer meer skade, meer lewensverlies. Ons kort n Margaret Thatcher, nie n anc nie, nie n Winde nie, iemand wat sy/haar voet kan neersit en sê dit is nou klaar!!!

Jaco ·

Vanaf die 1980’s reeds het die vorige NP regering al hoe meer onderhandel. Toe ek en ander besorgde Afrikaners die NP en die Broederbond in die 1980’s en 1990 – 1994 gewaarsku het dat die onderhandeling nie gaan werk nie en hulle gewys het op hoe die res van Afrika lyk, dan het hulle ons uitgekryt as verkramp en rassisties. My waarskuwings het alles bevat wat vandag gebeur, maar eks afgeskiet met “jy is onnodig negatief” en “dit sal nie in SA gebeur nie”.
En nou????

Kokerboom ·

Jy kan hul NIE vertrou! Praat een ding en doen teenoorgestelde. Dit het al oor en oor gebeur en gaan weer!DA hou op mooi broodjies bak en dink jul kan met die mense onderhandel. Die ANC manipuleer jul en voel vere vir skades, geweld verwoesting. Hul blaas dit aan. Pas die landswette toe

Wiehan ·

Baie goed gedoen Geordin Hill-Lewis. Bly jy het ruggraat en nie van jou oorspronklike plan afgewyk nie. Hierdie land het leiers soos jy nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.