Luiperd-video: Dissiplinêre stappe gedoen, besoeker verban

‘n Skermskoot uit die video

Die besoeker aan die Krugerwildtuin wat op video vasgevang is waar hy ’n dooie luiperd herhaaldelik deur die gesig slaan, is verbied om weer die wildtuin binne te kom.

SANParke is ook besig met dissiplinêre stappe teen sy werknemers wat by die voorval betrek word. Een van sy werknemers is reeds vroeër geskors oor die voorval, wat op ʼn video vasgelê is en wyd op sosiale media versprei is.

Die voorval het plaasgevind nadat die luiperd op 17 Julie van kant gemaak is en die karkas verwyder moes word vir ʼn nadoodse ondersoek. Die luiperd is geskiet nadat ʼn werker in die Kruger Shalati-konsessie vroeër die oggend deur ʼn luiperd aangeval is. Dit was die tweede voorval in dié gebied die afgelope paar weke.

In die video kan gesien word hoe ʼn man langs die luiperd buk en die dier herhaaldelik deur die gesig slaan. Dié man is as ’n besoeker aan die wildtuin geïdentifiseer en mag nie weer die wildtuin besoek nie.

SANParke het vroeër gesê vier van die mense wat by die voorval betrek word, is sy werknemers. Drie ander is veldwagters, nog drie werk vir konsessies wat in die wildtuin bedrywighede het, terwyl nog iemand wat as omgewingsmonitor werk, ook betrek word.

SANParke het sy ondersoek na die voorval afgehandel en ’n verslag met aanbevelings is aan die SANParke-raad en die minister voorgelê oor maniere om die moontlikheid van soortgelyke voorvalle te voorkom.

“Die bestuursverslag het bevind dat amptelike beleide en prosedures gevolg is in die besluit en aksies wat gelei het tot die van kant maak van die luiperd,” het Ike Phaahla, woordvoerder van SANParke, gesê.

Dit was nadat ’n veldwagter bystand van omstanders gevra het om die karkas uit die bosse te verwyder, dat dinge verkeerd geloop het. Die voorval het in die Skukuza-omgewing, minder as 100 m van die werknemers se woonkwartiere af, plaasgevind.

“Nadat die luiperd doodgemaak is, het sommige inwoners in die pad saamgedrom. Daar is gevind dat die veldwagters nie voldoende voorsorgmaatreëls getref het om hierdie proses te beheer nie en dit was in hierdie stadium dat die voorval wat op video vasgelê is, plaasgevind het.”

Al die SANParke-werknemers wat by die voorval betrek is, is ondervra en het verklarings ingedien. “Dissiplinêre stappe word tans gedoen teen alle SANParke-amptenare sowel as die individu wat die voorval afgeneem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Perdeby ·

Sal graag wil weet hoe julle hom gaan verbied om weer in die wildtuin te kom?? Wie gaan hom herken??

Swerwer ·

Wys maar net weereens die mentaliteit wanneer opvoeding ontbreek

Swerwer ·

Wesens is nie deur hul ouers opgevoed om diere te versorg en beskerm nie. Vernietiging is al wat by hul tel.

H.A. ·

‘Dissiplinere stappe word tans gedoen teen amptenare en die indvidu wat die voorval afgeneem het’ dit lyk mos vir my of hulle die voorval onder die mat wou invee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.