Lewenslank vir buurman ná moord op oumagrootjie

Annatjie Kruger saam met haar kleinkinders. (Foto: Verskaf)

Jan Rheeders gaan lewenslank tronk toe vir die moord op sy bejaarde buurvrou, Annatjie Kruger.

Meer as sewe jaar en sewe maande nadat Kruger (89) op Moedersdag in haar woonstel in Orkney in Noordwes grusaam om die lewe gebring is, is haar buurman in die rondgaande hooggeregshof in Klerksdorp lewenslange tronkstraf opgelê vir haar moord.

Rheeders is ook ʼn verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof. Dié twee vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Amor Adlem, Kruger se kleindogter, sê die familie is tevrede met die vonnis. En verlig.

“Ons familie kan nou begin genees en verlang na haar sonder hierdie donker wolk wat oor ons hang.”

Maroela Media het vroeër vanjaar berig die saak teen Rheeders was in ʼn stadium teruggetrek voordat staatsaanklaer Riekie Krause weer deur die dossier gewerk het en die saak in Februarie vanjaar opnuut op die hofrol geplaas is.

“Riekie Krause kon Oumie se stem wees en geregtigheid het geskied ten opsigte van geweld teenoor vroue en veral ʼn weerlose oumens … Al neem dit lank, hou moed en hou vas aan jou geloof,” het Adlem Donderdag ná die vonnis aan Maroela Media gesê.

Jan Rheeders (Foto: Verskaf)

Kruger se liggaam, geklee in haar kerkklere, is op 8 Mei 2016 op die vloer van haar slaapkamer aangetref. Haar dogter en kleindogter het onraad vermoed toe hulle haar nie in die hande kon kry om haar ʼn gelukkige Moedersdag toe te wens nie. Gemeentelede het ook die betrokke dag navraag gedoen aangesien Kruger nie soos dit haar gewoonte was dié Sondag in die kerk was nie.

Kruger se liggaam is omstreeks 17:00 daardie dag in haar woonstel aangetref nadat die polisie ontbied is om haar woonstel se deur oop te breek. Sy het ʼn snywond aan haar keel gehad.

Rheeders het Kruger goed geken en naby haar in ʼn klein kompleks in Orkney gewoon. Sy vervreemde vrou was saam met Kruger in die kerk. Hy het gereeld by haar geld geleen en briewe geskryf waarin hy geld gebedel het.

Rheeders het in die dae ná die moord selfs sy buurvrou se begrafnis bygewoon voordat hy in hegtenis geneem is. Die saak sou egter sewe jaar sloer voordat ’n uitspraak eindelik gelewer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

Die engelse het ‘n spreekwoord…. No good dead, goes unpunished.
Dankbaar dat die familie voel dat geregtigheid vir hulle geliefde geskied het. Vrede vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.