Lichtenburg se ligte al ʼn week af

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Inwoners van Lichtenburg moet al ʼn week lank sonder elektrisiteit klaarkom nadat ʼn kragmas van ʼn privaatverskaffer verlede Woensdagaand op Eskom se kraglyne geval het. Die voorval het groot dele van die dorp in duisternis gedompel én sedertdien ook sonder water gelaat.

“Toe die krag af is, het die gewone gebeur,” vertel Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes. “Terroriste het die substasie binnegegaan, al die olie gedreineer en al die koper van die groot transformator gesteel.”

Aangesien daar nie elektrisiteit is nie, kan daar ook nie water gepomp word nie.

“Ons het vir Eskom gevra om vir ons ʼn mobiele substasie te stuur om die dorp tot redding te bring, die nywerheidsgebied sit ook sonder krag, en talle mense kan nie kos maak nie. Dit is net blatant onaanvaarbaar dat inwoners so lank hiersonder moet klaarkom.”

Volgens die kragvoorsiener sal die dorp egter eers teen volgende week soos normaal kan voortgaan.

‘Dit is nag hier’

Kathy Vogel, VF Plus-raadslid in die Ditsobotla-munisipaliteit, sê daar is ʼn ellelange lys probleme in Lichtenburg.

“Die kragsituasie is ʼn nagmerrie. Ons sit reeds ʼn week sonder krag. Dit is regtig nag. Hier is mense wat hulle hele maand se inkopies verloor het omdat dit vrot geword het.”

Cherice van Blerk, ʼn inwoner van Lichtenburg, is een van daardie mense.

“Ons moes al ons vleis weggooi. Dit is groot skade. Ons moet ons selfone in die motor laai en die risiko loop dat die motor gesteel word, aangesien ons die sleutel in die aansitter moet laat. Daar is geen manier om te bad nie, ons moet maar nat lappies (“wet wipes”) gebruik om die ergste skoon te maak – in dié koue is dit vreeslik.”

Van Blerk sê die munisipaliteit verskaf ook geen antwoorde nie.

“Ons sit nou al ʼn week in die donker, letterlik en figuurlik. Ons kon vir drie dae nie eens ʼn toilet in die huis spoel nie. Dit was ʼn gemors. Daar is darem nou weer water, maar dit is koud want daar is nie krag om dit warm te maak nie.”

(Foto: Verskaf)

Nog ʼn inwoner van Lichtenburg, Erika Burger, ʼn ma van ʼn vyf maande oue baba, sê haar gesin kry nie gebad, wasgoed gewas of kos gemaak nie.

“Gas is wel vir sommiges ʼn opsie, maar dit is baie duur om elke keer die gasbottel vol te maak veral as ʼn mens nie geld het nie.

“Ek sukkel ook om melk aan te maak vir my baba, my baba huil van die honger terwyl die water moet kook. Dit vat lank.

(Foto: Verskaf)

“Buiten dit het my hele maand se vleis en kos in die vrieskaste vrot geword, en ek het nie geld om nog te koop nie,” sê Burger.

Gerda Visser, ʼn inwoner van Lichtenburg, is net so moedeloos.

“Ons kan nie in die nag slaap met dié krisis nie, dit is pikgitdonker en daar word verskriklik in Lichtenburg ingebreek. Ons laai ons ligte in die bietjie son wat ons het. Dit is baie koud hier.

“Ons kan nie eens kos maak nie, die gas bly leegloop, hier is nie eers meer gas op die dorp beskikbaar nie.

“Dit is regtig ʼn groot gemors hier, ons weet nie meer wie om te glo en wat om aan hierdie situasie te doen nie.”

ʼn Inwoner wat gevra het om anoniem te bly weens persoonlike redes vertel dit gaan veral swaar met die inwoners wat nie geld óf hulpmiddels soos kragopwekkers en gasstowe tot hul beskikking het nie.

“Niemand was voorbereid op die krisis nie. Ek bly in ʼn woonstel en hier is ʼn watertenk, maar hy kan net water pomp as die krag aan is.

“Ek spoel maar die toilet met gebruikte water wanneer ek regtig moet. Bad en stort is heeltemal uit.”

Dié inwoner het sedert Sondag nie minder nie as vyf sakke groente en vleis weggegooi omdat dit weens die kragonderbreking vrot geword het.

