Ligloop, plasings op sosiale media kan jou premie beïnvloed

Foto ter illustrasie. (Foto: Kamil Pietrzak via Unsplash)

Voordat jy daardie foto, video of inskrywing van jou peperduur diamantring, valskermekspedisie of jaagtog met jou blink sportnutsvoertuig op sosiale media plaas, wees bedag daarop dat dit dalk ’n invloed op jou versekeringspremie kan hê.

In sommige gevalle kan dié plasings selfs tot die kansellasie van jou versekering lei.

Peter Olyott, uitvoerende hoof van die finansiëledienstemaatskappy Indwe Risk Services, sê sosiale media bied allerlei nuwe geleenthede aan versekeraars om data van polishouers te versamel.

“Met die groot hoeveelheid persoonlike inligting wat op sosialemediaplatforms gedeel word, kan versekeraars hierdie inligting gebruik om hul polishouers se gedrag, leefstyl en risikofaktore beter te verstaan.

“Deur bewus te wees van hoe jou sosialemediagedrag jou versekeringsrisikoprofiel kan beïnvloed, kan jy jouself teen betwiste eise beskerm,” sê Olyott.

Hy verduidelik dat indien polishouers foto’s of inskrywings plaas wat byvoorbeeld duur items soos juweliersware of elektroniese toerusting in hul huise wys, dit hulle moontlik ʼn teiken vir diefstal kan maak en gevolglik hul huisversekeringsdekking beïnvloed.

Plasings oor jou bestuurgedrag, soos om te jaag of onder die invloed van drank te bestuur, kan nie net tot verhoogde motorversekeringspremies lei nie, maar selfs tot die kansellasie van ʼn polis.

“Wanneer dit by jou gesondheidstoestand kom, kan plasings daaroor op sosiale media moontlik jou gesondheidsversekeringsdekking beïnvloed, aangesien versekeraars hierdie inligting kan gebruik om jou risikovlak te bepaal en jou premies dan dienooreenkomstig aan te pas,” sê Olyott.

“Net so kan jou lewensversekeringsdekking en premies beïnvloed word as jy inskrywings oor hoërisiko-aktiwiteite maak, onder meer adrenaliensport of valskermspring.”

Beskerm jou dekking só

Olyott sê polishouers kan hul versekeringspolisse beskerm deur versigtiger te wees oor wat hulle op sosiale media deel.

Hy raai polishouers aan om plasings oor duursame items en hoërisiko-aktiwiteite te vermy.

Foto ter illustrasie. (Foto: Erik Lucatero via Unsplash)

“Indien jy wel die behoefte het om jou leefstyl op jou sosialemediaplatform te deel, probeer om dit eerder ná die geleentheid te doen en nie terwyl jy op pad is na jou volgende bestemming nie.

“Pas jou privaatheidinstellings op sosialemediaplatforms aan om die hoeveelheid persoonlike inligting wat vir die publiek sigbaar is, te beperk. Hersien jou versekeringspolis en praat met jou versekeringsverskaffer oor hoe sosiale media jou dekking kan beïnvloed.”

Olyott beveel verder aan dat polishouers oop kaarte met hul versekeraars speel oor enige veranderings in hul leefstyl of gedrag wat moontlik ʼn uitwerking op hul dekking kan hê.

Dit sluit in ʼn nuwe werk of nuwe stokperdjie.

Hy waarsku ook dat wanneer polishouers inligting op openbare sosialemediaplatforms plaas, dit wyer deur ander gebruikers gedeel kan word, en gevolglik deur ʼn groter gehoor gesien kan word.

Polishouers moet ook daarteen waak om omstrede plasings te maak of onvanpaste inhoud, waaronder ras-, geslag-, godsdienstige, politieke of seksuele inhoud, te deel. Selfs onvanpaste kommentaar op sosiale media kan polishouers glo in die sop laat beland.

“Die deel van persoonlike inligting op sosiale media kan onbedoelde gevolge op jou versekering hê. Deur bedag te wees op die inligting wat jy deel en jou versekeringspolis gereeld te hersien, kan jy help om jouself en jou dekking te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Is jou inligting nie veronderstel om as vertroulik gestoor te word op sosiale media nie.Wat het my vryheid van spraak op sosiale media met my versekering uit te waai.

Hennie Biebouw ·

Wat jy in die openbare domein plaas is nie vertroulik nie. Maw plasings wat met die publiek gedeel word. Maak dus seker dat jou “privacy settings” streng genoeg is. Selfs nog beter, dink jy voor jy enigeiets op sosiale media plaas…

Pampoen ·

Ek kry die idee dat versekerings maatskappye al hoe meer na verskonings soek om nie te betaal nie. Uiteindelik is dit net nie meer die moeite werd nie. Vat nou maar die storie waar die hael die kar geslaan het, maar die eis word afgekeur omdat die bande afgeloop is.

Hennie Biebouw ·

Net soos Las Vegas nie op wenners gebou is nie, is versekeringsmaatskappye ook nie gebou op die beginsel van eise uitbetaal nie…DIs een van daai dinge wat mens maar betaal, maar terselfdetyd hoop om nooit nodig te kry nie

Marthinus Johannes ·

Net soos die nuwe SA is, net daarop uit om Jan publiek uit te buit. Met al die bybetalings en beperkings is versekering ook nie meer die moeite werd nie behalwe om die versekeraar ryk te maak.

Linda ·

Is daar nog werklik enige vryheid, sars, misdaad alles wat jy se kan jou in diep water beland.

SwartBees ·

Dis hoe n kommunistiese staat werk…..GEEN vryheid van enige vorm nie. Kyk maar na die USSR n hele paar jaar terug. Dit begin alhoemeer in daai rigting neig.

Oosieoos ·

Sosiale media beskerm gladnie jou inligting nie al is hulle veronderstel om dit vertroulik te stoor. Vryheid van spraak op sosiale media het niks met jou versekering of enige iemand uit te waai nie. Sosiale media baie gevaarlik tyd om hul te verlaat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.