Losprys geëis vir munisipale bestuurder

Maggie Skhosana (Foto: Verskaf)

Die ondersoek na die ontvoering van die munisipale bestuurder van die Nkangala-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga en haar motorbestuurder vorder nadat nuwe inligting aan die lig gekom het.

Ondersoekers in die saak vermoed dat Maggie Skhosana en haar motorbestuurder, Gugu Mtsweni, se ontvoering oor meer gaan as net ʼn losprys vir hul vrylating.

Die twee word al dae lank vermis nadat hulle Donderdag helder oordag buite die hekke van dié munisipaliteit op Middelburg ontvoer is.

ʼn Spesiale taakspan van die private speurder Mike Bolhuis se Specialised Security Services (SSS), onder leiding van Morney Vos, is tans besig om die saak in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en verskeie gemeenskapsinstansies te ondersoek.

Vos het aan Maroela Media onthul dat hulle reeds spesifieke persone geïdentifiseer het wat moontlik by die ontvoering betrokke kan wees. Dié persone is glo deel van ʼn landwye sindikaat wat onder meer betrokke is by tenderbedrog, ontvoerings en allerlei ander ernstige misdade.

“Die families is reeds gekontak en die ontvoerders wil geld hê,” sê hy.

“Ons vermoed dat dit egter nie net oor die losprysgeld gaan nie. Baie groter dinge is hierby ter sprake, soos bedrog met betrekking tot tenders. Sy [Skhosana] was juis besig met die toeken van ʼn groot tender ten tyde van haar ontvoering.”

Nog niemand is egter al in verband met die voorval opgespoor of vasgetrek nie.

Die gekombineerde span van ondersoekers vermoed dat die twee vroue steeds lewend en ongedeerd is. Hulle kon egter nog nie vasstel waar die vroue aangehou word nie.

Bolhuis sê hierdie spesifieke ontvoering is veral erg omdat Skhosana in ʼn rolstoel is en boonop ʼn diabeet is wat chroniese medikasie benodig. Hy is bekommerd dat die beweerde ontvoerders nie hierop gaan ag slaan nie.

“Dit kan in ʼn ernstige mediese noodgeval ontaard as sy nie binnekort opgespoor word en die nodige medikasie kry nie.

“Dit wys jou net dat boewe soos dié geen genade het of dink aan die effek wat hul gierigheid op die mensdom het nie. Skhosana is baie geliefd en mense regoor die munisipaliteit is bekommerd oor haar welstand.”

Volgens Bolhuis word ontvoerings al hoe meer algemeen, juis omdat misdadigers weet dit is ʼn betalende misdaad en dat hulle gewoonlik daarmee kan wegkom.

“Ons wil die publiek opnuut maan om uiters waaksaam te wees en op hul hoede te bly.”

Vos sê sy span, SSS se kubermisdaadeenheid en Bolhuis se teenmisdaadeenheid onderleiding van Werner Koekemoer, werk goed saam met die polisie om die vroue te probeer opspoor. Die wenke wat van die publiek gekry word, is ook van onskatbare waarde.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het ook ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om met hul naaste polisiestasie in kontak te kom indien hulle enige inligting oor die ontvoering het.

Vos en Bolhuis kan onderskeidelik by 066 212 5193 en 082 447 6116 gekontak word indien die publiek nog inligting oor die saak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Selfoon netwerke MOET drasties en bitter vinnig met iets vorendag kom wat dit moontlik maak om onder enige en alle omstandighede n oproep binne n paar sekondes te kan trace!!!

Lillian ·

Tragies en hartseer dat ons land so verval het dat sulke tipe misdade (ontvoering, lospryse) aan die orde van die dag is.

My siening ·

Kaders sal nie die wil hê om sake van die aard hok te slaan nie!

Keelvol ·

Die ontvoerings ruk nou vinnig hand uit. Hoop die gemors word gevang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.