“Nou sit ek met niks. Ek kry die ander mense bitter jammer want buiten hierdie krisis is dit nog koud ook.”

Besighede trek swaar

Pienaar sê die ondernemings op die dorp trek ook swaar sonder elektrisiteit. “Dit is ʼn groot bekommernis, die fabrieke kan nie kos maak vir die voerkrale en die hoenderbedryf nie.

“Die slagpale sukkel om vee geslag te kry en kan dit nie koud hou nie. Dit is ʼn reuseprobleem om al hierdie take met ʼn kragopwekker te verrig en dit is doodeenvoudig onbekostigbaar.

Tutu de Bruyn, eienaar van ʼn haarsalon op Lichtenburg, sê die krag- en waterkrisis het ʼn geweldige invloed op haar onderneming.

“Die probleem verhoed ons om ʼn ordentlike diens te lewer. Ons verloor natuurlik geld en het al baie verliese gely. Ons het wel ʼn kragopwekker, maar ʼn haardroër kan nie aan ʼn kragopwekker gekoppel word nie. Een van ons haardroërs het reeds weens die probleem gesmelt.”

De Bruyn sê van die ondernemings in dieselfde gebou moet nou R1 000 per dag vir diesel vir die kragopwekkers hoes om net krag te kan hê om hulle sake te bedryf.

Pienaar sê dit is nie die eerste keer dat dorpenaars sonder krag of water moet klaarkom nie.

“Ons dorp is gereeld vir ʼn dag of twee sonder water, maar ons moes nog nooit so lank sonder hierdie basiese dienste klaarkom nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Roek ·

Jare daar gebly, wat ‘n pragtige dorp was dit nie , was so geskok toe ek laas daar was dit het verander in ‘n hool inteendeel baie hartseer ,die hele Wes Transvaal kry baie swaar , is dit omdat dit KP wereld was ?

melaney ·

Nee. Die hele Transvaal lyk so. Vrystaat nog erger. Noordkaap ook. Wanneer laas was jy in Johannesburg?

Roek ·

Elke dag , ‘n mens is stomgeslaan , in Johannesburg is daar baie mense en kan ‘n “mens”nog plan maak maar in platteland se dorpe is jy absoluut gesnooker !
Ek wil net noem dat ek Lichtenburg uitsonder omrede ek daar gebly het en besef ek alles het in ‘n toitetput verander !

Johan ·

Ek het self daar groot geword en was net so geskok toe ek dit weer sien,

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom Solidariteit, begin met inisiatiewe om jul lede in al die vervalle dorpies te hervestig in die Wes-Kaap. Die ankerdorp plan werk nie.

Papsak ·

Mense hulle behandel ons erger as diere dit is nou bad wie gaan daai mense se skades dra definitief nie regering hulle worrie mos niks nie

SjN ·

Danksy die onbevoegde Anc lyk al die plattelandse dorpe so in Noordwes.

Liesl ·

Ek het grootgeword op Lichtenburg, en ja, dit was ‘n pragtige dorp en heerlike plek om te woon. Dit is vreeslik hartseer. Ek is dankbaar dat my ouers nie meer daar woon nie.

annie ·

Mens kan dit nie meer in SA waag om jou hele maand se vleis-inkopies op eenslag te doen nie. Waarom? Dis al die pad moeilikheid.

Stofdonkie ·

Ek woon in Lichtenburg en dit gaan rof hier. Buiten vir 3 tot 5 inbrake ‘n week in my huis, sit mens dan ‘n week sonder water en elektrisiteit. Gelukkig het meeste huise al watertenks op, maar sonder elektrisiteit kan die water uit die tenk nie in die huis gaan nie, en kan die water ook nie warm gemaak word om te kan bad nie. Hier is egter baie mense wat bloot net nie die geld het om watertenks op te rig nie en dus maar moet klaarkom met die twee ure per dag water wat hulle kry. Ongelukkig is salarisse hier van so aard dat meeste mense ook nie kan bekostig om ‘n kragopwekker aan te skaf of sy petrol kan bekostig nie. Die dorp wat eens gespog het as pragdorp van NW is nou vervalle en geplunder tot ‘n punt waar mense amper nie meer hier kan leef nie. Alle dank gaan aan die anc en eff wat so hard werk om die dorp af te breek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.