Magsafwenteling gewild by SA kiesers

(Foto: Reint Dykema)

Die meerderheid Suid-Afrikaanse kiesers meen provinsiale regerings moet meer mag hê om dienste te lewer én self wette en beleid te formuleer. Dit blyk duidelik uit die jongste meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) oor die onderwerp.

Daarom sê ʼn kenner sommige partye sal juis in die komende verkiesing op dié kwessie fokus om stemme te werf.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Volgens die peiling meen sewe uit tien geregistreerde kiesers provinsiale regerings moet die mag hê om dienste oor te neem waar die nasionale regering misluk met dienslewering.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Kiesers van verskillende ouderdomme, inkomstevlakke, rasse, taalgroepe en partyaffiliasies huldig ʼn positiewe houding jeens magsafwenteling van dienslewering na provinsiale vlak.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Wat betref die mag van provinsies om meer wette en beleid te formuleer, is kiesers effens meer verdeeld. Bykans ses uit tien kiesers steun dié gedagte.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Net 47% van Afrikaans-huistaalsprekers stem egter hiermee saam, terwyl 70% van Engelssprekendes, 70% van Zoeloesprekendes en 54% Xhosasprekendes dié voorgestelde regeringsvorms in ʼn wisselende mate steun.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Wanneer dit by partyaffiliasie kom, stem net 39% van DA-ondersteuners saam dat provinsiale regerings hul eie wete moet kan maak. EFF-ondersteuners is skynbaar die ywerigste om meer wetgewende magte na provinsies af te wentel, met 70% van EFF-kiesers wat dit steun, al vorm dit glad nie deel van die EFF se beleid nie. Altesaam 63% van ANC-kiesers ondersteun afwenteling van magte.

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Werklikheid, eerder as politieke beleid

Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, is die toenemende gewildheid van magsafwenteling hoofsaaklik toe te skryf aan die veranderende politieke werklikheid, eerder as politieke partye se eie beleidsoorwegings.

“Die breë staatkundige orde is besig om te ontplof in terme van geweld en onstabiliteit en in te plof in terme van die disintegrasie en wanfunksionele strukture.”

Hierdie verval opper toenemend die vraag: “As die sentrale owerheid nie meer sy rol kan vervul nie, watter instellings moet en kan dit hanteer?”

Duvenhage sê partye verbind hulself oor die algemeen nie vreeslik sterk tot die desentralisering van mag nie.

Partye wat hulself wel in dié arena bevind, is die VF Plus en toenemend ook die DA, verduidelik Duvenhage.

Omdat kiesers weens die vervallende werklikheid egter so sterk oor die kwessie voel, meen Duvenhage ons sal wel magsafwenteling op sommige partye se verkiesingsagendas in 2024 sien.

“Veral soos wat partye meer identiteitsgedrewe raak en verskillende vorms van selfbeskikking begin najaag, veral in die Wes-Kaap en selfs KwaZulu-Natal, sal dié kwessie na vore tree.”

Die Referendum Party is juis in Oktober gestig met die uitsluitlike doel om onafhanklikheid vir die Wes-Kaap te beding.

Duvenhage meen meer gematigde partye sal weer simpatiek hierteenoor staan, terwyl meer radikale partye soos die ANC en EFF, wat meer ten gunste van nasionalisering en sentralisering is, hierdie tendens ten sterkste sal teenstaan.

Dit is deels omdat die ANC ʼn magsverlies beleef in dié gebiede waar magsomwenteling wel plaasgevind het, sê Duvenhage. Oor hoekom so baie EFF-kiesers dit wel steun, sê Duvenhage dié kiesers is waarskynlik politieke opportuniste wat dit waarskynlik om eie gewin steun. “Ons moet die EFF sien as ʼn party wat enige hoek en stel sal speel om mag te bekom, al is dit nie konsekwent nie.”

Hy sê selfs waar bepaalde formasies na afloop van die 2024-verkiesing tot stand kom, sal dit nie so eenvoudig wees om mag af te wentel nie, omdat dit grondwetlik gesproke baie moeilik is.

“Die tipe magsafwenteling wat ons veel eerder gaan sien, is die afwenteling wat voortvloei uit staatkundige verval en gepaardgaande staatsabdikasie.”

Volgens Duvenhage is die vraag ook of provinsies hierdie funksies suksesvol kan oorneem.

“Die uitsondering is die Wes-Kaap wat in meeste opsigte goed bestuur word. Die meeste ander provinsies is gedeeltelik of grootliks disfunksioneel. Verder het plaaslike regerings omtrent in 80% van gevalle reeds in duie begin stort. Mag kan dus nie noodwendig suksesvol na hulle afgewentel word nie.”

Daar waar selfs provinsiale of plaaslike regerings nie pligte kan opneem nie, ontstaan gevolglike “parallelle strukture wat probeer om die take van die staat oor te neem”.

Private instellings betree hierdie ruimte met die doel om “pligte van die staat oor te neem” waar die staat weens verval “in der werklikheid reeds sy pligte geabdikeer het”.

“Hierdie is egter nie ʼn grondwetlike proses nie en geskied ook nie met die goedkeuring van die staat nie, maar eerder weens die staat se onvermoë om daardie pligte self na te kom.”

Duvenhage meen dit is belangrik om onderskeid te tref tussen hierdie de facto-magsafwenteling en bewegings of partye wat vanuit ʼn beleidstandpunt desentralisering in beginsel voorstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

…so die A en C gaan vir jou luister nadat hulle in 2024 weer die verkiesing gewen het? …”dream on!”

KB ·

Wie het díé peiling gemaak?
Hoe groot was die steekproef?
Waar is die steekproef gedoen?
Wie het deelgeneem aan die steekproef, watter ouderdomsgroep, ras, geslag…?
Dit is sulke inligting wat van die lesers verswyg word, en maak dus enige aannames/afleidings daaruit twyfelagtig (en bloot ʼn bespiegeling/opinie).

annie ·

Die nuwe planne wat in 2024 skielik die land gaan regruk sal makliker slaag as ‘n rit na Mars, so hoop die opportuniste op die doofmiddel ‘Hoop’. Dieselfde mense woon en werk steeds hier. Daar is steeds nie ‘n entstof teen skelm en lui nie. En geloof in die Vader en die onderhoud van Sy wette is steeds nie aanvaarbaar nie. Nou moet ons weer teen ons beterwette die nuwe argitekte ondersteun? Huh!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.