Magudumana moet agter tralies bly

Nandi Magadumana (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Deur Daniel Steyn en Becker Semela, GroundUp

Die veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, se vriendin, Nandipha Magudumana, se borgtogaansoek is Maandag in die landdroshof in Bloemfontein van die hand gewys.

Landdros Estelle de Lange het bevind dat Magudumana ʼn vlugrisiko is en indien sy op borgtog vrygelaat word, “sal niks in haar pad staan” om Bester te help om weer uit die tronk te ontsnap nie.

Magudumana staan tereg op aanklagte wat verband hou met Bester se ontsnapping uit die tronk in Mei verlede jaar. Dit sluit in hulpverlening tydens ʼn ontsnapping uit aanhouding, die skending van liggame en bedrog.

Magudumana is in April vanjaar saam met Bester in Tanzanië in hegtenis geneem en word sedertdien in die Kroonstad-gevangenis aangehou.

Sy het in haar borgtogaansoek aangedui dat sy van plan is om by ʼn vriendin in Sandton tuis te gaan indien sy op borgtog vrygelaat word. Magudumana het ook aangevoer dat sy nie landuit kan vlug nie omdat daar tydens haar inhegtenisneming op haar paspoort beslag gelê is.

Magudumana het vroeër beweer dat Bester haar teen haar sin ontvoer en na Tanzanië geneem het.

Die landdros het in haar uitspraak bevind daar is egter min bewyse om dié bewering te staaf. De Lange het gesê alle beskikbare bewyse dui daarop dat Magudumana verkies het om haar kinders en onderneming in Maart vanjaar in Suid-Afrika agter te laat om saam met Bester landuit te vlug.

Wat die paspoort betref, het De Lange gesê die bewyse dui daarop dat Magudumana nie regtig ʼn paspoort nodig het om die land te verlaat nie. Dit is met verwysing na Magudumana en Bester se inhegtenisneming in Tanzanië.

“Hulle het verskeie grensposte oorgesteek sonder om haar paspoort te gebruik,” het De Lange bevind.

De Lange het beslis geen borgtogvoorwaardes sal voldoende wees om Magudumana te verhoed om soortgelyke misdade te pleeg as dié waarvan sy aangekla word nie.

“Die verdagte staan tereg op aanklagte van ʼn ernstige aard – van oneerlikheid en bedrog. Sy sal waarskynlik tot ʼn lang tronkstraf gevonnis word as sy aan die misdade skuldig bevind word.”

Volgens De Lange lyk Magudumana tydens haar hofverskynings “goed versorg” en die hof het geen klagtes ontvang oor die toestande waaronder sy aangehou word nie. Die landdros het voorts beslis dit is nie in die belang van geregtigheid om Magudumana op borgtog vry te laat nie.

Magudumana sal weer op 11 Oktober saam met haar 11 medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Staat se saak

In ʼn beëdigde verklaring wat tydens Magudumana se borgtogaansoek by die hof ingedien is, het die ondersoekbeampte, lt.kol. Tieho Flyman, gesê dat Magudumana en Bester die “baasbreine agter Bester se ontsnapping was”.

Volgens Flyman het Magudumana en Bester ʼn tronkbewaarder, Senohe Matsoara, miljoene rande belowe indien hy met die ontsnapping sou help. Hy is volgens Flyman egter net R85 000 betaal. Matsoara het ook ander amptenare gewerf om met die ontsnapping te help.

Klagte staar nege werkers van die Mangaung-tronksentrum tans in die gesig wat verband hou met Bester se ontsnapping.

“Bester het owerhede laat glo dat hy homself aan die brand gesteek het. Hy het ʼn verbrande liggaam wat onherkenbaar verbrand het in die sel agtergelaat voordat hy ontsnap het,” het Flyman gesê.

Flyman het aan die hof gesê dat Magudumana volgens die polisieondersoek in die dae voor die ontsnapping in Bloemfontein gebly en ʼn liggaam op bedrieglike wyse van die staatslykshuis geëis het.

“Sy [Magudumana] het beweer dat die liggaam dié van haar pa is. ʼn Begrafnis is gehou en ʼn kis vol vleis is begrawe.”

Volgens Flyman was die eerste poging tot ontsnapping onsuksesvol en die liggaam is in ʼn rivier in Bloemfontein gestort.

Sowat ʼn maand later het Magudumana ʼn tweede liggaam by ʼn hospitaal in Bloemfontein geëis, het Flyman gesê. “Hierdie liggaam is later as dié van Katlego Bereng geïdentifiseer. Bereng se liggaam is by Bester se tronksel ingesmokkel en verbrand.

“Magudumana het toe die verbrande liggaam, wat destyds vermoedelik Bester was, van die staatslykshuis geëis en beweer dat sy Bester se meisie was. Sy het gereël dat die lyk na Johannesburg geneem word om veras te word. Die polisie het egter op die lyk beslag gelê.”

Magudumana het toe die Pretoriase hooggeregshof genader en gesê sy is Bester se gemeenregtelike vrou.

Flyman het aangevoer dat Magudumana se beëdigde verklaring in die hofsaak bedrieglik was en dat haar regsverteenwoordiger, Vuyo Manisi, ʼn bedrieglike hofbevel gesirkuleer het en nie die een wat deur die hof gegee is nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karoo ·

Nice try… but no cigar!!!! Gelukkig sien hulle dwarsdeur haar Krokedil trane.

SjN ·

Jy het die keuse self gemaak uit vrye wil, was lekker grootmond in Tanzanie, die wiel draai, kry vir jou.

Johann ·

Shame. Ontneem van al haar luukshede. Gedwing om saam met die moordenaar te bly en vlug.

Tink ·

So bly sy kon nie borg kry nie. Ek het gedink sy gaan WEER wegkom met moord. In die land met sy politiek is alles moontlik. Sy het ook gedink sy gaan los kom,dankie tog vir dit!!!!

Wondermaarnet ·

Jy het mos klomp paspoorte nes Bester. Hahahah jou bubble is gebars toe die landdros jou planne in die wiele ry en borgtog weier.

Kobus ·

As ek so na haar uirusting en grimering kyk wanneer sy in die hof verskyn blyk dit dat sy ‘n goeie lewe in die tronk lei.

donsie ·

Kan iemand vir my se hoe kry sy daardie lang gel naels in die tronk. vanoggend op die tv nuus gesien sy het netjiese groen lang naels

JohanR ·

Trust hierdie een nie een bietjie nie. Agt uur later sal sy by Patricia de Lille se R37 miljoen draad daar by Beit Brug wees en probeer om die Limpopo oor te steek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.