Ma kan nog nie ‘vergewe en vergeet’ ná plaasmoord

Deon de Bruyn (Foto: Verskaf)

“Daardie mans het my ook op daardie dag doodgemaak, sonder om my asem uit te haal.”

Susan de Bruyn se lewe het handomkeer verander toe haar seun, Deon de Bruyn (25), op 17 Junie 2018 op ’n plaas naby Komatipoort, Mpumalanga, doodgeskiet is. Ná vier jaar sukkel sy steeds om met haar lewe aan te gaan en mis sy haar seun elke dag.

Deon se dood het ’n emosionele tol op die De Bruyn-gesin geëis en volgens Susan kan sy nie net “vergewe en vergeet” nie.

Boonop wag die gesin nog in spanning dat Deon se moordenaars se hofsaak afgehandel word.

Maroela Media het vroeër berig vyf beskuldigdes is kort ná die voorval in en om Tonga vasgetrek, terwyl die ander twee sowat drie maande later aangekeer is. Die verdagtes is almal borgtog geweier en is sedertdien in aanhouding.

Die sewe verdagtes, Derrick Makamo, Rawul Mhlanga, Sifiso Madonsela, Solomon Msimango, Oscar Chauke, Hendry Manonga en Fanie Mkhabela, word onder meer van moord en poging tot moord aangekla.

Die saak is keer op keer om verskeie redes uitgestel en die Covid-19-pandemie het die hofsaak net nog verder vertraag. Volgens Susan het die regter die feit dat die hofsaak onnodig uitgerek word, voor die beskuldigdes se deur gelê omdat dié elke keer met ’n ander verskoning vorendag kom waarom die saak nie kan voortgaan nie.

Die verhoor het eindelik vroeg vanjaar in die hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit) afgeskop en die staat het reeds sy saak gesluit. Die verdediging sou einde Mei sy getuies begin roep, maar het uitstel gevra omdat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers siek was.

Die verhoor sal na verwagting op 11 Julie voortgaan.

Geen berusting

Deon se ouers, Deon sr. en Susan.

Hoewel dit vir die egpaar moeilik is, woon Susan en haar man, Deon sr., elke hofsaak by. Volgens Susan lyk dit nie of die moordenaars enigsins berou toon nie.

Susan glo egter nie dat sy na afloop van die hofsaak berusting sal vind nie. “Daardie mans het ons lewens opgefoeter. Ek lewe, maar is eintlik dood. Niks sal my seun terugbring nie.”

Volgens Susan is die verhoudings tussen lede van die gesin ook besig om te verbrokkel. Afgesien van Deon se ouers, word hy ook deur sy 32-jarige suster en 28-jarige broer oorleef.

“Ek het gedink Deon se moord sou ons gesin nader aan mekaar bring, maar die bande tussen ons is nie meer so sterk soos wat dit was nie. Ek kan nie eers saam met my kinders sit en braai nie, dit voel nie reg sonder Deon nie.”

Daar gaan nie ’n dag verby wat Susan nie vir Deon mis nie. “Sy dood vreet aan my soos kanker. Dit eet my van binne af op, totdat daar eendag niks oorbly nie.”

Susan wil hê Deon se familie en vriende moet oor hom praat en hom nie vergeet nie.

Die kruis vir Deon

“Ek praat nog van my seun asof hy lewe, en ek wil hê ander mense moet dit ook doen. Ons moet keer dat hy in die stelsel van plaasmoorde verlore raak.”

Die plaas – Simonsvlei – waar Deon gewoon het, herinner Susan gedurig aan haar oorlede seun. Die De Bruyns woon steeds op dié plaas. Hulle het ná Deon se dood veiligheidskameras laat opsit en die algehele veiligheid van die plaas opgeskerp.

“Ek het aan die begin glad nie veilig gevoel nie en kon nie ’n oog saans toemaak nie, maar dit het beter geword met tyd.”

Deon het saam met Estelle Jansen, wat vir hom soos ʼn “tweede ma” was, op die plaas met suikerriet, mango’s en groente geboer. Deon is tydens die aanval net bo die hart geskiet en Estelle is drie keer geskiet. Deon is op die toneel dood.

“Party keer wanneer ek by die plaashek inry, dink ek steeds daaraan hoe my kind vir die laaste keer in ’n lykswa by dié hek uitgery het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antie Sarie ·

Die twee vreeslikste dinge wat met n mens kan gebeur, as wanneer n ma n kind verloor, en n kind n ma verloor. In beide gevalle gaan daar n deel van jou dood, wat nooit weer in hierdie lewe sal wakker word nie. En as iemand dit veroorsaak het, verdien hulle nie vergifnis nie. Want s iemand is net jammer omdat hulle gevang was

AH ·

My hart bloei vir jou en ek kan my regtig nie indink hoe jy voel nie, net dat dit verskriklik moet wees. Ek het my Ouers, my Suster en my Man aan die dood afgestaan en dit was/is baie moeilik om berusting te vind al was dit in alle gevalle a.g.v. natuurlike oorsake. Ek sou self nie kon vergewe en vergeet nie, maar ek wil ‘n beroep doen op jou om nie jou kinders wat jy nog by jou het weg te stoot nie! Jy kan nie jou oorlede seun terugkry nie, maar jy kan die herinneringe aan hom koester sonder om die ander kinders af te skeep. Nou is die tyd wat julle almal mekaar nodig het en ‘n sterker band kan vorm en jou geliefdes wat nog by jou is te koester en elke oomblik wat julle nog vir mekaar gespaar is te geniet en voort te gaan om nog mooi herinneringe te skep. Braai saam met jou familie en vriende, hou saam met hulle vakansie, spandeer kwaliteit tyd saam met hulle want dit beteken nie dat jy van Deon vergeet het nie. Jy dra hom immers in jou hart so hy is altyd saam met julle.

anniekiewiet ·

Ek wil vra dat jy vir pastorale berading gaan en jou hartseer oorgee aan Christus. Jou seun sou nie wou hê jy moet so haat, en onvergewensgesind wees, dat die res van sy familie van jou vervreemd raak nie. Jy kan nie wil hê jou en almal se lewe moes op daardie dag opgehou het nie, die lewe gaan aan. Hou op om ‘gif te drink’ , en te hoop sy moordenaars gaan daarvan ‘doodgaan’. Begin lewe in die goeie en liefde wat jou seun geleef en vir jou nagelaat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.